Alzheimer vroetelvoorskoot-inisiatief is ‘n Tooi Turkoois hoogtepunt vir Ons Tuis
Die uitdeel van vroetelvoorskote aan Ons Tuis-inwoners wat aan Alzheimer se siekte ly hierdie komende Saterdag beloof om die ‘n hoogtepunt te wees. Die veldtog wat op bejaardesorg fokus vind jaarliks vanaf 15 Mei tot 15 Junie plaas.
“Die idee om vroetelvoorskote vir Ons Tuis se Alzheimer-pasiënte te maak, het in November 2019 vlam gevat. Beurtkrag en die Covid-inperkings het die projek egter gekniehalter. Maar ons is ongelooflik opgewonde om uiteindelik nou 12 vrouevoorskote, ses mansvoorskote, ses skinkbordlappies vir mense in rolstoele en vier vroetelkussings op 5 Junie aan Ons Tuis-inwoners van die Alzheimers-versorgingseenheid in Pretoria te oorhandig,” sê Elmien Botha, skriba van die algemene diakensvergadering (ADV) van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.
Volgens haar vroetel en trek persone met Alzheimers se siekte gedurig aan hul klere, komberse en kussings. Wanneer hul niks het om hul hande mee besig te hou nie, is hul ook geneig om hulself seer te maak deur aan hul lywe en hande te begin byt en krap.
“Amper net soos wanneer ‘n mens kinders met ‘n speelding sou sus of kalmeer kan jy hierdie persone met hierdie tipe ‘besighou-items’ rustig maak,” verduidelik sy.
Die konsep was om soveel moontlik items waarmee ‘n persoon kan vroetel en speel stewig aan ‘n voorskoot vas te werk. Uiteraard moet dit hulle nie kan beseer nie en sluit daarom items soos ritssluiters, knope, toutjies, linte, lappies en skuurpapiertjies met verskillende teksture, poppies, beertjies en bolletjies wol in.
“Alles op hierdie interessante voorskote moet stewig vasgewerk word sodat dit op geen manier losgetorring kan word nie Ander vroetelprojekte wat in die verlede sinvol vir Alzheimers-pasiënte aangepak is, was ook die maak van vroetelmoue wat oor die arms aangetrek kan word,” verduidelik Botha.
Volgens Andries Pretorius, vise-voorsitter van die ADV van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, is verskeie persone, instansies, kerke en groepe by die maak en uitrol van hierdie unieke projek betrek.
“My vrou, Hanlie, en ‘n paar familielede het ‘n handwerkgroepie wat saam brei-, hekel- of naaldwerk doen. Tot ‘n niggie van my wat nou in Duitsland woon het van die projek te hore gekom en iets vir die voorskote gemaak en gepos. Soos hulle sê: aanhouer(s) wen!” sê hy trots.
Volgens ds. Frikkie van Wyk, die voorsitter van direksie van Ons Tuis, skep inisiatiewe soos Tooi Turkoois die geleentheid om kritieke aspekte rondom bejaardes uit te lig en aan te spreek.
“Bejaardes in Suid-Afrika is ’n groep mense wat erg negatief deur beperkte dienste en verswakte instellings geraak word. Om nie eers van hul kwynende pensioenfondse en beleggings wat deur inflasie opgevreet word te praat nie,” sê hy.
Volgens hom is die Ons Tuis-groep se tehuise landwyd sedert middel Mei in turkoois geklee: van bome wat toegespan word met lappe, banniere, oulike T-hemde tot kompetisies om die gemeenskap aan te spoor om aan Tooi Turkoois-fondsinsamelingsprojekte deel te neem.
“Ons is waarlik trots op die meelewendheid en die gemeenskap se betrokkenheid en omgee vir bejaardes,” sê Van Wyk.
Altesaam 12 vrouevoorskote, ses mansvoorskote, ses skinkbordlappies vir mense in rolstoele en vier vroetelkussings sal op Saterdag, 5 Junie aan Ons Tuis-inwoners van die Alzheimers-versorgingseenheid in Pretoria oorhandig word.
Items waarmee die pasiënte hul hande kan besig hou (soos ritssluiters, knope, toutjies, linte, lappies en skuurpapiertjies met verskillende teksture, poppies, beertjies en bolletjies wol) is stewig hierop vasgewerk.
Ons Tuis sê dankie aan hierdie groepie raakvat vrouens! Van hulle is Sarie Pretorius, Adrie Janse van Rensburg (foto bo), Greta Engelbrecht en Martie Oelofse (foto onder).