Die inwoners van Ons Tuis Piet Potgieter in Mokopane het breed geglimlag toe hulle vandeesweek weer die buitewêreld kon beleef, hoewel dit onder streng riglyne en sonder enige fisiese kontak was.
Sedert Suid-Afrikaners 91 dae gelede ingeperk is, is dit bejaardes wat besonder erg deur die afsondering getref is. Die Ons Tuis tehuise in Pretoria, Parys en Mokopane leef inderdaad nog nader aan die Vlak-5 regulasies as die res van die land omdat bejaardes meer kwesbaar is om deur COVID-19 aangetas kan word.
Met dit in gedagte het Ons Tuis Piet Potgieter besluit om op 24 Junie 2020 ‘n ‘Grendelkuier’ aan te bied. Tydens die geleentheid het inwoners se familie en vriende, asook lede van die gemeenskap ‘n draai gemaak by die tehuis en op ‘n veilige afstand die inwoners gegroet.
“Die kinders en ons inwoners was so dankbaar oor hierdie kuiertjie,” sê mev. Mariana van Tonder, die bestuurder van die tehuis. “Omdat dit so erg is vir die bejaardes om hulle kinders en kleinkinders so min te sien, het ons besluit om volgende week weer ‘n soortgelyke kuiertjie aan te bied.”
Tydens die ‘Grendelkuier’ het besoekers ook lekkernye en nie-bederfbare produkte by die tehuis afgelewer.
Vir media navrae kontak:
Daleen De Jager Gouws – Kommunikasie/Bemarking: Ons Tuis
Sel: 081 233 8351
Mariana van Tonder – Bestuurder: Ons Tuis Piet Potgieter
Tel: 015 491 6315