Ons Tuis > nuus  > Bejaardes van Ons Tuis Piet Potgieter Tehuis nooi jou uit na hul jaarlikse Kersliggiefees

Bejaardes van Ons Tuis Piet Potgieter Tehuis nooi jou uit na hul jaarlikse Kersliggiefees

Die uiters gewilde jaarlikse Kersliggiefees ten bate van die Ons Tuis *Piet Potgieter tehuis vir bejaardes, is om die draai en inwoners van Mokopane (Potgietersrus) en omgewing kan uitsien na ‘n program gevul met Kersvreugde.

Die fees skop op 1 Desember af met die Kersmark wat bestaan uit verskeie kosstalletjies en stalletjies met handgemaakte goedere waar jy sommer jou Kersinkopies kan doen. Die Kersliggiefees spog ook met gaskunstenaars Gert van Tonder en die Grafsteensangers en bied vermaak vir oud en jonk.

“Ons inwoners en die hele Mokopane sien elke jaar uit na die Kersliggiefees en dit is vir ons lekker om die tehuis in 15km se liggies te tooi in die aanloop tot Kersdag,” sê Mariana van Tonder, die organiseerder. “Die fees bied aan inwoners die geleentheid om bande met die gemeenskap te smee en lekker saam te kuier. Dit is ook ‘n manier om die tehuis se fondse aan te vul om sodoende die inwoners se verblyf en geriewe te verbeter. Ons tehuise ontvang slegs ‘n klein subsidie van die staat en is daarom op hulself aangewese om die nodige fondse in te samel.”

Die Kersliggiefees word vanaf Dinsdag, 1 Desember 2020 tot Vrydag, 25 Desember 2020 aangebied. Die Kersmark (1 en 4 Desember) begin om 17:00 waarna die kersliggies aangeskakel word sodra dit donker genoeg is. 1 Desember Kersmark-vermaak sluit in Marshall Gymnastic Academy se vertoning, K9-demo deur die plaaslike hondeskool, Z’s Dance Studio en Thys Gouws.

Op 4 Desember word die dansskool, Dansmuis se konsert aangebied word teen R10 per persoon. Die sanger Gert van Tonder tree op 8 Desember teen R50 per persoon op en die Grafsteensangers tree op 12 Desember teen R100 per persoon op. Beide vertonings vind plaas in die aftree-oord se saal (Rabestraat 59, Mokopane) en verversings sal op die terrein beskikbaar wees. Die liggies kan elke aand van 1 tot 25 Desember by Hoogtestraat 60 besigtig word teen ‘n toegangsfooi van R10 per persoon. Verversings slegs beskikbaar tydens die Kersmark (1 & 4 Des) en gaskunstenaars se optredes (8 & 12 Des).

“Ons almal ken die aha!-oomblik waar jy skielik die lig sien en alles sin maak. Met  Jesus Christus se verskyning in die wêreld, het Die Lig na die aarde toe gekom. Die Lig het gekom om die donkerte in ons lewens weg te neem. God het sy deernis met die wêreld getoon en daarom verstaan ons iets van die Ewige Lig wat Jesus uitstraal. Die Kersliggiefees is ‘n simbool van daardie lig,” sê van Tonder.

Volgens van Tonder maak God ons oë en harte oop vir Sy Lig, God gee aan ons die vermoë en die gawe om Sy teenwoordigheid te herken en Sy nabyheid te ervaar. Die Kersliggies wat by Piet Potgieter Tehuis hierdie spesiale feesseisoen gaan skyn herinner ons aan Jesus se Lig.

 

  • Kaartjies vir Gert van Tonder en Grafsteensangers kan weeksdae gedurende kantoorure by die tehuis gekoop word. Skakel 015 491 6314/5.

Kom geniet die wonder van Kersfees saam met Ons Tuis Piet Potgieter ten bate van bejaardes:

 

Datum:     1 – 25 Desember 2020

Tyd:          17:00 – 20:30

Plek:         Piet Potgieter Tehuis;

Hoogtestraat 60, Mokopane.

Kunstenaaroptredes vind plaas in die aftree-oord saal: Rabestraat 59, Mokopane

Navrae:    Mariana van Tonder

015 491 6314 / 082 804 6854 of

marianavt@otmt.org

 

COVID-19 veiligheidsmaatreëls sal toegepas word.

 

Vir media navrae kontak:

Mariana van Tonder

Bestuurder: Piet Potgieter Tehuis en organiseerder van die Piet Potgieter Kersliggiefees 2020

Sel: 082 804 6854

 

*Die Piet Potgieter Tehuis is deel van die Ons Tuis fasiliteite met agt tehuise onder een vaandel. Piet Potgieter Tehuis bied ‘n 24-uur allesomvattende diens vir 78 verswakte bejaardes, waarvan 28 demensie of Alzheimer se siekte het.