Die jaarlikse Brille en Pille Motorfietsrit en Kleurdraf is een van die vele geleenthede wat die *Piet Potgieter tehuis vir bejaardes in Mokopane (Potgietersrus) deur die jaar aanbied om aktiewe veroudering van inwoners te bevorder en om fondse vir die tehuis se funksionering in te samel.
“Die motorfietsrit en pretdraf bied aan inwoners die geleentheid om bande te smee met die gemeenskap,” sê Mariaan van Tonder, die organiseerder. “Die basaar wat ook deel van die dag se verrigtinge is, is ‘n manier om die tehuis se fondse aan te vul om sodoende die inwoners se verblyf en geriewe te verbeter.”
Die Brille en Pille Pretdag en Basaar wat op Saterdag 2 November 2019 by die tehuis aangebied is, was ‘n volslae sukses.
Afgesien van verskeie kosstalletjies met pannekoek en jafels is die inwoners se handvlyt soos naaldwerk, tuisgebak en ander handewerk te koop aangebied. Teen 11:00 het ‘n massa motorfietsrit deur die dorp afgeskop.