Wanneer die voorreg jou toeval om in goeie gesondheid jou sestigste huweliksherdenking te vier is dit besonders. Maar soveel méér as jou jarlelange vriend en strooijonker dit kan meemaak en julle elke dag kan saamkuier omdat jul in dieselfde aftree-oord woon!
Hierdie feestelike stemming het by Ons Tuis: Machteld Postmus in Pretoria afgespeel toe ds. Nico (83), ‘n emeritus predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), en Henriëtta (81) Brayshaw hul diamantbruilof op 25 November gedenk het. Die Brayshaws is op Ermelo in die eg bevestig deur prof. Schalk Botha en die trotse ouers van drie kinders en ses kleinkinders.
“Hierdie mylpaal is op ‘n voortreflike manier voorverlede week by die tehuis met ‘n musiekuitvoering deur Rynier Prins, ‘n koek en tee plus ‘n spesiale spabederf vir die tweetjies in hul woonstel gevier. Hul enigste dogter, Henriëtta Muller, het dié spesiale reëlings uit Australië vir hul getref. Wat aan die dag ekstra betekenis gegee het was dat hul strooijonker, dr. Daan van Wyk — ook ‘n inwoner van Ons Tuis: Machteld Postmus is — dit ook kon meemaak,” sê Heleen van As, woordvoerder van Ons Tuis.
Volgens Henriëtta is hul geheim vir ‘n gelukkige en lang huwelik om God met hul hele hart, siel en verstand lief te hê en altyd positief, nederig en opreg te wees. “Om getroud te wees is uithou en aanhou, maar uiteindelik is dit net genade van Bo,” sê sy.
In haar suksesvolle loopbaan as maatskaplike werker het Henriëtta diep spore in verskeie gemeenskappe en organisasies getrap. Die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging (NHSV), wie se nasionale voorsitter sy vir sewe jare was, se leuse ‘Wees ‘n seën’ som Henriëtte se lewe goed op.
“Sy was onder meer op die redaksie van die Christelike Vrou en namens die NHSV hoofbestuur die verteenwoordiger op verskeie nasionale rade, waaronder Bejaardesorg, Famsa (huwelike en gesinslewe wat Families Suid-Afrika), Federale Vroueraad Volksbelang en Nimro (Rehabilitasie van Oortreders). Sy was tot ‘n beoordelaar van Jerseybeeste en ‘n aktiewe lid van die Vroue-Landbouvereniging (VLV). Ons Tuis se beste wense vergesel die egpaar,” sê Van As.
Ouderdom is net ‘n getal: Ons Tuis Piet Potgieter vier hul eie Olimpiese Spele
Inwoners van Ons Tuis Piet Potgieter op Mokopane het Dinsdagoggend gewys dat ouderdom net ’n getal is! In samewerking met Revision@CAL, het die tehuis sy