Vanjaar sien Ons Tuis soos oudergewoonte uit na die Tooi Turkoois-veldtog wat jaarliks vanaf 15 Mei tot 15 Junie regoor die land plaasvind. As deel van vanjaar se vieringe gaan Ons Tuis in samewerking met die Tooi Turkoois-beweging op 31 Mei ‘n waardevolle stukkie geskiedenis aan die Voortrekkermonument oorhandig. Die oorhandiging sal tydens die Tooi Turkoois-vieringe by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasvind.
Ons Tuis het sedert die ontstaan van die Tooi Turkoois-inisiatief groot waardering vir die veldtog en die fokus op bewustheid van bejaardesorg.
Die sigbare deel van die veldtog duur vanaf 15 Mei – Internasionale Familiedag – tot 15 Junie – wat Wêreld Bewustheidsdag vir Bejaardemishandeling is. Tydens dié deel van die veldtog word ondersteuners se huise, motors, strate en kantore in turkoois getooi ter bewusmaking van die belangrikheid van bejaardesorg. Ondersteuners word ook aangemoedig om ‘n tehuis of aftreeoord te identifiseer en op enige manier te ondersteun.
“Tooi Turkoois vir bejaardes is ‘n jaarlikse veldtog deur die Algemene Diakensvergadering van die Nederduitsch Hervomde Kerk. Die klem val op bewusmaking van die uitdagings wat bejaardes ervaar, maar wil ook deur middel van verskillende aksies landwyd, bejaardes tydens hierdie veldtog spesiaal laat voel,” sê ds. Frikkie van Wyk, voorsitter van die Ons Tuis-direksie. “Vir Ons Tuis is dit ‘n geleentheid om die inwoners en hulle familie te betrek by die hele saak waarvoor Ons Tuis hom beywer, naamlik om te strewe na die optimalisering van die beskerming van ouer persone in uitnemende residensiële fasiliteite (veilige hawens) en bevordering van aktiewe veroudering van ouer persone.”
Belangstellendes wat op 31 Mei die verrigtinge by die Voortrekkermonument bywoon, kan uitsien na volkspele, boeremusiek, ligte verversings en ‘n kontantsnoepie en dan natuurlik ook die oorhandiging.