Indien u vir welke rede okal moes uitmis op ‘n Kerstyd saam met u geliefdes, het u die kans om dit te kom herleef by Ons Tuis: Piet Potgieter in Mokopane. Die Liggiefees hervat vanaf 9 tot 10 Februarie 2022, in lyn met Valentynsdag, by die tehuis in Hoogestraat 60.
“Weens ‘n toename in Covid-19 gevalle was ons genoodsaak om die unieke geleentheid in Desember 2021 te staak. Die 15km se liggies is jaarliks vir ons ‘n groot hoogtepunt daarom wil graag voortgaan met hierdie prentjiemooi gebeurtenis,” sê Mariana van Tonder, bestuurder van Ons Tuis: Piet Potgieter.
Die Liggiefees skop weer op Woensdag 9 Februarie 2022 om 17h00 af met ligte vermaak, ’n mini-mark en verskeie kosstalletjies wat insluit vetkoeke, kerrie en rys, pannekoek en jaffels. Op Donderdag 10 Februarie 2022 sal daar smullekker Yummy wafels te koop aangebied word. ‘n Donasie word as toegangsfooi gevra.
“Onder ons inwoners is daar ‘n groot groep bejaardes wat swaar trek. Die Liggiefees is een van die groot fondsinsamelingsprojekte wat ons jaarliks aanbied vir gesinne. Die Brille en Pille Motorfietsrit is ook ‘n feestelike affêre waarna motorfietsentoesiaste en ons plaaslike inwoners jaarliks uitsien,” sê sy.
Vir meer inligting kan u Ons Tuis se facebook-blad of webwerf besoek, óf kontak Ons Tuis: Piet Potgieter op weeksdae gedurende kantoorure by 015 491 6314/5.