Hans Boucher (80) en Annemarie Boucher (76) het Saterdag 11 Mei voor getuies en ons Hemelse Vader trou aan mekaar beloof.
Die egpaar se huweliksbevestiging het by Ons Tuis AMOT plaasgevind. Altesaam 35 familielede het die seremonie, behartig deur ds. Jannie Vosloo, bygewoon. Hoeveel vriende by die geleentheid was, weet hulle nie. “Die hele saal was sommer vol!” vertel Annemarie.
Die twee se liefde blom al vir twee jaar. Hans het op ’n dag in 2022 na Annemarie se televisie by haar woning by Ons Tuis AMOT gaan kyk. “Ons het so gestaan en na my eerste troue se foto’s gekyk toe hy sy hand op my skouer sit. Hy het vir my gesê dat hy geweet het dat ek soos ’n prinses gelyk het. En van daar af was dit verby,” vertel sy. Die pasgetroudes was sedert hierdie dag ‘n paartjie.
Annemarie vertel verlief dat sy nooit die dag op 21 Junie 2022 sal vergeet nie. “Ons het alleen by die teetrollie gestaan. Hy sit toe sy arms op my skouers en soen my…”
Die egpaar het saam met Annemarie se enigste seun van vier kinders gaan uiteet toe Hans haar seun gevra het of hy maar met sy ma mag trou. “My seun was so bly dat ek nou weer iemand gekry het om my lewe mee te deel. Hy het geweet dat ek soms ‘n bietjie eensaam raak.”
Hans is oorspronklik van Sasolburg waar sy pa vir die spoorweë gewerk het. Annemarie het op die plaas tussen Hoopstad en Bultfontein grootgeword. “Ek is ’n plaasmeisie en toe trou ek met ’n plaasboer ook!”
Die Boucher-egpaar gaan verder by AMOT inwoon.
Twee weke was in Februarie vanjaar meer as genoeg tyd vir Amanda Homan (77) en Ronald Matthews (82) van Ons Tuis: Andries Marie Oosthuizen (AMOT) om nie net verlief te raak nie, maar om ook die knoop deur te hak. Lees die artikel hier.