As deel van ‘n internasionale veldtog om bewustheid vir Alzheimer se siekte te bevorder, word ‘n spesiale dag om hieraan aandag te skenk, jaarliks op 21 September gevier.
Internasionale Alzheimersdag is nie net nog ‘n datum op die kalender nie, dit is ‘n oproep tot aksie. Dit moedig ons aan om bewusmaking te skep, empatie te ontwikkel, verandering in ons gemeenskappe en gesondheidstelsels te bevorder. Soos ons hierdie dag vier, staan ons saam met toewyding om persone wat deur Alzheimer se siekte geraak word, te ondersteun.
Alzheimer-siekte, wat ‘n progressiewe neurodegeneratiewe versteuring is, beïnvloed miljoene persone wêreldwyd deur geleidelik geheue en kognitiewe vermoëns te skrap.
Alzheimer-siekte affekteer hoofsaaklik ouer volwassenes, maar gevalle kan ook by jonger persone voorkom. Navorsing bewys dat genetika, lewensstyl-faktore, en ouderdom ‘n groot rol speel in die ontwikkeling van die siekte.
Ons Tuis het vier van sy agt aftreehuise toegerus met gespesialiseerde sorgeenhede wat spesifiek fokus op demensie- en Alzheimer-pasiënte. Hier word voortdurend gesorg vir die lewenskwaliteit van die inwoners, en aktiewe veroudering speel ‘n groot rol in hierdie proses.
Die hantering van persone met demensie vereis ‘n spesiale benadering, en Ons Tuis fokus op die aanleer van die nodige vaardighede om effektief met hierdie uitdagende toestand om te gaan. Daar word benadruk dat kommunikasie met ‘n persoon met Alzheimer se siekte geduld, ‘n positiewe ingesteldheid, en ‘n begrip van hul unieke behoeftes vereis.
Hoe om iemand met Alzheimersiekte te ondersteun:
Hou by ‘n daaglikse roetine wat help om verwarring te voorkom;
Moenie oorstimuleer nie, hou dinge eenvoudig;
Probeer altyd om die persoon veilig en gemaklik te laat voel; en
Moenie skreeu, stry of uit frustrasie redeneer/optree nie.
Daarbenewens speel dieët ‘n belangrike rol in die sorg vir Alzheimer-pasiënte, en Ons Tuis bied riglyne aan om die inname van gesonde voeding te bevorder en hierdeur die effek van die siekte poog te verminder.
Die belangrikste boodskap vanaf Ons Tuis op hierdie Alzheimers-dag is om mites en stigmas rondom demensie en Alzheimer-siekte te verminder, die nuutste inligting te soek en ondersteunings meganismes te vind om dit vir hierdie persone so maklik moontlik te maak. Ons is daar om jou te help om die uitdagings van die siekte te hanteer en die lewensgehalte van diegene wat dit affekteer, te verbeter.
Vir meer inligting oor Ons Tuis se gespesialiseerde versorgingseenhede besoek www.onstuis.org of kontak ons by 012 325 1857/8.
Foto: Danie Franco | Unsplash