Terwyl die kersversierings nou stadig maar seker in supermarkte opgesit word, word ons daarvan bewus dat tyd inderdaad nie stilstaan nie en dat 2022 se uurglas vinnig besig is om leeg te loop. ʼn Mens kom ook vinnig agter dat daar nie veel van ʼn neseier is om geskenke mee te koop of vakansie te hou nie. Net so voel instansies soos ouetehuise ook die druk en moet gedurig aan allerhande planne dink om hulle fondse aan te vul.
Ons Tuis Piet Potgieter in Mokopane (Potgietersrus) kry dit jaarliks reg om “fondsinsameling” en “vet pret” as sinonieme te gebruik. Daar word op Saterdag 5 November ʼn motorfietsoptog deur die dorp se strate gehou, asook ʼn pretdraf (colour run) van 5 km. Vanjaar se tema is Brille en Pille met ʼn bling en daar word verwag dat die ysterperde weer in groot hoeveelhede opgesaal sal word vir hierdie goeie doel.
“Tydens die optog stoot familie, vrywilligers en personeel die bejaardes op rolstoele deur die strate terwyl die motorfietsryers in erewag verbyry. Dit is altyd moeilik om te besluit wie dit die meeste geniet: die inwoners, motorfietsryers of die omstanders!” vertel Mariana van Tonder, tehuisbestuurder by Ons Tuis Piet Potgieter. “Hierdie is die sewentiende jaar wat ons hierdie geleentheid aanbied en ons nooi almal uit om die pad Bosveld toe te vat en in die pret te kom deel. As jy nie iemand vir motorfietse of hardloop is nie, kan jy steeds vooraf by ons ʼn ontbytkaartjie teen R50 aankoop. Daar gaan ook lekker musiek gemaak word.”
Kontak vir Mariana by 015 491 6314 of stuur vir haar ʼn e-pos na marianavt@otmt.org as jy nog ʼn lapwapen op jou leerbaadjie wil vaswerk.
ʼn Boer maak ʼn plan, maar Ons Tuis-personeel maak sommer twee of drie om die fondse aan te vul!
Machteld Postmus-tehuis in Pretoria hou rommelverkopings of verkoop pannekoek. Parys-tehuis het onlangs spoorwegkoffie by die plaaslike Blikkiesfees verkoop en hou ook van tyd tot tyd ʼn ouer-kind-dag waar daar etes bestel kan word. Riviera en Seniorstuis verkoop klere en koekies en Emily Hobhouse het wegneemetes en ʼn witolifanttafel.
“Die inkomste wat uit hierdie inisiatiewe gegenereer word, word weer tot die inwoners se voordeel teruggeploeg en aangewend om byvoorbeeld die tuine op te knap, of om inwoners met geskenkies, uitstappies en dinge soos Kersetes te bederf,” verduidelik Rentia Mynhardt, skakelbeampte vir Ons Tuis.
Alhoewel Ons Tuis ʼn baie klein subsidie vanaf die staat ontvang (vir inwoners wat in versorgingsfasiliteite woon met ʼn maandelikse inkomste van minder as R2 000), is dit nie eers ʼn halwe druppel in die emmer nie. Fondsinsamelings is gevolglik nie net belangrik nie, maar onvermydelik en noodsaaklik.
“Daar waar inwoners wel gesond genoeg is om aan hierdie inisiatiewe deel te neem, geniet hulle die samesyn baie. Sekere tehuise huisves egter hoofsaaklik verswakte bejaardes wat deelname onmoontlik maak,” sê Mynhardt.
Behoeftes sal daar altyd wees en nadat daar met al die tehuisbestuurders kontak gemaak is, is daar gevind dat die behoeftes strek vanaf kragopwekkers tot gordyne en linne.
Of jy dus jou motorfiets in die rigting van Mokopane wil stuur of dalk ʼn kragopwekker wil skenk, pesbestryding wil doen, ʼn verfkwas wil inspan of ʼn gholfdag reël, jou bydrae sal ʼn groot verskil in ʼn bejaarde se lewe maak. Besoek gerus Ons Tuis se webwerf of Facebook-blad, of skakel vir Hannelie Fourie by 012 325 1857/8.