Ons Tuis > Artikels  > Maak jou ouer jare jou goue jare

Maak jou ouer jare jou goue jare

Die gesegde lui dat oudword nie vir sissies is nie, maar jou goue jare bring ook die geleentheid om dinge te doen wat jy nog nooit voorheen kon nie.

Daar word ook gesê met die grysheid kom wysheid. Ouderdom bring ook ervaring en nadat jy reeds vir dekades geleef het, is dit iets wat jy beslis opgedoen het. Dalk het jy getrou, ʼn gesin begin, verhoudings gehad, nesgeskop, gereis, hard gewerk en lewensveranderende besluite geneem. Gebruik die ervarings om ingeligte besluite te neem oor wat jy in jou sogenaamde goue jare wil doen.

Meeste mense beskou aftrede as ʼn tyd om terug te sit en te ontspan na baie jare se harde werk. Vorige generasies het vroeër afgetree terwyl baie van vandag se ouer persone langer in die tuig is, steeds baie aktief en gesond is op ʼn baie hoër ouderdom asook jonk van gees is.

Die nuwe generasie pensioenarisse wil nie net stilsit of hulself heeldag met stokperdjies besig hou nie. Dit het onder meer tot gevolg dat baie mense selfs na aftrede met ʼn nuwe loopbaan begin of hul entrepreneurskapvaardighede inspan om ʼn nuwe besigheid of loopbaan te begin.

Vandag se ouer generasie het ook tegnologie tot hul beskikking wat hul in staat stel om makliker in kontak te bly met vriende en geliefdes. Dit stel hul egter ook in staat om gerieflik inkopies te doen, aanlyn nuwe mense te ontmoet, tyd te verdryf en om hul kennis uit te brei.

Indien u egter besluit om vir eers bietjie agteroor te sit, is dit steeds belangrik om ʼn doel te hê. Vir party mense beteken dit ʼn wenslysie van dinge waarby hulle nog nie uitgekom het nie en graag wil doen. Vir ander is dit bloot om kosbare tyd saam met familie en vriende deur te bring. Ander fokus op hul geestelike groei en innerlike vrede.

Dit is ook die ideale tyd om iets nuuts te leer. Jou brein moet soos ‘n spier geoefen word en daagliks gestimuleer word. Van die beste maniere om jou brein te oefen is om ‘n nuwe vaardigheid of stokperdjie aan te leer, of dalk selfs ʼn nuwe taal.

Daar is dalk ʼn instrument wat jy nog altyd wou leer speel. Lees is nog ʼn wonderlike en ontspannende manier om jou brein te oefen terwyl daar danksy tegnologie ook verskeie toepassings op selfone beskikbaar is, soos breinspeletjies, wat hiermee kan help.