Die Ons Tuis-tehuise vier vandeesmaand maatskaplike werk-waarderingsmaand om vir maatskaplike werkers te wys hulle word raakgesien en dat daar waardering is vir dit wat hulle doen en in hul gemeenskappe beteken. Vandag is ook Internasionale Maatskaplike Werkersmaand.
Ons Tuis trots om die toegewyde individue te eer wat die ruggraat van ons gemeenskappe vorm. Hierdie jaar skyn ons ‘n kollig op Ons Tuis se maatskaplike werker, Anneliese Bothma. Sy werk al vir 30 jaar in bejaardesorg en is die afgelope 10 maande by Ons Tuis werksaam.
Maatskaplike werkers navigeer dikwels deur uiters uitdagende omstandighede, wat beide emosioneel en fisies veeleisend kan wees. Tog beskou baie hierdie beroep as ‘n roeping – ‘n roeping om ander te help. Bothma vertel sy sou aanvanklik in ‘n BSc-rigting beweeg. “Toe ek daardie laaste Wetenskap-vraestel klaar geskryf het, het ek net besef om in ‘n laboratorium te werk, is net te onpersoonlik vir my!”
“Die ding van maatskaplike werk, is dat dit regtig ‘n rigting is wat jou in staat stel om aan jouself te bou ook, en nie net ander mense nie,” sê Bothma. “En maatskaplike werk is ook ‘n professie wat maar aan die agterspene suig. Almal besef nie altyd watter effek dit op ‘n mens het nie.”
Maatskaplike werkers bied ondersteuning aan individue, gesinne en gemeenskappe, insluitend kwesbare groepe soos kinders en ouer mense. In Suid-Afrika, waar vele maatskaplike kwessies voorkom, word maatskaplike werkers gereeld blootgestel aan uitdagende werksomstandighede.
“Dit is iets wat ek oor die jare heen moes leer – om nie jou uitdagings saam met jou huis toe te neem nie,” vertel sy. “As maatskaplike werker raak jy betrokke in ander se diepste en seerste oomblikke. Soms dra jy maar daardie seer saam met jou, en dra die las saam met die ander persoon. Dit is ‘n uitdaging!”
Bothma sê om haar te help om die uitdagings te oorkom, het sy stokperdjies en werklike belangstellings opgebou waarmee sy haar graag in haar vrye tyd besig hou. Sy is mal daaroor om te hekel, te lees, saam met haar lewensmaat flieks te kyk en dan natuurlik familietyd saam met haar kinders en haar diere.
Vir diegene wat ‘n loopbaan in maatskaplike werk oorweeg, wil Bothma die volgende sê: “Dit is ‘n goeie beroep waarin jy jouself ook kan opbou in die proses. My raad sou wees om ook verder te spesialiseer, jouself te bemagtig en doelwitte te hou.”