As deel van ‘n internasionale veldtog om bewustheid vir Alzheimer se siekte te bevorder word ‘n spesiale dag om hieraan aandag te skenk jaarliks op 21 September gevier. Vanjaar se tema is: Ken demensie, ken Alzheimer se siekte.
“Wanneer jou verstandelike vermoëns tot so ‘n mate afneem dat dit met jou daaglikse lewe inmeng, word demensie as algemene term gebruik. Demensie is ‘n chroniese of aanhoudende versteuring van verstandelike prosesse wat deur ‘n breinsiekte of besering veroorsaak word. Dit word deur geheueversteurings, persoonlikheidsverandering en verswakte redenasie gekenmerk. Alzheimer se siekte is die algemeenste oorsaak hiervan. Alzheimers tas die dele van die brein aan wat denke, geheue en taal beheer. Alzheimers is dus ‘n spesifieke siekte, demensie nie,” verduidelik Caretha Bronkhorst, Ons Tuis se arbeidsterapeut.
Vier van dié aftree-groep se agt tehuise beskik tans oor gespesialiseerde sorgeenhede wat spesifiek op demensie en Alzheimers-pasiënte fokus: Van Rensburg residensiële fasiliteit en Riviera residensiële fasiliteit, beide in Pretoria, asook Piet Potgieter residensiële fasiliteit in Mokopane en Andries Marie Oosthuizen residensiële fasiliteit in Parys (Vrystaat).
“Wanneer ‘n geliefde hiermee gediagnoseer word, kan jy jou die skok en verwarring voorstel. Dit is hier waar Ons Tuis u hand wil neem en saam ‘n pad wil stap om te verseker dat u geliefde hoogstaande versorging kry en by aktiwiteite betrek word om sy of haar lewenskwaliteit optimaal te geniet,” sê sy.
Juis daarom beskik Ons Tuis oor ‘n voltydse arbeidsterapeut wat die aktiewe veroudering van hierdie inwoners met sinvolle stimulasie aktiwiteite bevorder. Dit word daagliks volgens ‘n rooster aangebied. Inwoners met demensie of Alzheimers vind spesifiek by die fyn motoriese klasse, soos die maak van kaartjies, en hondeterapie aanklank.
Ons Tuis het ook in Junie vanjaar groot opspraak in die media met die suksesvolle vroetelvoorskootprojek wat geënisieer is, gemaak. Volgens haar vroetel en trek persone met Alzheimers se siekte gedurig aan hul klere, komberse en kussings. Wanneer hul niks het om hul hande mee besig te hou nie, is hul ook geneig om hulself seer te maak deur aan hul lywe en hande te begin byt en krap. Verskeie items (soos ritssluiters, knope, toutjies, linte, lappies en skuurpapiertjies met verskillende teksture, poppies, beertjies en bolletjies wol) is stewig op voorskote, skinkbordlappies en kussings vasgewerk en aan hierdie inwoners uitgedeel.
Hoewel niemand gebore word met die wete hoe om persone met demensie te hanteer nie, kan dit volgens Bronkhorst aangeleer word. “Om sinvol met ‘n persoon met demensie te kan kommunikeer verg sekere vaardighede, geduld en beslis ‘n positiewe ingesteldheid. U lyftaal dra dikwels ‘n sterker boodskap aan hierdie persone as u woorde oor,” verduidelik sy.
Bronkorst het ook die volgende kommunikasie wenke gedeel:
- Probeer ook om afleidings en geraas te beperk: skakel die radio af, maak die gordyne of deur toe of kies ‘n rustige omgewing.
- Maak seker u het die persoon se aandag en spreek hul op die naam aan. Identifiseer jouself en jou verwantskap. Nie-verbale aanraking kan help om die persoon gefokus te hou.
- Praat stadig en duidelik met ‘n gerusstellende stemtoon. Gebruik eenvoudige woorde en sinne. Gebruik dieselfde bewoording wanneer u ‘n boodskap of vraag moet herhaal. Gebruik ook spesifieke name van mense en plekke in plaas van hy, sy, hulle of daar in die algemeen.
- Vermy dit om oop vra te vrae wat te veel opsies as antwoorde bied. Om ‘n verwarde persoon te konfronteer, kan angs verhoog.
- Baie persone met demensie onthou dalk nie wat ‘n uur gelede gebeur het nie, maar herinneringe van ouds is duidelik ingeprent. Dit is dikwels strelend om hierdie herinneringe in gesprekke op te roep eerder as om op die korttermyn geheue staat te maak.
“Luister met jou ore, oë en hart! Wanneer jy oplet dat die persoon ontsteld of ge-oorstimuleer is, probeer om die onderwerp, aktiwiteit of die omgewing te verander,” sê sy.
Die verlies aan blaasbeheer wat met die toestand gepaardgaan, word dikwels nie in ag geneem nie. ‘n Persoon kan byvoorbeeld vergeet waar die badkamer geleë is, of nie betyds daar uitkom nie. Dit is belangrik om hierdie persone met waardigheid te hanteer en hom of haar se verleentheid te verbloem. ‘n Roetine wat toiletgebruik betref is hier ‘n moontlike oplossing.
Gedragsprobleme wat kan kop uitsteek is prikkelbaarheid, slapeloosheid, verbale of fisiese aggressie en skielike toename in agterdog, jaloesie of beskuldigs.
“Wat die persoon ervaar, voel vir hom of haar baie werklik. Probeer om dit nie persoonlik op te neem nie en hou sover moontlik omgewingsfaktore en roetines konstant, gestruktureerd en kalm.”
Wanneer dit by Alzheimer-pasiënte kom, speel dieët ‘n geweldige belangrike rol. Om te verseker dat u geliefde genoegsame, voedsame voedsel en vloeistof inneem kan uitdagend wees. Die inname van kafeïen, suiker en kos wat hoog is in energie moet te alle tye beperk word.
Bronkhorst stel voor dat Alzheimers-pasiënte eerder vyf of meer kleiner maaltye per dag min of meer op dieselfde tyd geniet. Probeer om etenstyd met blomme en strelende musiek spesiaal te maak. Vingerhappies laat die persoon ook dikwels voel dat hy of sy steeds onafhanklikheid het. Omdat hulle graag optredes naboots, is dit dalk raadsaam om saam met hul te eet. Gee ook genoeg tyd vir etes.
“Wanneer die mites en stigmas rondom demensie en Alzheimers uit die weg geruim word en jy begin fokus op dit wat jy pro-aktief vir hierdie persoon kan doen, dan beweeg jy vorentoe. Daar is nog ‘n geweldige leemte wat die kommunikasie van ondersteuning ten opsigte van die hantering van die siekte betref,” sê Bronkhorst.
Haar beste raad is om uself met inligting en ondersteuning te bemagtig. “Om die diagnose te verwerk is dikwels ewe moeilik vir die familie as vir die pasiënt. Namate u geliefde sy onafhanklikheid verloor, word u verplig om meer en meer verantwoordelikheid te aanvaar. Laat Ons Tuis u bystaan om u dag-tot-dag uitdagings met hierdie siekte te bestuur en hanteer: van higiëne, gemaklike kleredrag tot versorgingsopsies,” sê sy.
Vir meer inligting oor Ons Tuis se gespesialiseerde versorgingseenhede besoek www.onstuis.org of kontak ons by 012 325 1857/8.
#WêreldAlzheimersMaand #demensie #Alzheimerbewustheid #alzheimers
DATUM: 20 September 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Heleen van As
Woordvoerder: Ons Tuis
Sel: 084 655 6006