Wanneer dit by bejaardesorg, of die keuse van ‘n versorgingsoord, kom is voeding een van die belangrikste aspekte om te bestuur.
“‘n Gebalanseerde dieët het ‘n geweldige invloed op ‘n persoon se fisiese en geestelike welstand. So wanneer ‘n mens hierdie tema aanspreek kry die gesegde dat ‘n appel ‘n dag die dokter laat wag amper opnuut weer betekenis!” sê Heleen van As, woordvoerder van Ons Tuis.
Volgens haar kan wanvoeding by bejaardes tot ‘n rits gesondheidsprobleme lei, wat insluit:
- ‘n verswakte immuunstelsel met ‘n verhoogde risiko vir infeksies;
- ondoeltreffende wondgenesing;
- spierswakheid en verminderde beenmassa wat tot beserings en moontlike frakture veroorsaak;
- ‘n hoër risiko vir hospitalisasie; en
- ‘n hoër mortaliteitssyfer.
“Hoewel mens wanvoeding op die oog af as ‘n té klein of ongesonde bord kos — wat nie die nodige voedingswaardes bevat nie — klas, kan dit ook wees dat jou liggaam as gevolg van fisieke, sosiale of sielkundige probleme nie voedingstowwe opneem nie,” sê Van As.
Namate ‘n persoon ouer word verander sy of haar smaak, reuk en eetlus. Tweedens kan dit dalk vir hul fisies moeilik wees om te sluk, weens ongesonde, gebreekte, verswakte tande of valstande wat nie gemaklik pas nie te kou of hul vermoëns om eetgerei te hanteer kan met ouderdom afneem.
“Hierdie is van die hoofredes hoekom ouer persone soms begin om etes oor te slaan of in ‘n slegte eetpatroon verval. Ander bydraende faktors sluit in siektes, die gebruik van medikasie, dieëtbeperkings, geestelike gesondheid, eensaamheid, finansies en beperkte toegang tot kos,” sê sy.
Wanneer ‘n persoon fisies siek is of sekere medikasie gebruik kan, afgesien van ‘n moontlike afname in eetlus, sy of haar liggaam dalk sukkel om voedingstowwe effektief op te neem. Sommige persone lei ook aan sekere kondisies wat meebring dat voedsel met ‘n hoë suiker, sout of vetinhoud uit hul eetplan gesny moet word. Hul is dalk raadop met idees wat om te maak omdat dit voel of hul niks waarvan hul hou mag eet nie.
Siektes wat gedrags- of geheueprobleme veroorsaak, soos Alzheimer se siekte of demensie, kan daartoe lei dat bejaardes vergeet om te eet, kruideniersware te koop of om etes betyds te beplan. Die verlies van ‘n lewensmaat, hartseer, eensaamheid en depressie het ook ‘n geweldige effek op ‘n persoon se eetgewoontes.
“Dit is ook geen geheim dat die seniorburgers in Suid-Afrika — weens verskeie redes dikwels buite hul beheer — ‘n beperkte begroting het om kruideniersware aan te koop of gebalanseerde etes by ‘n oord te kan bestel. Hul is ook soms nie meer sterk genoeg om self te gaan kos koop of te maak nie,” sê sy.
Ons Tuis moedig dus bejaardes se kinders, versorger of vriende aan om deurentyd hul gesondheid dop te hou en die rooiligte van wanvoeding betyds aan te spreek.
“’n Paar eenvoudige veranderinge aan ’n bejaarde se dieët of ‘n paar praktiese reëlings kan die wêreld se verskil maak. Daar is altyd ‘n gewillige oor om te luister of ‘n kundige met goeie raad. Gesels met iemand wat jou kan help,” sê sy.
DATUM: 14 Oktober 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Heleen van As
Woordvoerder: Ons Tuis
Sel: 084 655 6006