Ons Tuis > nuus  > || MEDIAVERKLARING || Inwoners van die Azalea-dameskoshuis neem Ons Tuis-grootouers hartlik aan

|| MEDIAVERKLARING || Inwoners van die Azalea-dameskoshuis neem Ons Tuis-grootouers hartlik aan

Toe Michelle Kretzschmar (20) van die Ons Tuis* ‘Neem ‘n grootouer aan’-projek hoor het sy dadelik geweet dat dié omgee-inisiatief studente sou aanspoor om by bejaardesorg betrokke te raak. Sy is onlangs as ‘n huiskomiteelid van die Azalea-dameskoshuis aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) verkies. En dié projek pas haar gemeenskapsbetrokkenheid portefeulje soos ‘n handskoen!

 

“Alhoewel die meeste van ons geseënd is of was om grootouers te hê, het ek besef dat jong mense skrikkerig is om spontaan interaksie met ouer persone te hê. As jy eers oor hierdie ‘hekkie’ gekom het, kyk jy beslis met nuwe oë na die wêreld. Die ‘Neem ‘n grootouer aan’-projek bied aan ons die geleentheid om hul beter te leer ken én uit hul ongelooflike en interessante ervarings te leer,” sê sy.

 

Michelle het die sowat 40 briewe wat deur die Azalea-studente geskryf is persoonlik op 2 Junie by Ons Tuis: Riviera en Ons Tuis: Seniorstuis Dienssentrum in Pretoria gaan uitdeel. Nog briewe is verlede week by Ons Tuis: Louis Trichardt en Ons Tuis: Van Rensburg in Danville afgelewer. Weens die derde vlaag nuwe Covid-19 infeksies wat die gesondheid van veral bejaardes bedreig, was dit die veiligste opsie om slegs een persoon vir die besoek aan die tehuis af te vaardig. Die damesstudente is egter hoopvol dat hul later die geleentheid gegun sal word om hul grootouers persoonlik te kan ontmoet.

 

“Om die briewe te gaan uitdeel was ‘n besonderse en nederige ervaring. Een tannie kon nie wag om haar brief oop te maak nie en het sommer dadelik begin lees. Ons is passievol oor die projek en sien geen rede hoekom dit in die toekoms met iets anders vervang moet nie; ons kan jaarliks daarop voortbou. Ekself kan nie wag tot ons volgende skakeling met ons nuwe oupa’s en ouma’s nie,” sê sy.

 

Michelle moedig die publiek — enige iemand wat hul harte vir bejaardes kan oopmaak — aan om ook by die ‘Neem ‘n grootouer aan’-projek betrokke te raak.  Deur www.onstuis.org/grootouer/ te besoek kan u ‘n aftree-oord in u omgewing asook ‘n persoon, wat moontlik ‘n belangstelling met u deel, kies. Tot welke mate u by hul betrokke wil raak staan u vry; hetsy deur kommunikasie (via SMS’e, e-posse of handgeskrewe briewe), finansiële ondersteuning of om hul met geskenkpakkies te bederf. Die hele proses is gekontrolleerd en veilig.

 

“Dit het geen moeite geverg om die studente vir hierdie voelgoedprojek aanboord te kry nie. Ons eerste mikpunt was om briewe aan ons aangenome grootouers te skryf. Elkeen was uniek en spesiaal op sy eie manier. Die dames het baie moeite gedoen en werklik uit hul harte geskryf. Die meeste het begin deur te groet en hulself voor te stel: wie hulle is, wat hul studeer en waarvan hul hou. Ons wag nou met groot opwinding dat hulle terugskryf sodat ons hulle weer beter kan leer ken,” sê sy.

 

Volgens die tweedejaar BSc-mikrobiologie-student maak die ouderdomsverskil tussen die studente en die bejaarde inwoners van die Ons Tuis-tehuise die projek inspirerend.

 

“Elkeen van hierdie bejaarde inwoners het ‘n lewensverhaal om te deel. Waar ons aan die beginpunt van ons lewens staan, is dit wonderlik om te hoor wat hierdie mense alles deurgemaak het en waar hulle hulself vandag bevind. Dit laat jou besef dat enige iets in die lewe met jou kan gebeur én dat jy enige moeilikheid kan oorkom. Wanneer ek na hulle stories luister maak dit my opgewonde om my lewe voluit te gaan leef en altyd die beste weergawe van myself te wees,” sê sy.

 

Gedurende die Covid-19 pandemie waartydens die enigste konstante verandering is, maak hierdie die perfekte gemeenskapsprojek omdat dit aan alle gesondheids- en veiligheidsvereistes voldoen.

 

“Vir ‘n verandering kan ons al ons energie aan ‘n projek spandeer sonder om ons daaroor te bekommer dat dit geskuif of gekanselleer gaan word. Azalea-dameskoshuis se leuse vir 2021 is juis liefde en ons kan dit nou terugploeg in die ouer gemeenskap. Die ‘Neem ‘n grootouer aan’-projek bied die geleentheid om te wys ons sien hulle raak en waardeer hulle. Hulle is ‘n belangrike, onmisbare skakel in ons samelewing,” sê sy.

 

*Ons Tuis het agt aftree-oorde regoor Suid-Afrika. Hulle bied ‘n verskeidenheid bekostigbare, gehalte verblyfopsies (wat wissel van selfsorgeenhede tot gespesialiseerde versorgingsorg met afdelings vir pasiënte met Alzheimer of demensie) aan persone bo die ouderdom van 50-jaar aan. U is van harte welkom om hulle te kontak by 012 325 1857/8, info@otmt.org.za of besoek www.otmt.org vir meer inligting.

 

DATUM: 17 Junie 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:

Heleen van As

Woordvoerder: Ons Tuis

Sel: 084 655 6006

OF

Hannelie Fourie

Admin: Ons Tuis

Tel: (012) 325 1857