‘n Feestelike stemming sal weer in Mokopane (Potgietersrus) heers wanneer die jaarlikse Ons Tuis Brille en Pille Pretdag op 6 November 2021 aangebied word. Die publiek word uitgenooi om aan die fondsinsamelingsprojek te kom deelneem deur die basaar te ondersteun, die 5km pretdraf (‘colour run’) te geniet, aan te sit vir ‘n voortreflike ontbyt of hul motorfietse ten bate van bejaardesorg te laat brul.
Vanjaar is die tema Boerepompie.Volgens Mariana van Tonder van Ons Tuis Piet Potgieter, wat die dag saam met ‘n vrywilliger Bennie Venter organiseer, het hul hierop besluit in ooreenstemming met die 2021-hoofborg Agruma, ‘n landboubesigheid.
“Die Brille en Pille Pretdag is voorwaar elke jaar ‘n groot hoogtepunt op ons kalender wat goed deur die publiek ontvang word. Motorfiets entoesiaste kom van heinde en ver!” sê sy.
Aktiwiteite wat die dag aangebied word sluit in:
- ‘n basaar wat om 08h00 met heerlike tuisgebak, allerlei kosstalletjies en handgemaakte produkte afskop.
- ‘n 5km Pretdraf (‘Colour Run’) wat stiptelik om 07h00 by Ons Tuis: Piet Potgieter wegspring. Inskrywings is aanlyn of by die tehuis verkrygbaar. Laatkommers is ook welkom om op die dag van die pretdraf vanaf 05h30 tot 06h30 te registreer. Kostes wissel tussen R10 vir voorskoolse kinders tot R60 vir volwassenes. Deelnemers moet asseblief onthou om wit klere aan te trek.
- ‘n motorfiets rally teen R100 wat jou ontbyt en ‘n lapwapen insluit. Motorfietsryers kan vanaf 08h00 registreer. Deelnemers kom ook in aanmerking vir ‘n gelukkige trekking met drie kontantpryse van R1,000 elk. Die prysuitdeling vind om 13h00 by Ons Tuis: Piet Potgieter plaas. Die motorfietsrit deur die dorp, wat vergesel gaan word deur bejaardes in rolstoele, vind om 11h00 plaas.
- ‘n voortreflike ontbyt teen R50 wat bedien word vanaf 08h00 tot 10h30.
- Thys Gouws sal gratis as gaskunstenaar deur die loop van die dag by die tehuis in Rabestraat optree.
“Ons Tuis-oorde landwyd bied gehalte, bekostigbare verblyf aan persone bo die ouderdom van 55-jaar aan. Om hierdie voortreflike diens te kan lewer en puik fassiliteite te bied benodig ons egter addisionele fondse van buite. Ons is dankbaar vir diegene wat elke jaar diep in hul beursies delf om hierdie besonderse geleentheid te kom ondersteun. Die Ons Tuisers sien uit om jul weer in Mokopane te verwelkom,” sê Van Tonder.
Vir meer inligting hou gerus Ons Tuis se sosiale media dop, stuur ‘n e-pos na marianavt@otmt.org of kontak Ons Tuis: Piet Potgieter direk by (015) 491 6314.
DATUM: 21 Oktober 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Heleen van As
Woordvoerder: Ons Tuis
Sel: 084 655 6006