Ons Tuis > nuus  > || MEDIAVERKLARING || ONS TUIS-GROEP OP DREEF MET COVID-19 INENTINGSPROGRAM

|| MEDIAVERKLARING || ONS TUIS-GROEP OP DREEF MET COVID-19 INENTINGSPROGRAM

Te midde van ‘n dreigende derde vlaag Covid-19 infeksies, is Ons Tuis opgewonde om aan te kondig dat drie van hul tehuise in Pretoria (Ons Tuis: Van Rensburg, Ons Tuis: Piet Potgieter en Ons Tuis: Riviera, sowel as die Annie Schilz-kompleks) en Ons Tuis: Andries Marie Oosthuizen in Parys reeds verlede week aan die regering se nasionale Covid-19 inentingsprogram deelgeneem het. Die inenting van bejaarde inwoners van die Ons Tuis-groep, duur vandag voort.

 

“Tot dusver ervaar ons die inentingsprogram as baie positief en verloop dit sonder enige probleme. Die inwoners wat die inspuiting ontvang het was verbaas dat dit nie seer was nie! Die personeel is egter deur ‘n paar bangbroeke vermaak, maar die uitrol van die inentingsprogram by Ons Tuis-tehuise — in oorleg met die Department van Gesondheid — verloop gewis seepglad,” sê Heleen van As, woordvoerder van die Ons Tuis-groep.

 

Dit wil egter voorkom of daar steeds verwarring rondom hoe die registrasieproses werk en wat die inspuiting behels is.

 

“Daar is net een nasionale registrasie portaal wat deur die Department van Gesondheid bestuur word, hetsy jy deur die staat of deur jou mediesefonds aansoek doen. Die inspuiting is uiteraard gratis,” verduidelik sy.

 

Volgens haar berus die verantwoordelikheid dus op inwoners om hulself vir die inenting te registreer, tensy anders gekommunikeer.

 

“In ons oorde met versorgingseenhede is daar reeds reëlings met die plaaslike distriksgeneeshere rakende die inentings getref. Inwoners van ons selfsorgoorde sal egter self ‘n SMS-boodskap met ‘n datum, tyd en lokaal ontvang en moet self vir die inspuiting aanmeld. Dit is dus hierdie individue se eie verantwoordelikheid om die besoek na te kom,” sê sy.

Volgens Ons Tuis het talle van hul verpleegpersoneel reeds die Departement van Gesondheid se kursus in Covid-19 immunisering voltooi en gaan hul bes moontlik ingespan word om die inentings te hanteer.

“Ons is dankbaar vir hierdie geleentheid dat ons moontlik só ook kontak met persone van buite, in ‘n tyd waar die infeksiegetalle weer daagliks klim, tot ‘n mate kan beperk,” sê Van As.

In die hoop dat besoeke en aktiwiteite by die aftree-oorde in die toekoms weer kan normaliseer, moedig Ons Tuis-personeel alle persone wat in aanmerking vir die Covid-19 entstof kom, om dit te neem. Hoewel die inspuiting nie verpligtend is nie, wil Ons Tuis graag hul volle samewerking ten opsigte van die nasionale Covid-19 inentingsprogram gee.

“Indien inwoners reeds positief vir Covid-19 getoets het, moet hul steeds hierdie inenting ontvang. Die immuniteit wat ‘n persoon teen die siekte opbou nadat hy of sy dit gehad het verskil van persoon tot persoon. Dit is nog onbekend hoe lank dit die volgende aanslag van die siekte sal afweer. Vir nou moet ons doen wat ons kan,” sê sy.

Inligting tot Ons Tuis se beskikking toon dat die inspuiting veilig vir persone bo die ouderdom van 18-jaar is. Dit sluit diegene met komorbiditeite soos hoë bloeddruk, diabetes, asma, long-, lewer- en nierkwale in. Selfs inwoners met kroniese infeksies wat stabiel is kan ingespuit word.

Volgens Van As sal die dag waarop jy jou inenting ontvang min of meer só verloop:

  1. Registrasie: ‘n Werker van die Departement van Gesondheid sal kontrolleer of u toestemming het om die inspuiting te ontvang en deur middel van u identiteitsdokument verifieer dat dit wel uself is. Alle kroniese siektes sal deeglik genotuleer word.
  2. Toediening: Die spuitstof word dan, soortgelyk aan ‘n griepinspuiting, met ‘n dun naald in die bo-arm toegedien.
  3. Observasie: Na afloop van die inenting sal inwoners tussen 15-minute tot ‘n uur deeglik vir allergiese reaksies en newe-effekte gemonitor word.

Van As wil graag beklemtoon dat daar is ‘n groot verskil tussen die allergiese reaksie en die newe-effekte van enige medikasie is. Newe-effekte van die Covid-19 inenting word as moegheid, ‘n teer area waar die inspuiting toegedien is, hoofpyn, spierpyn, kouekoors en ‘n laegraadse koors gelys.

 

“‘n Allergiese reaksie sal wees wanneer die liggaam na afloop van die inspuiting in ‘n skoktoestand gaan. Dit kan lewensgevaarlik wees en verg onmiddellike behandeling. Hierdie simptome sluit respiratoriese nood, kardiogene skok, geswolle tong, lae bloeddruk, erge naarheid en/of braking, vinnige swak pols en bewusteloosheid in. Ons sal dus personeel op bystand hê om ons inwoners deeglik te monitor,” sê sy.