Ons Tuis, wat bejaardesorgfasiliteite vir ouer persone bied, sal op Woensdag 31 Mei 2023 “Die Verkenner”, ‘n beeldjie deur Frederik Johannes Kruger, aan die Voortrekkermonument oorhandig as teken van bejaardes se bydrae tot erfenis. Die oorhandiging sal plaasvind tydens die Tooi Turkoois-vieringe wat terselfdertyd by die monument plaasvind.
Die Voortrekkermonument is ’n kultuurtuiste waarvan die fokus op erfenisbewaring en beskerming gerig is. Vir Ons Tuis vorm die bewaring van ons geskiedenis en erfenis deel van die “toekoms van ons geskiedenis” en daarom sal dit op 31 Mei ‘n gedenkwaardige oomblik wees wanneer geskiedkundige beeldjie aan die Voortrekkermonument oorhandig sal word.
Een van hierdie beeldjies is tans by die Voortrekkermonument, en ‘n tweede sal tydens die vieringe van Tooi Turkoois deur Ons Tuis oorhandig word. Hierdie beeldjie sal deel vorm van ‘n reisende uitstalling wat met tye by verskeie monumente uitgestal sal word.
“Ons het die plig om ons erfenis te bewaar en te beskerm vir die nageslagte na ons. Dit is nie net ‘n fisiese taak nie, maar ‘n verantwoordelikheid om ons verlede, identiteit en kultuur te koester,” sê ds. Frikkie van Wyk, voorsitter van die Ons Tuis-direksie.
Met hierdie belangrike gebaar nooi ons die publiek en die media uit om betrokke te raak deur die oorhandiging van die beeldjie en die vieringe by te woon.
Die sigbare deel van die Tooi Turkoois-veldtog duur vanaf 15 Mei – Internasionale Familiedag – tot 15 Junie – wat Wêreld Bewustheidsdag vir Bejaardemishandeling is. Tydens dié deel van die veldtog word ondersteuners se huise, motors, strate en kantore in turkoois getooi ter bewusmaking van die belangrikheid van bejaardesorg. Ondersteuners word ook aangemoedig om ‘n tehuis of aftreeoord te identifiseer en op enige manier te ondersteun.
Belangstellendes wat op 31 Mei die verrigtinge by die Voortrekkermonument bywoon, kan uitsien na volkspele, boeremusiek, ligte verversings en ‘n kontantsnoepie.
Na die verrigtinge, wat onder andere toesprake van Andries Pretorius, spesifiek oor die rol van ‘n veldtog soos Tooi Turkoois en Jaco Cilliers wat namens die Voortrekkermonument oor erfenis sal praat sal insluit, sal Willie Jooste en sy orkes en later Manie Brits se volkspelegroep gaste vermaak. Middagete sal dan geniet word voor die verdaging en daarna die besoek aan die Monument en/of Groot Trek-roetes.
Bywoning kan by Anneke by 072 349 8395 of admin@helpseniors.org.za bevestig word.