Op 1 Junie 2021 het Ons Tuis: Rivera ‘n mylpaal in die tehuis-groep se geskiedenis aangeteken toe oom Willie Smit op die ouderdom van 99-jaar daar opgeneem is. Hy sal more, 10 Junie 2021, sy honderste verjaardag vier.
“Oom Willie is gewis die oudste inwoner wat ons al ooit toegelaat het. Ons beste wense vergesel hom in die besonderse nuwe lewensjaar wat voorlê,” sê sr. Sonja Stander, bestuurder van Ons Tuis: Riviera.
Willem Frederick Jacobus Smit is op 10 Junie 1921 in die Boksburg-distrik aan die Witwatersrand as middelkind van ses gebore. Drie van sy sibbe leef nog. ‘n Kleintyd herinnering wat hom altyd sal bybly is die vreeslike afstand wat hul moes stap skool toe.
“Meeste van die tyd was dit boonop met my jonger sussie, Hanna, op my rug. Sy was die kleinste en het vinnig moeg geraak,” vertel hy.
Volgens oom Willie was die oorlogjare maar moeilik en almal het gesukkel om werk te kry. “Ek het my ambag by Simmer & Jack begin en tot in my veertigs by die Goudvelde rondom Welkom gewerk,” sê hy.
Daarna, toe hy in die Hoëveld met skape en beeste geboer het, was sy mees vreugdevolste jare saam met sy geliefdes. Hy en sy vrou Henriëtte het ook ‘n ruk in Hartenbos gaan aftree voordat hulle hulself weens hoë ouderdom weer in Pretoria moes kom vestig. Die egpaar was geseënd met drie dogters en een seun (waarvan twee dogters nog leef), sewe kleinkinders, tien agterkleinkinders en een agter-agter kleinkind.
Wat in sy leeftyd vir hom die meeste vooruitgegaan het is die belegging wat daar in Suid-Afrika se jongmense se opvoeding gemaak is.
“Lank gelede het ons begin om aan veral ons jong seuns te bou en hul aan te moedig om ‘n geleerdheid te kry; hetsy praktiese vaardighede of akademiese opleiding. In my tyd was daar ‘n tekort aan ambagsmanne — manne wat sinvol met hulle hande kon werk soos ‘n passer-en-draaier — wat nou nie meer die geval is nie,” vertel hy.
Sy verjaardagwens is dat mense mekaar onvoorwaardelik moet liefhê want, sê hy, as jy nie hemel toe gaan nie, wag daar moeilikheid vir jou. Sy grootste droom vir ons tyd is dat mense opgevoed word om mekaar — met probleme en al — lief te hê en te help waar jy kan.
“Ek het ‘n lewe vol hartseer, geluk en vreugde beleef. Bowenal was die genade en seën van die Here vir ‘n 100-jaar my kompas,” sê hy.
DATUM: 9 Junie 2021
VIR MEDIA NAVRAE KONTAK:
Heleen van As
Woordvoerder: Ons Tuis
Sel: 084 655 6006
OF
Hannelie Fourie
Admin: Ons Tuis
Tel: (012) 325 1857