Ons Tuis > nuus  > || MEDIAVERKLARING || Tannie Tossie wil hê niemand moet hongerly op haar 100ste verjaardag

|| MEDIAVERKLARING || Tannie Tossie wil hê niemand moet hongerly op haar 100ste verjaardag

‘n Opgewonde stemming heers by Ons Tuis Riviera aftree-oord waar tannie Tossie Gouws vandeesweek haar 100ste verjaardag op Valentynsdag sal vier. En sy wil gewis geen geskenke hê nie, maar vra weldoeners om ter viering van haar eeu Sondag ‘n behoeftige persoon te voed.

“In my leeftyd het ek ‘n wêreldoorlog en uiterse hongersnood beleef, maar ek het nog nooit ‘n nag honger gaan slaap nie. Dit is my grootste verjaardagwens vir Suid-Afrika: dat behoeftige kinders en die armes iets het om te eet,” sê ‘n op-en-wakker tannie Tossie.

Met alles wat sy in haar leeftyd gesien en beleef het, is die veteraan uiteraard ‘n boek vol kennis. Sy is immers gebore in ‘n tyd toe die  Britse koning nog die staatshoof van die Unie van Suid-Afrika was. En sedert die republiekwording in 1961 het, beleef sy nou hoe die twaalfde president ons land regeer.  Einste President Cyril Ramaphosa het haar reeds voortydig met ‘n persoonlike skrywe geluk gewens.

Afgesien van SA se ryk politieke geskiedenis het sy die eerste suksesvolle hartoorplanting in SA beleef, hoe ons buurlande onafhanklik geword het, die ontwikkeling van die CAT-skandeerder en die Kreepy Crauly. Toe sy vier jaar oud was is SA se vlagskip rooiwynkultivar Pinotage gekruisteel en is Afrikaans as SA se tweede ampstaal erken.

“Om te dink ek is in die doodsnikke van die spaanse griep gebore en beleef nou vir ‘n tweede keer ‘n soortgelyke wêreld pandemie!” sê sy.

Om haar mooi hart te vier beoog die aftree-oord om Sondag ‘n swerm duiwe as simbool vir verdraagsaamheid en vrede los te laat.

Haar geheim vir ‘n lang lewe is om altyd na Bo te kyk, nooit te kla nie (omdat dit net ‘n swak aanwendsel is), in liefde en vrede te leef en nóóit ledig rond te sit nie.

“Ledig was sy beslis nie! Op haar dag was sy ‘n vernuftige sakevrou wie se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Haar pragtige, gesmokte naaldwerk is tot vir prinses Anne in die koningshuis gestuur! Sy was ‘n bobaas bakster en kok, sy het ook self blomme geplant met ‘n planter, sy en haar man het hul eie meubelwinkel besit en sy was ook streeksbestuurder vir die meubelgroep Russels. Selfs na haar aftrede het Russels wéér vir haar ‘n pos aangebied,” spog sr. Sonja Stander van Ons Tuis: Riviera in Pretoria.
Hoewel dié nooi van Klerksdorp altyd eerste in haar klas gestaan,  kon haar ouers nie bekostig dat sy verder gaan studeer nie.

“Ek het hard gewerk en myself deur selfstudies verryk. Ek het nooit een kliënt se telefoonnommer in ‘n boek neergeskryf nie, want ek het dit sommer uit my kop geken. Een van my ses kinders het ook voor die ouderdom 15 gematrikuleer,” vertel tannie Tossie.

Tannie Tossie was twee keer getroud en het albei haar eggenote oorleef. Sy het 15 kleinkinders, 23 agterkleinkinders en ses agter-agterkleinkinders.

“My boodskap aan elkeen in Suid-Afrika is: wees leergierig, werk hard en wees verdraagsaam,” sê tannie Tossie.

Vir media navrae kontak:
Heleen van As
Skakelbeampte: Ons Tuis
E-pos: heleen@edgecommunications.co.za

 

Tannie Tossie Gouws van Ons Tuis Riviera (Pretoria) vier Sondag op Valentynsdag haar 100ste verjaardag. Selfs president Cyril Ramaphosa het haar persoonlik geluk gewens! Die plan is om die dag saam met haar naaste kinders te spandeer. Haar wens vir vrede en verdraagsaamheid onder Suid-Afrikaners sal deur die vrylaat van ‘n swerm duiwe gesimboliseer word.

Tannie Tossie (in blou) met haar dogter Tersia se tweede huwelik in 2013 saam met familie.

 

Tannie Tossie Tydlyn:

14 Februarie 1921: Tannie Tossie (néé Meintjes) is as tweede oudste kind gebore in ‘n huis in Klerksdorp.
1921: Suid-Afrika se tweede sensus vind plaas. Dagbreek manskoshuis aan die Universiteit van Stellenbosch open.Die akteur en filmvervaardiger Jamie Uys is gebore.
1925: SA se vlagskip rooiwynkulitvar Pinotage ontstaan uit ‘n kruising van Pinot noir- en Cinsaut druiwe.
1925: Afrikaans word amptelik as tweede taal in SA ingewy.
1939-45: Tweede Wêreldoorlog.
1950: Q20 smeermiddel is deur mnr. Robertson in Pinetown ontwikkel.
1961:  Suid-Afrika word ‘n republiek en verlaat die Britse Statebond.
1963: Driedimensionele betonblokke (wat sowat 20-ton weeg), dolosse,  is deur die Suid-Afrikaner Aubrey Kruger ontwerp ons hawens teen erosie beskerm.
1964: Nelson Mandela word tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
1966: Lesotho en Botswana word onafhanklike state.
1967: Die eerste suksesvolle hartoorplanting deur dr. Christiaan Barnard.
1974: Die eerste Kreepy Krauly, die revolusionêre swembad-suier,  word by die uitvinder Ferdinand Chauvier se huis in Springs beproef.
1972: Die CAT-skandeerder is gesamentlik deur die Britse ingenieur Godfrey Hounsfield en die Suid-Afrikaner Allan MacLeod Cormack ontwikkel.
1975–76: Mosambiek en Angola word onafhanklike state.
1976–81: Suid-Afrika verleen “onafhanklikheid” aan die Transkei, Bophuthatswana, Venda en die Ciskei-tuislande, maar hulle word nie in die buiteland erken nie.
1980: Zimbabwe (voorheen Rhodesië) word onafhanklik.
1985: Die Rubicon-toespraak.
1986: Paswette word herroep.
1990: De Klerk ontban die ANC, PAC en SAKP; Mandela en ander politieke gevangenes word vrygelaat. Namibië word onafhanklik.
1990–91: 1913 en 1936 Grondwette, Groepsgebiedewet, Wet op Bevolkingsregistrasie en Afsonderlike Geriewe opgehef.
1994: Die ANC wen die eerste nie-rassige, demokratiese verkiesing en Nelson Mandela word as president ingesweer.
1995: ‘n Elektroniese haai afweerde om onder andere duikers en branderplankryers te beskerm word ontwikkel.
1996: Grondwet van Suid-Afrika aanvaar.
2000: Grootskaalse industriële staking. 13de internasionale konferensie oor vigs vergader in Durban.
2003: Inwerkingstelling van breëbasiswet vir swart bemagtiging.
2012: ANC-eeufeesvieringe. Marikana-slagting. Moody’s gradeer Suid-Afrika af.
2014: Twintigste herdenking van ‘n demokratiese Suid-Afrika.
2018: Cyril Ramaphosa word president.
2020: Landswye staat van inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie.