Een van die grootste gevestigde mites volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is dat geestelike en fisiese agteruitgang van die mens onvermydelik is. Die waarheid is eintlik dat die getal persone bo die ouderdom van 60-jaar jaarliks aan die toeneem is. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die lewensverwagting vir Suid-Afrikaanse vrouens oor die afgelope dekade van 62,5-jaar tot 68,5 jaar verhoog.
“Die patroon wat ons dus moet raaksien is dat ons senior burgers langer daartoe in staat is om onafhanklik te leef en ‘n positiewe bydrae tot die samelewing te kan maak. Die onus berus egter op ons om hul lewenskwaliteit en welstand te bestuur. Daarom glo en belê die Ons Tuis-groep in die aktiewe veroudering van bejaardes,” sê Caretha Bronkhorst, arbeidsterapeut van die Ons Tuis-groep.
Ons Tuis bied ‘n verskeidenheid verblyfopsies, waaronder gespesialiseerde versorging vir pasiënte met Alzheimer en demensie by hul agt oorde landswyd aan. Vrywillige programme en aktiwiteite — om inwoners as ‘n familie saam te bind, hul fisiese en geestelike welstand te versterk en aan ‘n sin van doelgerigtheid te verseker — waarborg ‘n meelewende kultuur waar ‘n persoon sy of haar ouer jare hul goue jare kan maak.
Volgens Bronkhorst sluit hierdie aktiwiteitsgroepe ‘n verskeidenheid oefeningprogramme, vermaak soos films of musiekoptredes, ‘n kuns- en vlytgroepe, kerkdienste en speletjiesgleuwe in. Die musiek- en hondeterapie is ook ‘n groot trekpleister!
“Elkeen van hierdie aktiwiteite vertolk ‘n belangrike funksie ten opsigte van aktiewe veroudering. Gereelde, ouderdomsgepaste oefening is van kardinale belang vir persone wat byvoorbeeld aan osteoporose, artritis, onbeweeglikheid en swak bloedsirkulasie ly. Dit verbeter die toestand van hul gewrigte, stimuleer bloedvloei, verbeter hul postuur en verhoog hul konsentrasie. Ons Tuis se oefenprogram word gesamentlik deur my en ‘n fisioterapeut uitgewerk,” verduidelik sy.
Afgesien dat speletjies, soos Bingo, Rummikup en Scrabble, ‘n persoon se geheue en konsentrasie verbeter, lei dit ook die aandag van iemand se persoonlike probleme af. Dit is ontspannend, sosiaal en lig ‘n persoon se gemoed.
“Hoewel meeste aftree-oorde nie kans sien dat inwoners self troeteldiere aanhou nie, kan Ons Tuis nie die waarde wat diere — veral honde — tot ‘n ouer persoon se lewe kan toevoeg miskyk nie. Daarom bied ons hondeterapie vir bejaardes aan. Dié interaksie en fisiese aanraking is ‘n wonderlike teenvoeter vir eensaamheid en depressie,” sê Bronkhorst.
Die aftree-oorde spog ook met hul eie biblioteek waar ouer persone kan boeke ruil. “Die lees van grootdrukboeke is ‘n gunsteling tydverdryf vir seniors. Daarom is daar altyd die behoefte aan nuwes. Ons wil die publiek, wat kan help, aanmoedig om dalk só ‘n bydrae te lewer,” sê sy.
Die kollig val jaarliks in November op ouer persone en die bewusmaking van hul behoeftes. Volgens Bronkhorst is dit belangrik om hierdie spesiale groep mense te erken en ondersteun.
“Wanneer jy met seniors werk of die geleentheid het om hul beter te leer ken, besef jy dat hul nog lank nie met rus en vrede gelaat wil word nie: hul het soveel om te bied! Veroudering kan doeltreffend deur ‘n leefstylverandering en toepaslike sorg aangespreek word, sodat ‘n persoon voordeel uit ‘n langer, gesonder lewe kan trek,” sê sy.
BRON: www.euro.who.int/__data/assets/pdf_file/0006/98277/E91885.pdf
As deel van bewusmakingsmaand vir ouer persone se behoeftes loods Ons Tuis, in samewerking met Lig in Duisternis Uitgewers, vandeesweek ‘n boekrak met vier luisterstories spesiaal vir die jeug. Hou gerus ons sosiale media dop vir meer inligting.