Hierdie Valentynsdag vier Tannie Tossie Gouws van Ons Tuis Riviera, Pretoria, haar merkwaardige 103de verjaardag. In 2021 het Tannie Gouws op haar honderdste verjaardag ‘n spesiale gelukwensing vanaf President Cyril Ramaphosa ontvang, ‘n dierbare herinnering wat steeds in ‘n houtraam teen haar kamermuur by Ons Tuis pronk.
Met ‘n leeftyd vol ervarings en wysheid is Tannie Tossie werklik ‘n lewende geskiedenisboek. Sy is gebore in ‘n tyd waar die Britse monarg as staatshoof van die Unie van Suid-Afrika regeer het en het die land deur verskeie historiese veranderings en mylpale gesien.
Verby Suid-Afrika se ryk politieke geskiedenis, het sy die land se eerste suksesvolle hartoorplanting beleef, getuig van die onafhanklikheid van buurlande, en die ontwikkeling van die CAT-skandeerder en die Kreepy Crauly. Op die jeugdige ouderdom van vier jaar het sy aanskou hoe Suid-Afrika se vlagskip-rooiwynkultivar, Pinotage, gekruisteel is, en toe Afrikaans as die land se tweede amptelike taal erken is.
“Om te dink dat ek gebore is tydens die Spaanse griepepidemie en nou ‘n soortgelyke wêreldwye pandemie vir die tweede keer beleef!” het sy met ‘n glimlag opgemerk tydens haar honderdste verjaardag in 2021 te midde van die Covid-19-pandemie.
Haar geheim vir ‘n lang lewe is om altyd op te kyk na Bo, om nie te kla nie, om in liefde en vrede te leef, en om nooit ledig te wees nie.
“Ledig was sy beslis nie! Op haar dag was sy ‘n vernuftige sakevrou wie se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Haar pragtige naaldwerk is tot vir prinses Anne in die koningshuis gestuur! Sy was ‘n bobaas bakster en kok, sy het ook self blomme geplant met ‘n planter, sy en haar man het hul eie meubelwinkel besit en sy was ook streeksbestuurder vir die meubelgroep Russels. Selfs na haar aftrede het Russels wéér vir haar ‘n pos aangebied,” spog sr. Sonja Stander van Ons Tuis Riviera in Pretoria in 2021 oor tannie Tossie.
Alhoewel hierdie inwoner van Klerksdorp altyd eerste in haar klas was, kon haar ouers nie bekostig om haar verder te laat studeer nie.
“Ek het hard gewerk en my kennis deur selfstudie verfyn. Een van my kinders het selfs gematrikuleer voor die ouderdom van 15,” het Tannie Tossie vertel.
Tannie Tossie was twee keer getroud en het albei haar eggenote oorleef. Sy laat ‘n nalatenskap van 15 kleinkinders, 23 agterkleinkinders, en ses agter-agterkleinkinders agter.
“My boodskap aan elke Suid-Afrikaner is: bly nuuskierig, werk hard, en wees verdraagsaam.”