Op Woensdag 31 Julie het die bejaardes van Ons Tuis Andries Marie Oosthuizen tehuis (AMOT) op Parys ’n verfrissende en inspirerende ervaring beleef toe Annami Norwie van Youthful Aging hulle besoek het. Met haar passie vir die bevordering van gesondheid en beweging, het Norwie ‘n vuurvonk van energie en hoop aan die ouer geslag gebring.
Norwie, wat met ’n deernis vir die verouderende gemeenskap werk, het haar aanbieding oor beweging en bewustheid, ook bekend as aandagtigheid, met groot entoesiasme gelewer. Sy het die bejaardes aangemoedig om die vreugde van beweging te ontdek, omdat navorsing toon dat dit die verouderingsproses kan teenwerk. Haar doel was nie net om fisiese aktiwiteit te bevorder nie, maar om die geestelike en sosiale lewens van die bejaardes op te helder met pret en bewustheid.
Norwie, wat aanvanklik by die Mind Moves Instituut opgelei is, het later gespesialiseer in die Senior Mind Moves-opleiding. Hierdie opleidingspad het haar toegerus om saam met haar vernoot, Dr. Petra Schumann. ’n spesifieke program vir bejaardes te ontwikkel Hulle het ’n program geskep wat daarop gemik is om die fisiese en geestelike gesondheid van verswakte bejaardes te bevorder en versorgers te help deur hulle met doeltreffende bewegingspraktyke te ondersteun.
In haar aanbieding het Norwie die betowerende krag van beweging en bewustheid beklemtoon. Sy verduidelik dat, net soos hoe ’n pasgebore baba se brein deur beweging ontwikkel, ouer individue se brein ook kan floreer deur aktiewe deelname aan fisieke aktiwiteit. “Sonder beweging kan ons liggame verkleur en verouder, maar met beweging, pret, en positiewe emosies kan ons gesondheid hernu en ons lewenskrag behou.”
“Die integrasie van bewustheid – om doelgerig en met vreugde te beweeg – help om die brein se neurochemiese balanse te bevorder, wat ’n wêreld van voordele inhou,” sê sy.
Volgens Teresa Broodryk,Matrone van Ons Tuis AMOT, voeg by dat oefening ’n viering is van wat ’n mens se liggaam kan doen.
Annami Norwie se besoek aan Ons Tuis AMOT het die bejaardes se dae opgekikker en nuwe hoop gebring vir die bevordering van gesondheid en beweging. Haar kreatiewe benadering en die op-maat-gemaakte program het ’n positiewe impak gehad. Kontak Youthful Aging by annami.norwie@gmail.com vir verdere inligting en ontdek hoe hierdie benadering jou of jou geliefdes kan bevoordeel.