Ons Tuis > Artikels  > Raad vir ʼn gesonder leefstyl op jou oudag

Raad vir ʼn gesonder leefstyl op jou oudag

Mense wat reeds van ʼn vroeë ouderdom ʼn gesonde leefstyl handhaaf is geneig om die vrugte daarvan te pluk soos hulle ouer word maar dit is ook nooit te laat om te begin nie.

Studies onder ouer persone het bevind dat diegene wat ʼn gesonde leefstyl gehandhaaf het, oor die algemeen langer leef en dat hulle minder siek was in vergelyking met hul ongesonde eweknieë. Talle verskillende dinge gebeur met die liggaam wanneer mens ouer word. Jou beendigtheid neem af, jou spiere verloor krag en uithouvermoë en al die selle, organe en weefsel in jou liggaam verander.

Dit is dus baie belangrik om soos mens ouer word meer daarop te fokus om gesond te leef. Talle liggaamlike veranderinge vind plaas soos mens ouer word en is ʼn natuurlike deel van veroudering. Deur egter na jou gesondheid om te sien en ʼn gesonde leefstyl te handhaaf kan jy baie van die veranderinge vertraag en jouself minder vatbaar maak vir sekere chroniese siektetoestande wat algemeen by ouer mense voorkom, soos artritis, osteoporose en Alzheimers.

Daar is ‘n verskeidenheid maniere om jou gesondheid te verbeter selfs al begin jy eers op jou oudag daarmee.

Wenke om gesond te verouder:

Eet gesond en oefen gereeld
Soos mens ouer word verander jou metabolisme en spysvertering wat ʼn invloed op jou aptyt kan hê. Ouer persone het oor die algemeen ekstra kalorieë en proteïene nodig. Vrugte, groente en volgraan is ook baie belangrik. Dit is belangrik om na jou liggaam te luister en te kyk hoe dit reageer op ʼn gegewe dieet. Oefening sal jou help om meer krag en mobiliteit te behou en hou talle ander gesondheidsvoordele in. ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.

Moenie jou gesondheid afskeep nie
Dit is belangrik om voorkomend op te tree en dus gereeld vir mediese ondersoeke te gaan. Dit kan help om vroegtydig gesondheidsprobleme te identifiseer en onmiddellik te begin behandel. Hersien ook gereeld die medikasie wat jy gebruik en wees waaksaam oor enige newe-effekte wat medikasie kan veroorsaak.

Kyk ook na jou geestesgesondheid
Baie ouer volwassenes loop die risiko om geestesversteurings en neurologiese afwykings te ontwikkel. Bejaardes kan om verskeie redes depressief raak, insluitend weens die verlies aan ʼn lewensmaat of fisieke siektes. Ander psigiese toestande sluit in angsversteuring en demensie. Veranderings in leefstyl kan ook help om geestesgesondheid te verbeter.

Kry genoeg slaap
Ouer persone is ook meer geneig om slaapprobleme te ontwikkel. Dit sluit in om gereeld deur die nag wakker te word, slapeloosheid en moegheid deur die dag. Ontwikkel goeie slaaphigiëne soos om stimulante te vermy, jou slaapomgewing en bedtydrituele te verbeter.

Hou jou brein fiks
Die brein moet soos ‘n spier geoefen word en daagliks gestimuleer word. Dit kan gedoen word deur gereeld jou geheue te toets, nuwe vaardighede aan te leer, speletjies te speel wat dinkwerk verg en iets nuuts te leer.