Tannie Alida Prinsloo, ‘n gerespekteerde inwoner van Ons Tuis Piet Potgieter, het op 8 Julie haar 99ste verjaardag gevier. Sy is in Delmas gebore en getoë en is oortuig dat die geheim van ‘n lang lewe in dankbaarheid teenoor die Here lê.
Tannie Prinsloo, ‘n weduwee sedert haar man se afsterwe in 1975, is geseënd met drie kinders. Een van haar dogters is ongelukkig oorlede, maar sy geniet die liefde en vreugde van ‘n vol kroos kleinkinders en agterkleinkinders. Sy is sedert 1 April 2020 ‘n trotse inwoner van Ons Tuis Piet Potgieter, waar sy ‘n rustige en geliefde plek in die harte van mede-inwoners en personeel verower het.
Mariana van Tonder, bestuurder by Ons Tuis Piet Potgieter, onthou hoe tannie Alida in 1986 die eerste lid by ‘n dienssentrum in Potgietersrus was waar Van Tonder betrokke was. “Ek het in my hoedanigheid as maatskaplike werker saam met gemeenskapsleiers ‘n dienssentrum begin vir die gemeenskap en was daar bestuurder tot 2011. Tydens die eerste vergadering vir dienssentrumlede was tannie Alida die eerste bejaarde wat haar lidmaatskapvorm voltooi en betaal het. Ons het mekaar nou weer in 2020 by die ouetehuis raakgeloop, wat eintlik nogal kosbaar is.”
Van Tonder ken Prinsloo as ‘n geliefde en ontspanne inwoner wat altyd vriendelik is. Die stralende 99-jarige, wat onder ander inwoners ook vir haar vriendelikheid en liefdevolle geaardheid geken is, is op haar ouderdom steeds lief daarvoor om te lees en televisie te kyk. Sy bring baie tyd deur in gebed en glo dat elke dag ‘n geskenk is wat die moeite werd is om te waardeer.