June Pretorius wat op 18 Junie 1929 die wêreld betree het, het vanjaar haar 94ste verjaardag met groot dankbaarheid gevier. Haar ryk en betekenisvolle lewe duur voort by Ons Tuis Piet Potgieter, waar sy al byna sewe maande ‘n inwoner is.
Gedurende haar lewenspad het June elke dag met ‘n vonkel in haar oë en ‘n liefde vir die lewe geleef. Sy het ‘n onuitwisbare stempel op die Oos Vrystaat en die harte van haar geliefdes afgedruk. June se toewyding aan haar familie was onwankelbaar en het gelei tot die grootste vreugde en vervulling in haar lewe.
Vanaf haar skooljare by Kestell Hoërskool tot die dag wat sy haar man in Pretoria ontmoet het, het June elke oomblik geleef met ‘n passie en entoesiasme wat steeds brandend in haar bly voortbestaan. Sy vertel van die dag wat sy haar man ontmoet het. “Ek het voor my troue saam met sy sussie in Pretoria gewerk. Sy het my een aand gevra om aam met haar, haar kêrel en haar boetie ‘n opvoering te gaan kyk. Oupa en sy eks-meisie is toe net so ‘n rukkie terug uit.” Van daar het sy ‘n spesiale band met haar man gesmee wat hulle vir ‘n ongelooflike 54 jaar as lewensmaats vereenselwig het.
June se lewensvreugde het nie net by haar huwelik gestop nie. As die geliefde ouma van 14 kleinkinders en oumagrootjie van 19 agterkleinkinders, is June se impak op haar nageslag onmeetbaar.
In Januarie 2023 het June ‘n uitdagende val ervaar, wat aanleiding gegee het tot ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe. Sy het in die liefdevolle omgewing van Ons Tuis Piet Potgieter in Mokopane ingetrek, waar sy voortgaan om elke dag met dankbaarheid en blymoedigheid te leef.
Foto: Verskaf