Ons Tuis > Artikels  > Trotse Tannie Willie Bouwer van Ons Tuis: Riviera

Trotse Tannie Willie Bouwer van Ons Tuis: Riviera

Dit neem ‘n besondere mens om tot op 74 nog te verpleeg. Dieselfde tipe persoon wat op 101 steeds glashelder van verstand is.

“Die bestuurder het altyd gesê as ek nie geval en my arm beseer het nie, sou ek nog altyd gewerk het, al moes hulle my stoot in die rolstoel,” sê tannie Willie Bouwer, van Ons Tuis: Riviera in die omgewing van die Moot in Pretoria, die oudste inwoner van die Ons Tuis groep.

Tannie Willie het grootgeword in Knysna en haar pa was die prinsipaal van die plaasskool. Dis hy wat aangedring het dat sy Willie genoem word. Hy het gehoop op ‘n seun en by die naam bly staan toe ‘n dogter gebore is.

Tannie Willie het haar verpleegstersopleiding in Port Elizabeth en kraamopleiding in Kaapstad voltooi.

“Toe ek my opleiding klaargemaak het, was ek so trots toe ek daai sertifikaat vashou,” onthou sy.

Sy het in 1976 – op die ouderdom waar baie mense al na aftrede begin uitsien – by die einste Ons Tuis Riviera gewerk. Tannie Willie het vir drie jaar verpleeg voordat sy getroud en haar kinders gebore is.

Sy het weer begin werk toe die jongste van haar vier seuns tien jaar oud was. Die twee oudste seuns is ongelukkig reeds oorlede, maar sy is geseën met vier agterkleinkinders.

“Dit was ‘n harde slag toe my kinders oorlede is,” sê sy. “Maar mens moet vrede hê. Ek het baie om voor dankbaar te wees.”

Die uitgebreide familie het op Sondag 30 Augustus 2020 byeen gekom om haar mylpaal-verjaardag te vier.