Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Die liefdesmaand, Februarie 2021, was ‘n besondere geleentheid by Ons Tuis fasiliteite. Een waar die betekenis van liefde opnuut diepte gekry en uitgekristaliseer het. As ‘n sosiale media veldtog het ons inwoners die geleentheid gegee om hul ‘liefdesraad’ te deel. En wysheid kom beslis saam met grysheid. Die resultaat maak die stil stem binne jou weer wakker en gee perspektief waaroor die lewe eintlik gaan: liefde in oorvloed!

Ons sien dit tussen oudgetroudes, vriende, susters en ons personeel. Ons vier huweliksherdenkings, vriendskappe en die lewe. En daar kon tannie Tossie Gouws van Ons Tuis Riviera waarlik ook op Valentynsdag haar 100ste verjaarsdagkers blaas.

Een ding is nie twee nie: ons tuiste loop oor van liefde! Die liefde wat ons beleef is verdraagsaam. Hierdie liefde is diensbaar en onvoorwaardelik. Dit spreek van geloof.... Hierdie liefde is een groot genade en seën.

Ons gee om vir elke inwoner en personeellid, want jy is spesiaal — nie op Valentynsdag of in ‘n liefdesmaand nie, maar elke dag!

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

   
 
ONS TUIS NUUS
 
MANJIFIEKE MYLPALE

Ons wil graag die volgende persone geluk wens:

Oom Dawid Muller van Ons Tuis Emily Hobhouse het op Valentynsdag 94-jaar oud geword. Hy en tannie Millie (85) het op 4 Augustus 2020 hul 67ste huweliksherdenking gevier.

Tannie Tossie Gouws van Ons Tuis Riviera het ‘n intieme 100ste verjaarsdag met haar naaste familie geniet. Haar verjaardagwens was dat niemand op haar verjaarsdag honger ly nie. As ‘n simbool van haar mooi hart is ‘n swerm duiwe vrygelaat.
 
 
PIET POT DANKBAAR VIR PBT-SKENKING

Ons Tuis Piet Potgieter wil graag die First Rand Spire Fund bedank vir die persoonlike beskermingstoerusting (PBT) wat hul geskenk gekry het. Die tehuis was aangenaam verras dat die rekenaar hul naam vir dié geskenkpak gekies het!

Die hoof-verpleegkundige Suster Marlie Swart en die huishoudelikehoof Nelie Fourie het die skenking met dankbare glimlagte (onder hul maskers) ontvang. Die Covid-19 voorkomingsprogram skenking het onder andere maskers, handreinigingsmiddels, handskoene en bloeddrukmeters ingesluit.

 
ONS TUIS INWONERS VIER DIE LIEFDE SO SAAM-SAAM

Inwoners van Ons Tuis Andries Marie Oosthuizen is behoorlik op Valentynsdag bederf. Dankie vir stafverpleegster Pieterse vir al jou voorbereidings en moeite met die valentynsgeskenke.

Inwoners van Ons Tuis Emily Hobhouse het ‘n dag vol liefde en die samesyn terdeë geniet.

 

 
MAG GEEN KRISIS OOIT ONS GEESDRIF STUIT NIE

Op 18 Februarie het die baksters van Ons Tuis Annie Schiltz-aftreewoonstelle in Riviera die koerant gehaal met die volgende opskrif: Droeë krane stuit nie bobaas-baksters nie. Ten spyte van twee dae sonder water het die span inisiatief geneem en hul eie plan beraam sodat hul ‘fabriek’ nie gaan stilstaan nie. Die dames bak koekies, pasteie en pannekoeke as fondsinsamelingsprojek. Dankie dat jul vindingrykheid en deursettingsvermoëns vir ons almal ‘n inspirasie is!