Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

En ons deure is oop! Na bykans ‘n jaar is grendeltyd se inperkings opgehef tot ‘n vlak waar familie en vriende hul geliefdes weer kan kom besoek.

In ‘n maand waarin ons Internasionale Vrouedag, Internasionale Dag van Geluk en Menseregtedag vier, bring dit vir ons perspektief. Mense kan alles van jou wegvat of ontneem, maar innerlike geluk, herinneringe en vreugde is blydend — dit straal van binne. Jou nalatenskap en die voetspore wat jy in hierdie wêreld agter laat is ewig.

Wanneer ek met ongeloof terugkyk op die jaar wat verby is, staan inwoners wat mekaar deur die tyd van onsekerheid met liefde en omgee omarm het uit. Ek kyk met dankbaarheid terug na herinneringe van aktiwiteite en samesyn by ons onderskeie oorde; die glimlagte ten spyte van die gemis na hul mense. Ek is ook trots op ons personeel se bystand om hierdie wa deur die drif te trek.

Mag ons nooit vergeet hoe spesiaal ‘n enkele oomblik is nie. Maak herinneringe, lééf! Want dít is wat jou deur die donker tye dra.

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

   
 
ONS TUIS NUUS
 
MANNA UIT DIE HEMEL

Inwoners van Ons Tuis Piet Potgieter beskou die reuse skenking wat hul van Gift of the Givers op 9 Maart ontvang het as “manna uit die hemel in hierdie moeilike tye”. Die plaaslike Anglo Platinum (Mokopane) het hul daarvoor genomineer.

 
 
PICK N PAY BAAS BEDERF TEHUIS OP SY 90STE VERJAARDAG MET KOEK

Pick n Pay se baas, mnr Raymond Ackerman, het op 10 Maart sy 90ste verjaarsdag gevier en inwoners van Ons Tuis Piet Potgieter Ouetehuis met ‘n verjaardagkoek bederf. Aangesien hy nie vanjaar sy verjaardag met personeel kon deel nie — ‘n tradisie wat al meer as 50 jaar aankom — is koeke by winkels afgelewer. Volgens mev. Mariana van Tonder, bestuurder en maatskaplike werker van Ons Tuis Piet Potgieter, was hul plaaslike Pick n Pay hul benoem het om dit te ontvang. Ons Tuis-bestuur waardeer hierdie gebaar van welwillendheid en het mnr. Ackerman 'n besonderse nuwe lewensjaar toegewens.

 

 
SPESIALE TEEPARTY VIR ONS NUWELING BESTUURDERS

Inwoners van Machteld Postmus het op 25 Februarie 'n verwelkomingstee vir hul nuwe bestuurders gehou. Ilse Malan het in Februarie 2015 as STDS se admin-beampte begin en is tot bestuurder bevorder in September 2017. Op 1 Februarie is sy oorgeplaas en as bestuurder by Machteld Postmus aangestel. Ilanie van Staden is die nuwe admin-beampte.

 

 
MACHTELD POSTMUS MAAK NOTABOEKIES

Inwoners van Machteld Postmus kompleks het se maandelikse kreatiwiteitsprojek het op 17 Maart plaasgevind.

Op die oomblik is hul besig om hul eie notaboekies te maak.

Ons sê dankie aan Maryna Swart en Annemarie Schoeman wat ‘n hand bysit daarmee.

 
GESONDE LIGGAAM HUISVES ‘N GESONDE GEES

Gimtrim oefeninge vind elke Donderdag by Ons Tuis Machteld Postmus Kompleks plaas.

‘n Groot pluimpie van waardering gaan uit aan Orpa Hugo wat haar tyd afstaan om inwoners met oefeninge te stimuleer.

 
MASSEERTERAPIE

Masseerterapie by ons Seniorstuis Dienssentrum (STDS) het weer op 12 Maart hervat.

Streng Covid-19 protokol word gevolg en inwoners geniet elke oomblik van hierdie bederf!

 
LIEWE TANNIE LULU WORD 88

Tannie Lulu van Ons Tuis Louis Trichardt het op 5 Maart haar 88ste verjaardag gevier Sy is die tehuis se bakstertjie en maak die heerlikste vetkoeke. Ons wens haar ‘n geseënde nuwe lewensjaar toe!

 

 
NHSV SKENK MELKTERTE

Ons Tuis Machteld Postmus wil graag die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging (NHSV) vir die heerlike melkterte wat hulle 10 Maart daar afgelaai het bedank. Die inwoners voel baie spesiaal en vreeslik bederf!

 

 
KOSMOS BRING BOETIEK NA STDS

Kosmos Boetiek van Menlopark het op 12 Maart hul klere te koop gaan uitstal by ons Seniorstuis Dienssentrum (STDS). As die inwoners as gevolg van Covid-19 nie wil winkel toe gaan nie, dan bring ons die winkels na hulle!

 

 
INWONERS SE SPOGGERIGE GEBAK BY MINIMARK

Inwoners van Machteld Postmus kompleks het op 6 Maart ‘n Minimark gehou. Dit was voorwaar 'n gesellige geleentheid. Die heerlike gebak wat te koop aangebied is het gesorg dat die maskerdraery niemand se vreugde kon steel nie!