Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Daar is een ding wat nie twee is nie, die geesdriftige atmosfeer tydens vanjaar se Tooi Turkoois-maand was besonders aansteeklik! Sonder uitsondering het al die Ons Tuis-tehuise die geleentheid vir samehorigheid benut en, te midde van ‘n derde vlaag Covid-19 infeksies wat dreig, die voorreg om te kan oud word met oorgawe gevier!

By uitstek het ons weer bewus geword van die publiek en besighede se belangstelling en omgee-harte vir ons inwoners. Namens Ons Tuis wil ons graag ieder en elk, wat fondsinsamelingsprojekte en ander bewusmakingsinisiatiewe ondersteun het, hartlik hiervoor bedank.

Bejaardesorg in Suid-Afrika is ‘n komplekse tema. Luister gerus hier na die onderhoud wat ons op 15 Junie, toe Tooi Turkoois op ‘n einde geloop het, op Pretoria FM rakende die uitdagings wat bejaardes in die gesigstaar gevoer het.

CS Lewis het gesê: Kameraadskap is ‘n voedingsbron vir vriendskap. In die onseker tyd waarin ons leef, kom skud dit jou wakker en laat jou weer besef: daar is nie ‘n beter tyd in jou lewe om diegende rondom jou te koester as vandag nie.

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS NUUS
 
TREVOR NASSER VERMAAK BEJAARDES BY MPK

Die inwoners van Machteld Postmus is op Vrydag, 7 Mei, met ‘n optrede deur die virtuoos Trevor Nasser bekoor. Daar is ook heerlike sop en broodjies bedien.

 
 
JY IS MY KOPPIE TEE

Ons Tuis het in samewerking met Carmién Tee die “Jy is my koppie tee” facebook-kompetisie in Mei geloods. Die publiek is die kans gegun om iemand vir die heerlike rooibostee geskenkpak te nomineer deur te vertel wat die persoon uniek maak of waarom hul besonders is.

Gaan loer gerus op Ons Tuis se Facebookblad na almal se oulike insette. Hoewel dit ‘n moeilike keuse was, moes Carmién Tee twee wenners kies. Baie geluk aan Zandile, wat deur haar gebedsvriendin Antoinette, en Mmatladi Helenica, wat deur haar dogter Nicoletta, genomineer is. Loer gerus wat hul oor die spesiale dames te sê gehad het:

 

 
DIT WOEL IN PARYS

Werknemers by Ons Tuis: AMOT het in Mei opleiding in basiese brandbestryding en noodhulp ontvang. Dit is ‘n voorreg om ons personeel met die nodige vaardighede toe te rus sodat hul bevoeg is hoe om noodsituasies te hanteer.

‘Die Koffiekan’ het ook sy eerste ondersteuners op 20 Mei verwelkom!

 

 
MOEDERSDAG OM TE ONTHOU

Dit is vir Ons Tuis ‘n groot voorreg om ‘n groot groep moedertjies, ouma’s en oumagrootjies van Suid-Afrika te huisves. Daarom het die bestuur moeite gedoen om hul op Moedersdag, 9 Mei, spesiaal te laat voel.

Ons uitkyk was: Maak nie saak HÓÉ jy omgee nie, solank jy met oorgawe van jouself gee. Dit is ‘n Ma se hand wat jou hare uit jou gesig, die trane van jou wang en die seer uit jou hart vee. In die omhelsing van jou moeder se arms voel die wêreld reg.

Elke dame van Ons Tuis: Emily Hobhouse is met ‘n pragtige kolwyntjie (amper te mooi om te eet) en ‘n geskenkie bederf. Dit is deur Natasha Geldenhuys geskenk. Die vrouens het ook ‘n heerlike middagete saam geniet.

Debbie Pieterse het Ons Tuis: AMOT se Moedersdag hoedjies gemaak.

Die personeel van Ons Tuis: Machteld Postmus het bietjie sports gemaak en hulself soos bejaardes op Moedersdag geklee. Elke dame het ‘n pragtige geskenkie ontvang.

Ons Tuis: Piet Potgieter se inwoners is ook op die hande gedra met Moedersdag.

 
TOOI TURKOOIS JOLYT BY AMOT

Ons Tuis: Andries Marie Oosthuizen het ‘n spesiale tee gehou met die heerlikste kolwyntjies wat deur die NHSV vir elke bejaarde gebak is. Sr. Belia het ook turkoois armbande gemaak en as ‘n fondsinsamelingsprojek verkoop. Oom Hennie Venter van die Hervormde Kerk in Parys het die span met boeremusiek op sy bekfluitjie en kitaar kom vermaak op 28 Mei!

 

 

 
TOOI TURKOOIS MY ELKE OGGEND

Inwoners van Ons Tuis: Emily Hobhouse kan elke oggend weer herinner word hoe spesiaal hul is wanneer hul ‘n warm koppie koffie of tee uit hul mooi Tooi Turkoois bekers drink. ‘n Spesiale woord van dank aan Maryna Scheepers en Natasha Geldenhuys vir hierdie oulike projek.

 

 
COVID-19 INENTINGS

Hoewel maatreëls rondom besoeke en alle toegang tot Ons Tuis-tehuise weer opgeskerp is, kondig ons trots aan dat die inenting van personeel en ons inwoners vlot verloop. Lees gerus meer oor die proses en hoe ons plan verloop het hier.