Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Daar is ‘n gesegde wat lui: jou huis is waar jou hart is. En Ons Tuis se harte loop óór van dankbaarheid en seën!

In Junie is ons oorweldig met positiewe gebeure en goeie nuus. Dit wat ons met die publiek deur die media gedeel het is met warm harte ontvang. Ons het opnuut weer besef: positiewe nuus is wat mense nou wil en móét hoor.

Oom Willie Smit van Ons Tuis: Riviera het sy 100ste verjaardag gevier. Ons kon vadersdag herdenk en die ‘Neem ‘n grootouer aan’-projek weer afstof.  Die Tukkies dameskoshuis, Azalea (voorheen Katjiepiering), het met oorgawe daarby betrokke geraak. Dit is onbeskryflik om oor te vertel watter positiewe impak die moeite wat hul insit op ons bejaardes het.

Graag bedank ons die publiek en besighede wat aktief aan Tooi Turkoois deelgeneem en só

‘n verskil in bejaardes se lewens gemaak het. Van bederf wat uitgedeel is tot die sinvolle vroetelkomberse as geskenk vir Alzheimer se siekte pasiënte.

Ons Tuis het ook gefokus op bewusmaking vir die mishandeling van bejaardes (lees meer hier). Die fisiese, emosionele en finansiële welstand van bejaardes is ‘n riem onder ons hart.

En ja, daar was ‘n paar laagtepunte ook. Maar, nes oom Willie getuig, met God as jou kompas is daar nie ‘n ander opsie as om vorentoe te gaan nie.

Bly warm en gesond!

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS NUUS
 
OOM WILLIE RAAK 100

Oom Willie Smit van Ons Tuis: Rivera, wat op 10 Junie sy 100ste verjaardag gevier het, het geskiedenis gemaak toe hy op die ouderdom van 99-jaar op 1 Junie amptelik die oudste inwoner was wat ooit by ‘n Ons Tuis-oord opgeneem is.

Ons beste wense vergesel hom in die besonderse nuwe lewensjaar wat voorlê. Lees gerus die mooi berig wat in Beeld oor hom verskyn het hier.
 
VROETELKOMBERSE

Ons Tuis het die vroetelkomberse wat afsonderlik deur die algemene diakensvergadering (ADV) van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Kombers-engeltjies vir ons Alzheimer pasiënte geskenk is met ope arms ontvang. Die fyn motoriese items wat stewig daarop vasgewerkis sal gewis die pasiënte se hande besig hou.

Luister gerus na die Pretoria FM radio-onderhoud, wat op 7 Junie uitgesaai is, hoekom hierdie projek so besonders is.

 

 
‘NEEM ‘N GROOTOUER AAN’-PROJEK AFGESTOF DEUR AZALEA DAMESKOSHUIS

As deel van hul JOOL-projek het sowat 40 dames van Azalea dameskoshuis (Tukkies) by Ons Tuis se ‘Neem ‘n grootouer aan’-projek betrokke geraak. Volgens die organiseerder en huiskomiteelid, Michelle Kretzschmar (20), is jongmense soms skrikkerig om spontaan interaksie met ouer persone te hê. Hierdie projek het dus aan hul die geleentheid gebied om “oor hierdie hekkie te kom” en met nuwe oë na die wêreld te kyk.

Lees gerus meer hier oor die studente se betrokkenheid en hoe die bejaardes hulle lewens verryk.

 

 
DANKIE ADAM

Na 41-jaar se getroue diens het Ons Tuis: Piet Potgieter op 30 Junie afskeid geneem van hul bode, nutsman en tuinier: Adam. Hy het altyd met ‘n glimlag gehelp waar hy kan; sy sagte aanslag teenoor die inwoners was merkwaardig.

Ons Tuis gaan hom mis, maar gun hom ‘n gelukkige aftrede saam met sy geliefdes.

 
COVID-19 NUUS

Ons Tuis het aktief aan die regering se inentingsprogram deelgeneem (lees meer hier). Om ons inwoners teen die virus te beskerm het ons, sedert die vlak-4 inperkingsmaatreëls landswyd aangekondig is, streng maatreëls voorkomend ingestel asook alle toegang tot die oord beperk.

Ons saniteer ons oorde ook gereeld.

Kabous van Annie Schiltz lyk kompleet soos ‘n karakter uit ‘Ghost Busters’.

Ons Tuis: Piet Potgieter bedank graag vir FirstRand SPIRE Fund vir hul Covid-19 donasie van maskers, handskoene, handreinigingsmiddels en persoonlike beskermende klere.

Ons Tuis wil graag van die geleentheid gebruik maak om die families van geliefdes, asook die plaaslike gemeenskappe, vir hul deurlopende ondersteuning, bystand en begrip tydens hierdie uitdagende tyd bedank.

Die uitvoerende hoof, mnr. Jaco Bothma, en die bestuurder van Ons Tuis: Seniorstuis Dienssentrum, mnr. Hennie van der Walt, het ook hul inentings ontvang.

 
GEEN SPESIALE DAG IS ONGESIENS BY PIET POT

Die manne van Ons Tuis: Piet Potgieter is op vadersdag, 20 Junie, met heerlike biltong en sjokolade bederf.

Hulle het ook jeugdag gevier! Die werknemers sê: al woon en werk ons by ‘n ouetehuis, bly ons jonk in ons hart en gees.

 
INSTAGRAM

Ons Tuis is nou op Instagram!

Nooi gerus u kinders en kleinkinders om ons te volg: klik hier. Sosiale media is ‘n wonderlike metode om bewusmaking te skep en deelname (aan kompetisies, veldtogte en fondsinsamelings) aan te wakker. Wanneer die kinders weer kan kom kuier, neem gerus ‘n foto en “tag” ons: #onstuis