Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Ons spoggerige, nuwe, gebruikersvriendelike webwerf is aanlyn! Hier kan jul nou gemaklik snuffel en al die inligting rondom ons oorde — hul aktiwiteite, pragtige geriewe, tariewe  asook aansoekvorms — bekom en dit selfs met vriende en familie deel.

‘n Nuwe toevoeging tot die nuwe webwerf wat egter vir my die meeste uitstaan is die feit dat ons die geleentheid gebruik om ons staatmaker bestuurders aan jul voor te stel. Elkeen van hierdie spesiale mense het ‘n unieke lewenspadjie wat hul passie vir bejaardesorg gedryf het. Om ouer persone met deernis, respek en geduld te versorg is nie ‘n werk nie, dis ‘n roeping! Ons Tuis, en die inwoners sal met ons saamstem, is geseënd om hul aan die stuur van sake te hê.

Want, dit is hulle wat ‘n warm tuiste vir ons bejaardes skep. Hulle wat inisatief neem met verjaarsdae en ander spesiale dae om inwoners besonders te laat voel. Wat fondsinsamelings en kreatiewe aktiwiteite organiseer sodat bejaardes nog met hul talente en menswees kan spog en woeker. Hulle wat bystaan en ondersteun op moeilike dae wat die kinders te ver is.

Vandag wil ons aan elkeen van julle opreg kom dankie sê. Ons waardeer julle en sien jul raak! Doen so voort.

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS NUUS
 
DANKBAARHEIDSTEE

Ons Tuis: Machteld Postmus het  op 20 Julie ‘n dankbaarheidstee vir hul dienswerkers gehou. Hierdeur is hierdie groep inwoners vir hul jare lange, na-ure diens by die tehuis se dienskamer vereer. Ons salueer graag vir: Carol Pretorius,  Marietjie van Rooyen, Freda Surtees,  Johanna Lindeboom en Harriët Snyman.  

Daar is ook afskeid van Marietjie van Rooyen geneem wat na haar kinders in Bloemfontein verhuis. Sy was vir drie jaar en sewe maande ‘n trotse inwoner van Ons Tuis: Machteld Postmus. “Ons gaan haar baie mis!”  

 

 
PIET POTGIETER EREDIENS

Baie verwys daarna as die “nuwe normaal”, maar vir die inwoners van Ons Tuis: Piet Potgieter is dit glad nie te versmaai om heerlik in die sonnetjie te sit en na God se woord te kan luister nie. Hierdie buitelug eredienste versterk ons innerlike krag.

 

 
TANNIE NAKKI BARNARD RAAK 101!

Om 101 te kan word is verseker ‘n mylpaal, ‘n inspirasie en vir elkeen ‘n fakkel van hoop in die tyd waarin ons onsself bevind. Ons Tuis wil graag vir tannie Nakki Barnard van Ons Tuis: Riviera harlik geluk wens met haar verjaarsdag van 1 Julie.

Sy is nog op-en-wakker en was geseënd om die dag saam het haar kinders te kon spandeer. Lees gerus meer oor haar gebeurtenisvolle lewe hier.
 
HARTSEER AANKONDIGING

Met leedwese moet ons die afsterwe van twee staatmakers van Ons Tuis: Piet Potgieter bekend maak. Ons bid die Here se beskerming en vertroosting oor hul families, vriende en kollegas gedurende hierdie uitdagend routydperk.

Ons ontvangsdame, Martie Venter, het haar stryd teen Covid-19 op 20 Julie verloor. Sy was sedert 1 Mei 2012 werksaam by Ons Tuis. Daardie breë glimlag en haar diensbaarheid is moeilik om te vergeet.

Op 17 Julie is Sr. Van Zyl ook na haar Vader se huis. In die sowat 32 jaar wat sy ‘n werknemer van Ons Tuis was, was sy waarlik die toonbeeld van toewyding en omgee! Selfs jare na haar aftrede het sy steeds die ekstra myl as verpleegkundige gestap en was sy deurlopend steeds betrokke by Ons Tuis: Piet Potgieter en altyd gewillig vir afloswerk.

 
STRENG COVID-19 MAATREëLS GELD STEEDS

Streng maatreëls wat besoeke aan en toegang tot ons oorde betref geld steeds. Daar word ook nog gereeld gesaniteer. Ons inwoners se gesondheid en veiligheid bly ons eerste prioriteit.

 
INSTAGRAM

Ons Tuis is nou op Instagram!

Nooi gerus u kinders en kleinkinders om ons te volg: klik hier. Sosiale media is ‘n wonderlike metode om bewusmaking te skep en deelname (aan kompetisies, veldtogte en fondsinsamelings) aan te wakker. Wanneer die kinders weer kan kom kuier, neem gerus ‘n foto en “tag” ons: #onstuis