Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Vrouemaand by Ons Tuis het op ‘n hoogtepunt afgesluit toe ons oudste inwoner, tannie Willie Bouwer van Ons Tuis: Riviera, op 30 Augustus haar 102de verjaarsdag gevier het. Dit was behoorlik ‘n maand van mylpale met tannie Cathy Schlebusch van Ons Tuis: Van Rensburg wat kort voor dit, op 20 Augustus, haar gaste op haar 100ste verjaarsdag toegesing het!

Die liefde en belangstelling wat hierdie mense met die herdenking van hul geboortedag ontvang het, laat mens opnuut weer besef: dit is waarlik ‘n voorreg en ‘n seën om te kan oud word. Soveel méér om daagliks omring te word met persone wat werklik omgee.

Daarom wil ek graag elke personeellid van Ons Tuis ‘n klop op die skouer gee vir die geduld en deernis waarmee hul die inwoners versorg.

By Ons Tuis is elke bejaarde waarlik spesiaal!

Na afloop van enige onderhoud wat met ‘n inwoner gevoer word, besef ons elke keer opnuut: elke persoon is geseënd met sy of haar eie unieke lewensverhaal. Daarom het ons ook ‘n paar dames in Augustus uitgesonder en op ons sosiale media met hul gespog. Volg ons gerus op Facebook en Instagram om op hoogte te bly van die varste gebeure en nuus uit die Ons Tuis-oord.

Tot ons weer gesels!

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS NUUS
 
SLYP JOU TANDE VIR PIET POT SE BRILLE EN PILLE RALLY

Ons Tuis: Piet Potgieter se Brille en Pille Pretdag vind vanjaar op 6 November plaas. Die tema vanjaar is Boerepompie! Hierdie fondsinsamelingsprojek, met Thys en vriende wat as kunstenaars optree, bestaan onder andere uit ‘n ‘colour run’, die Brille en Pille Rally deur die dorp en ‘n voortreflike ontbyt. Vir meer inligting hou u kuberposbus en Ons Tuis se sosiale media dop, of kontak Ons Tuis: Piet Potgieter direk by (015) 491 6314. Koop u kaartjies vooraf om teleurstelling te voorkom.

 
SPOGGERIGE NUWE WIELE VIR ONS TUIS

Die twee voertuie wat Ons Tuis onlangs van die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang het, is spoggerig versier met ontwerpe deur Edge Communications. Duidelik kan jul sien waarheen ons oppad is!

 

 
BAIE DANKIE AAN GIFT OF THE GIVERS

Gift of the Givers het weer einde Augustus ‘n skenking van nie-bederfbare kruideniersware by Piet Potgieter Ouetehuis afgelewer. Dit was die laaste een van drie besendings wat die tehuis altesaam ontvang het. Ons Tuis wil weereens aan die plaaslike Anglo Platinum (Mokopane) baie dankie sê vir die nominasie en aan Gift of the Givers vir die insiatief.

 
VRUGTEVOLLE VERSKONING

Machteld Postmus het ‘n vrugteskenking van hul bure, mnr. en mev. Shi, met ope arms ontvang. Op hierdie ritme gaan hul beslis gesond bly en sal die bure glo nie weer so hard lawaai nie.  

 

 
MACHTELD POSTMUS SE GETROUE SIDNEY IS 50

Machteld Postmus Kompleks personeel en inwoners wens graag vir Sidney Masemola, die getroue senior sekuriteitsbeampte, geluk. Hy het op 24 Augustus 50-jaar oud geword.

 

 
HIEP HIEP HOERA-TEE

Die verandering in seisoen, met die heerlike warmer weer, het daartoe bygedra dat die koek en tee wat Machteld Postmus Kompleks aangebied is ‘n reuse sukses was. Dit is op 27 Augustus gehou vir almal wat onlangs verjaar het.

 
TANNIE CATHY 100

Ter viering van tannie Cathy van Ons Tuis: Van Rensburg se 100ste verjaarsdag, is daar vir haar ‘n spoggerige tee aangebied. Die formidabele, sterk vrou het tydens die geleentheid drie van haar gunsteling geestelike liedjies vir haar gaste gesing. Op 21-jarige ouderdom is sy as ‘n  Anglikaanse non geklee, waarna sy haar droom as opvoeder in Zambië, Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk verwesenlik het. Sy is ook later jare getroud. Om meer te lees oor haar interessante lewe kliek hier.

 

 
TANNIE WILLIE 102

Toe tannie Willie se paaie destyds met Ons Tuis: Riviera deur haar beroep as verpleegster gekruis het, sou sy nooit kon raai dat dit later haar tuiste sou word nie. Sy het op 30 Augustus haar 102de verjaarsdag hier gevier. Lees gerus meer oor die tannie wat so diep in almal by Ons Tuis: Riviera se harte gekruip het hier.

 
TWEE BESTUURDERS WORD OUMA

Machteld Postmus inwoners het hul bestuurder, Ilse, op 27 Augustus met ‘n ‘babatee vir ouma’ verras. Haar eerste kleinkind, ‘n dogtertjie EL, is toe op dieselfde dag gebore.

Sr. Sonja van Ons Tuis: Riviera vir ‘n tweede keer vanjaar ouma geword met die geboorte van haar kleinseun, DW (familienaam Daniel Wynand) op 11 Augustus. Haar kleindogter Shay is op 22 Junie gebore so sy speel behoorlik pop!

 

 
INSTAGRAM

Ons Tuis is nou op Instagram!

Nooi gerus u kinders en kleinkinders om ons te volg: klik hier. Sosiale media is ‘n wonderlike metode om bewusmaking te skep en deelname (aan kompetisies, veldtogte en fondsinsamelings) aan te wakker. Wanneer die kinders weer kan kom kuier, neem gerus ‘n foto en “tag” ons: #onstuis