Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Die Psalmdigter se woorde,

‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja,
wat ek ontvang het, is vir my mooi (Psalms 16:6),

gaan vir my akkoord met die maand September: wanneer die dag begin om vroeër te breek, ‘n mens een oggend opstaan en net beleef hoedat die veld ook na die winter wakker geskrik het en Suid-Afrikaners hartlik Erfenismaand met sielskos en tradisie vier. En by Ons Tuis was laasgenoemde gewis ‘n feestelike affêre!

Samesyn en om lekker te kan eet is gewis iets wat ons as Suid-Afrikaners geniet. Wanneer dit by kos kom is almal gretig om te eksprimenteer deur kulturele- en landsgrense met hul smaakkliere oor te steek.

Terwyl voedseldag vandeesweek wêreldwyd gevier word, wil Ons Tuis graag Suid-Afrikaanse landbouers — vir hul volhoubare praktyke om kos te produseer — bedank. Ons wil u uitdaag om die ketting van gebeure en rolspelers betrokke se harde werk te oordink wanneer u met ‘n heerlike, gebalanseerde bord kos voor sit. En om te bid vir hulle wat weens gesondheidsredes of ander beperkinge nie aan ‘n bord huiskos of trooskos kan smul nie.

Laat ons elkeen opreg dankbaar wees vir God se goedheid wat vir ons afgemeet is.

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS NUUS
 
ONS TUIS VIER ERFENISMAAND

Afval is nie sommer ‘n ete waarop jy wil uitmis nie. Parys se boerevereniging het inwoners van Andries Marie Oosthuizen op 24 September bederf met ‘n skenking sodat hul hierdie dis uit hul plattelandse ‘plaaskombuis’ kon geniet. Die bejaardes het behoorlik aan hierdie tradisionele ete wat eie aan Suid-Afrika is gesmul! Hul is ook die volgende dag met souskluitjies bederf.

Inwoners van Machteld Postmus Kompleks het heerlik in hul pragtige tuin op 23 September vir Erfenisdag gebraai en -kuier.

Piet Potgieter personeel het op Erfenisdag ‘n anderste mooi bekoring aan hul gehad met die dra van tradisionele drag.

Seniorstuis Dienssentrum se seniors het ook behoorlik uitgehang vir Erfenisdag!

 

 
DIS HEERLIKE LENTE

Ons Tuis Riviera het lentedag met musiek en maskers wat ge"bling" is verwelkom. Die Rodeo Girls het lyndanse kom doen en die personeel het lekker saam geskoffel.

Machteld Postmus se tuinkomitee het ‘n nuwe baadjie vir die oord aangetrek deur die terrein se potte as ‘n lenteprojek te verf. Volgens hulle is dit heerlike terapie om die potte so mooi vrolik te maak en eenvormigheid op die perseel te kry.

 

 
SKITTERENDE KUIEROGGEND BY MPK

Die Diamantspan het op 17 September 'n heerlike kuieroggend vir die inwoners van Machteld Postmus Kompleks aangebied. Daar is natuurlik ‘n skitterende verskeidenheid kossoorte voorgesit waaraan bejaardes kon pik en proe. Franci Fouché, ‘n Inwoner, het deel van die sanggroep uitgemaak.

 

 
DIAMANT HUWELIKSHERDENKING

Die Fourie-egpaar van Andries Marie Oosthuizen was geseënd om hul sestigste huweliksherdenking saam te kon vier. Hulle is op 2 September 1961 vanuit die NG Kerk Lamton in Germiston getroud. Marietjie Fourie was ‘n voorheen ‘n verpleegkundige by Nigel se aftree-oord en haar man ‘n makelaar vir Sanlam.

 

 
AMOT VIER LOSLITDAG

Inwoners van Ons Tuis Andries Marie Oosthuizen het moeite gedoen om Loslitdag te vier. Die spesiale dag is vir die eerste keer in 1995 as ‘n fondsinsamelingsprojek vir die bewusmaking van persone met gestremdhede ingestel. Stafverpleegster Pieterse het ook ‘n pragtige geskenk aan matrone Teresa Broodryk oorhandig.

 

 
BEWEEG IS LEKKER

Om te beweeg hou jou ‘n mens se liggaam en gees gesond. Dit is egter nie so eenvoudig namate jy ouer word nie.  Personeel van Ons Tuis Andries Marie Oosthuizen is in September deur Marietjie O’Heily se Mind Moves Movement-program met vaardighede en kennis toegerus hoe om oefening deel van bejaardesorg te maak.

 

 
AMOT SPOG MET TWEE BLOKRAAI BOFFINS

Die gesegde "If you don't use it, you’ll loose it”, is die twee bokkiesraaiselboffins van Ons Tuis Andries Marie Oosthuizen se inspirasie.

Sedert grendeltyd in 2020 aangekondig is, het Mariaan Oelofse (65) drie blokkieraaisel kompetisies gewen. Die laaste boekprys wat sy op 17 Junie deur die tydskrif TV Plus gewen het, het pas deur die pos gearriveer.

Rita Hurter (84) spog ook met twee boekpryse wat sy met Huisgenoot blokkiesraaisels gewen het. Met die agteruitgang van haar sig en geheue, het sy haar stokperdjie nou vir legkaarte verruil. Die oud-onderwyseres bied tans die die oord se Bingo aan.

 
TANNIE BLOM IS OOK 100

Tannie Marie Mulder, oftewel tannie Blommetjie, het op 26 September haar 100ste verjaarsdag gevier. Sy sê haar geheim vir die pragtige ouderdom is ‘n snytjie droë brood met ‘n koppie rooibostee. Die plaaslike Bosvelder koerant het ‘n mooi artikel oor haar geskryf om haar te vereer.

 

 
VERJAARSDAGTEE BY SENIORSTUIS

Seniorstuis Dienssentrum het ‘n mooi verjaarsdagtee op 19 September gehou vir almal wat verjaar het.

 

 
ONS TUIS IN DIE MEDIA

 

Ons Tuis fokus deurentyd om sake wat bejaardes raak deur artikels en mediaverklarings aan te spreek. Ons was onlangs twee keer in die nuus met onderskeidelik ‘n inligtings-artikel oor Alzheimer se siekte vir Wêreld Alzheimers dag (21 September) en ‘n mediaverklaring wat die voordele om tyd saam met ‘n bejaarde te spandeer gelys het met die oog op Internasionale dag van bejaardes (30 September). Luister gerus hier na die radio-onderhoud wat Heleen van As van Ons Tuis met die omroeper Susan Botha op Pretoria FM gevoer het.

Indien u nie ons persverklarings per e-pos ontvang nie, vul gerus u besonderhede op ons webwerf in of stuur ‘n e-pos na kommunikasie@otmt.org.

 

 
INSTAGRAM

Ons Tuis is nou op Instagram!

Nooi gerus u kinders en kleinkinders om ons te volg: klik hier. Sosiale media is ‘n wonderlike metode om bewusmaking te skep en deelname (aan kompetisies, veldtogte en fondsinsamelings) aan te wakker. Wanneer die kinders weer kan kom kuier, neem gerus ‘n foto en “tag” ons: #onstuis