Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Juniemaand was nie net ʼn maand waarin ons opnuut besef het dat die winter ons van alle kante af bekruip het nie, maar ook ʼn maand waarin ons weer kon beleef hoe daar nog goedheid en liefde in ons samelewing is.

Dit is verblydend om te ervaar dat daar steeds mense is wat ʼn oop hand het wanneer dit by ons bejaardes kom en nie wegkyk waar daar behoefte is nie.

Ons Tuis is dankbaar vir elke kombers- en ander skenking en waardeer veral die warm harte waarmee dit gegee is. Dankie.

Mag Julie ʼn maand wees waarin ons die wonderwerke om ons raaksien, te midde van ryp en snerpende koue.

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 

Die winter het nou al behoorlik kom nesskrop, maar gelukkig bly ONS TUIS-inwoners se harte altyd warm. Ons is dankbaar vir ʼn paar hoogtepunte gedurende Junie:

 
ONS TUIS NUUS
 
RIVIERA (Pretoria)

Die breipenne is hard aan’t werk by ONS TUIS Riviera. Hulle volgende blokkieskombers neem al goed vorm aan en ons hoop om in die volgende nuusbrief ʼn foto van die eindproduk te kan plaas! Kontak enige ONS TUIS-tehuis of vir Hannelie Fourie by hf@otmt.org of skakel haar by 012 325 1857 as jy ʼn baie welkome wolskenking wil maak.

Inwoners het ook in Junie daardie bogstorie dat jy nie soetgoed voor ʼn ete mag kry nie, finaal verkeerd bewys toe hulle net voor ete met kolwyntjies bederf is. Vadersdag was ook ʼn heuglike gebeurtenis toe besoekende kleinkinders bederfpakkies aan die inwoners uitgedeel het.

 

 
AMOT (Parys)

Die vriendelike AMOT-inwoners het hulle naaldwerktafel by die Hervormde Kerk se basaar beman. ONS TUIS is trots op ons inwoners se spoggerige handewerk.

 

 

 
EMILY HOBHOUSE (Pretoria)

Emily Hobhouse se boemelaarsaand het vir groot plesier en lekker lag gesorg. Hier is ons nooit te oud om te lag en pret te hê nie!

 

 

 
MACHTELD POSTMUS (Pretoria)

ONS TUIS Machteld Postmus se kombersprojek het in Februarie vanjaar afgeskop toe die twee kranige borduurders, Marieta en Marilie, besluit het om ‘n handwerkgroep te stig. Woensdae was breidag waar daar saam onder die lapa gewerk en gekuier is. Sestien dames het aan 18 kniekombersies gebrei asook aan musse en serpe. Die dames het besluit om hulle handewerk, wat moontlik gemaak is deur die welkome wolskenking van Ruby’s Haberdashery tesame met nog wol wat die dames self voorsien het, aan ONS TUIS Van Rensburg te skenk. Die uitdeel van die wolprodukte is saam met koek en toebroodjies geniet. Dit was ʼn spesiale geleentheid waar lywe én harte warm gemaak is.

Dankie aan Marie White vir die inligting. ʼn Paar van die inwoners het tydens hierdie projek vir die eerste keer leer brei – ons sien daarna uit om nog van julle handewerk te sien.

 

 
TOOI TURKOOIS

 

Die Tooi Turkoois-inisiatief, waarvan die hoofdoel is om mense bewus te maak van die probleme waarmee bejaardes te doen het, is weer vanjaar vanaf 15 Mei tot 15 Junie aangebied. ONS TUIS ondersteun jaarliks hierdie inisiatief omdat ons besef hoe afhanklik baie bejaardes van hierdie tipe skenkings is. Die Tooi Turkoois-inisiatief het vanjaar die Nederduitsch Hervormde Kerk se Word Warm-projek ondersteun waar daar gepoog word om 50 000 items te skenk wat mense warm kan maak.

Bejaardes van ONS TUIS Emily Hobhouse kan nadese hierdie koue winter met ‘n lekker warm kombers trotseer. Die Nederduitsch Hervormde Kerk Montana-Oos, wat gereeld by hierdie tehuis betrokke is, het 36 komberse aan inwoners geskenk. Die gemeente se predikant, dominee Frikkie van Wyk, het verduidelik dat hulle die behoefte vir komberse vir die winter raakgesien het. Sommige bejaardes wat in Emily Hobhouse tuisgaan, is slegs van ʼn staatspensioen afhanklik en het gevolglik hierdie skenking met groot dankbaarheid ontvang. Dankie aan Marisha Hermann, ʼn Akademia-student, vir die inligting en foto’s.

Amot-inwoners het groot waardering vir die komberse waarmee Every Nation Parys hulle bederf het.

ONS TUIS Machteld Postmus het ook ʼn praatjie bygewoon waar inwoners oor hierdie inisiatief ingelig is.

 

 
BESKIKBARE EENHEDE

ONS TUIS bied verskeie verblyfopsies aan persone bo 55. Gehalteverblyf is ons wagwoord en bekostigbaarheid maak dit moontlik. ONS TUIS bied veilige selfsorgeenhede, kamers of deelkamers met sekere tehuise wat ook oor fasiliteite beskik vir pasiënte wat aan demensie of Alzheimer se siekte ly.

Wil jy sorgeloos en aktief oud word? Kom loer gerus by een van ons agt tehuise in. Ons het tans die volgende beskikbare eenhede:

AMOT (ONS TUIS in Parys)

  • Drie kamers (een met versorging)
  • Selfsorgwoonstel met motorhuis 

Kontak: Amotbestuur@otmt.org of amotadmin@otmt.org

Riviera

  • 31 enkelkamers (selfsorg)

Kontak: otbestuur@otmt.org

Louis Trichardt

  • 39 enkelkamers
  • 3 dubbelkamers

Kontak: ltbestuur@otmt.org

Van Rensburg

  • 51 beskikbare beddens (etes, wasgoed, terapie, verpleging en skoonmaak ingesluit)

Kontak: Vrbestuur@otmt.org

Piet Potgieter

  • 9 enkelkamers
  • 2 dubbelkamers
  • 1 deeleenheid
  • 1 meenthuis (3 slaapkamers)
  • eenvertrekwoonstel

Kontak: marianavt@otmt.org

 

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.