|
Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
|
|
|
|
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR |
|
Julie 2022 is deur verskeie aktiwiteite en uitreikingsaksies gekenmerk waaraan die inwoners van Ons Tuis deelgeneem het.
Daar het wedersydse uitreiking plaasgevind waar die inwoners die koue getrotseer het om hul harte en hande na buite te open asook waar die gemeenskappe ʼn hand van welwillendheid na die inwoners uitgereik het.
Daar bestaan nie genoegsame woorde om die goeie harte en hande van ons inwoners en die individue en instansies wat bydraes gelewer en hulp verleen het te beskryf nie.
Die boodskap en belewenis van die maand is ongetwyfeld dat ongeag die omstandighede |
en die uitdagings van die lewe, elke individu ʼn verskil kan maak.
Die inwoners en die personeel van Ons Tuis-fasiliteite het ʼn ekstra myl gestap as toonbeeld van barmhartigheid.
ʼn Woord van dank en waardering word uitgespreek teenoor elke individu en instansie wat in ʼn koue maand ʼn warm hand uitgereik het na ons inwoners.
Psalm 125:4: “Here, doen goed aan die wat goed is, die opregtes van hart!”
Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis |
|
|
|
ONS TUIS NUUS |
|
kykNET-opname |
Ons Tuis was deel van Winslyn se reeks programme oor aftreebeplanning. Kyk gerus na episode 3, seisoen 9 op Catch Up (DStv) as jy dalk die program misgeloop het. Hier is ʼn paar skermskote van ons TV-sterre.
|
|
|
|
RIVIERA EN SENIORSTUIS DIENSSENTRUM (Pretoria) |
Ons Tuis Riviera en Seniorstuis Dienssentrum het met musse, serpe, bedsokkies en poppies wat deur die inwoners gemaak is na Louis Botha Kinderhuis asook na pleeghuise uitgereik. Soms is gee net so lekker soos ontvang.
Die groep Con Grazia (Italiaans vir grasie en elegansie) het die inwoners met viool, saksofoon, fluit en sang kom vermaak. Con Grazia, 'n baie musikale familie, tree plaaslik en internasionaal op met musiek wat wissel van klassiek tot kontemporêr. Dankie aan Neil Pieterse van Martins begrafnisdienste vir die donasie en Pierre Herbst wat die reëlings getref het.
Ons Tuis Riviera het tans behoefte aan basiese sanitêre produkte. Kontak gerus vir matrone Hennie van der Walt, bestuurder by Ons Tuis Riviera, by 012 329 3623 of stuur vir hom ʼn e-pos na otbestuur@otmt.org as jy dalk kan help.
Daar is tans eenhede by Ons Tuis Riviera en Seniorstuis beskikbaar:
|
|
|
|
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus) |
Juliemaand was ʼn bedrywige en baie geseënde maand vir Ons Tuis Piet Potgieter. Inwoners word weekliks deur vrywilligers bederf en daar was ʼn paar ruim en baie welkome skenkings waarvoor Piet Potgieter baie dankbaar is.
- Die Veterane Bystandsfonds skenk 200 kg vleis en R20 000 aan veterane wat inwoners by Ons Tuis Piet Potgieter is.
- Anglo American skenk 100 geskenkbewyse van R670 elk.
Dinsdae word daar ingekleur en Donderdae word daar Bingo gespeel. Vrywilligers wat aktiwiteite aanbied maak ʼn groot verskil in ons bejaardes se lewens! Piet Potgieter-inwoners het ook die naaldwerktafel by die kerkbasaar beman.
Piet Potgieter kan ook dans! Lyndansklasse is ʼn voorbeeld van Ons Tuis se fokus op aktiewe veroudering.
Ons Tuis Piet Potgieter bied behuisingsopsies wat wissel van selfsorgeenhede (kamers, woonstelle) tot gespesialiseerde sorg (demensie, Alzheimer se siekte).
Kyk gerus hier na die Piet Potgieter-leefstyl en kontak vir Mariana van Tonder by
marianavt@otmt.org as jy in een van die volgende beskikbare eenhede belangstel:
Verswakte bejaardes:
Huureenhede (woonstelle met kombuis, badkamer, woonkamer):
- 10 x eenslaapkamer-eenhede
Te koop:
- 3 x tweeslaapkamer-eenhede
- 2 x eenvertrek-eenhede
|
|
|
|
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys) |
Anna Patat het Ons Tuis-inwoners in Parys met komberse bederf. Die hele dorp was betrokke by die brei van blokkies vir die projek. Ons Tuis waardeer hierdie liefdesgebaar opreg.
Ons Tuis Andries-Marié Oosthuizen laat hulle nie deur beurtkrag onderkry nie! Dit is ʼn lekker verskoning vir potjiekos. ʼn Beespot, afvalpot en skaappot is deur die vroue van staal, wat sommer self vuur kan maak, aanmekaar geslaan om die inwoners behoorlik te bederf.
Ons oudste inwoner, tannie Babs Schütte, het op 27 Julie 97 jaar oud geword! Tannie Babs is al sedert 1996 ʼn inwoner van Ons Tuis Andries Marié Oosthuizen. Baie geluk tannie Babs!
Kontak gerus vir Teresa by amotbestuur@otmt.org of amotadmin@otmt.org as jy in verblyf belangstel. Die volgende eenhede is beskikbaar:
- Tien kamers vir behuising (een met versorging)
|
|
|
|
EMILY HOBHOUSE (Pretoria) |
Liefde in die gange het Ons Tuis Emily Hobhouse in die nuus laat beland nadat die trouklokkies vir twee van die inwoners gelui het. Lees gerus die artikel hier as jy dit dalk gemis het. Baie geluk oom Dawie en tannie Marié!
Gerugte doen ook die rondte dat daar nog ʼn verlowing plaasgevind het en dat daar binnekort dalk nóg ʼn troue by Ons Tuis Emily Hobhouse kan plaasvind. Dit laat ons met die vraag: Is daar iets in die water by Ons Tuis Emily Hobhouse?
|
|
|
Emily Hobhouse het tans die volgende beskikbare eenhede:
- 1 x eenslaapkamer woonreg-eenheid by Kismet
- 4 x klein kamers
- 3 x groot kamers
Kontak gerus vir Anelieze by ehbestuur@otmt.org indien jy belangstel.
|
|
|
|
MACHTELD POSTMUS (Pretoria) |
Die Winslyn-opname het by Ons Tuis Machteld Postmus plaasgevind en inwoners het gretig hieraan deelgeneem. Ilanie van Staden (bestuurder) het almal warm verwelkom met koffie en koekies wat deur die inwoners self gebak is. Ons Tuis is baie trots dat Machteld Postmus se mooi terrein en inwoners op die kassie kon verskyn.
Inwoners het tydens hulle kreatiwiteitsklas legkaartbome gebou en is ook sommer in die proses as akteurs ingespan.
|
|
|
|
|
LOUIS TRICHARDT (Danville) |
Inwoners van Ons Tuis Trichardt is met ʼn groot skenking van R20 000 bederf. Leané Dickenson, graad 10-leerling van Hoërskool Zwartkop, het ʼn fondsinsameling geloods waar sy en haar maats ʼn konsert by Eldoraigne Aftreelandgoed aangebied het met drama en sang. Lees gerus die artikel hier.
Ons Tuis is baie dankbaar vir hierdie skenking en wil graag onder andere vir die inwoners ʼn lekker groot televisie koop waar almal saam na verskillende programme kan kyk.
Ons Tuis Louis Trichardt het heelwat enkel- en dubbelkamers beskikbaar. Kontak gerus vir Vicky by ltbestuur@otmt.org indien jy sou belangstel.
Verblyf sluit twee etes, weeklikse wasgoed en skoonmaak in. Ons help ook met vervoer na en van hospitale en klinieke.
|
|
|
|
VAN RENSBURG |
Ons Tuis Van Rensburg se inwoners is op Mandeladag bederf met heerlike eetgoed en sang verskaf deur Heunis Steel.
Ons Tuis Van Rensburg het eenhede beskikbaar. Kontak gerus vir Jenny by vrbestuur@otmt.org indien jy sou belangstel.
Verblyf sluit etes, wasgoed, verpleging, terapie en skoonmaak in.
|
|
|
|
PAYFAST |
Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.
|
|
|
|
|
|
|