Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Wanneer jy die voorreg het om daagliks met bejaardes om te gaan, het Maya Angelou se alombekende aanhaling ekstra betekenis: “Ek het geleer dat mense sal vergeet wat jy gesê of gedoen het, maar dat hulle nooit vergeet hoe jy hul laat voel het nie”.

Hierdie woorde beklemtoon dat jy die spoor is wat jy agterlaat; fisies en emosioneel! Toe tannie Bokkie Marais se kamer by Ons Tuis: Piet Potgieter verlede jaar opgepak moes word, het haar familie op só ‘n handgeskrewe bevestiging — ‘n kosbare vonds — gerig aan die matrone tussen haar besittings afgekom:

“Ek wil elkeen baie dankie sê vir die liefde en omgee vir my. Dit was vir my ‘n voorreg om hier te kon bly. Dit was my tuiste. Gee my opregte dank aan almal hier.

Dit was my laaste blyplek. God se rykste seën wens ek julle toe. Met al my liefde. Tannie Bokkie Marias — Mei 2021”

Waar ek en jy aan die begin van ‘n nuwe kalenderjaar staan, vra ek graag: hoe lóóp jy? In die dolle gejaag van ons allerdaagse bestaan, maak ons tyd om op en om ons te kyk? Watter pad stap ons en is die fondasie stewig?

Ek wil jou uitdaag om vanjaar jou siel skatryk te maak deur op die mense rondom jou te fokus. Kyk hoe jy kan help en waar jy betrokke kan raak deur van jou tyd en Godgegewe talente te gebruik. Kom ons trap saggies maar laat diep spore na.

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS NUUS
 
KOSBARE NALATENSKAP

Tannie Bokkie was vanaf 1 Desember 2018 tot 15 Julie 2021 ‘n inwoner van Ons Tuis: Piet Potgieter. Hier is die handgeskrewe nota, geskryf twee maande voor haar afsterwe, wat tussen haar besittings gevind is. Dit was aan die matrone, Mariana van Tonder, geadresseer.

 
MINIMARK SPOG MET HANDWERK

Ons Tuis: Machteld Postmus Kompleks het hul laaste Minimark op Saterdag, 4 Desember 2021 gehou. Afgesien daarvan dat dit ‘n geleentheid is om fondse in te samel, bied dit ook aan kreatiewe inwoners die geleentheid om hul stokperdjies uit te stal sodat almal kan sien waarmee hulle hulself tydens grendeltyd gebesig het. Die dag is afgesluit met ‘n pap-en-wors-ete wat te koop aangebied is.

 

 
ONS LIG LUISTERSTORIES TERUGVOER

Indien u kleinkinders nog nie daarby uitgekom het om Ons Lig Luisterstories af te laai nie, moet u hul asb daaraan herinner. ‘n Skakel om die gratis, interaktiewe boekrak af te laai is beskikbaar op Ons Tuis se webwerf. Ons wil weereens ons dankbaarheid uitspreek teenoor Lig in Duisternis Uitgewers wat hierdie boeke aan ons beskikbaar gestel het.

Ook ‘n spesiale woord van dank aan ons vier lesers, almal bo die ouderdom van 80-jaar: Anna Marx (88) van Ons Tuis: Machteld Postmus, Dawn van Straaten (83) van Ons Tuis: Machteld Postmus, Freda Surtees (88) van Ons Tuis: Machteld Postmus en Jettie Booyse (81) van Ons Tuis: Riviera.

Vir meer inligting oor die projek luister gerus na die onderhoud wat op Pretoria FM geskied het op 13 Desember 2021.

 

 
TANNIE LINA SE 100ste VERJAARSDAG HAAL ENUUS

‘n Spesiale dag het op 21 Desember 2021 vir ‘n besonderse persoon afgespeel toe tannie Lina van Rensburg van Ons Tuis: Riviera 100-jaar oud geword het. Haar seun Hennie is ook ‘n inwoner van dieselfde oord!

Sy is op haar verjaarsdag, tydens ‘n intieme geselligheid wat deur haar kinders gereël is, met ‘n besoek deur die eNuus-span verras. Haar familie het veral moeite gedoen om ‘n uitstalling van haar handwerk en foto’s van haar jeug ten toon te stel. Om meer oor haar lewe te lees kliek hier of volg die skakel na die eNuus insetsel.

 

 
BEHOEFTE AAN TOILETWARE

Ons Tuis: Riviera het ‘n dringende behoefte aan toiletware. Enige iemand wat bereid is om ‘n skenking te maak is welkom om dit af te sit by ontvangs of vir Refilwe te kontak by (012)329 3623/4/5.

Die lys van items wat hul versoek is:

  • Aqueous room;
  • Seep (verkieslik wit);
  • Weggooibare mansskeermesse;
  • Sneesdoekies;
  • Deodorant (aanspuit en aanrol);
  • Lugverfrisser;
  • Tandepasta;
  • Shampoo;
  • Waslappe;
  • Handeroom; en
  • Babapoeier.

 

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.