Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Die jaar 2022, wat voel of dit maar onlangs afgeskop het, trek reeds in herfs. ’n Nuwe seisoen waar Ons Tuis met nuwe energie ons vele projekte en ons roeping van bejaardesorg gaan aanpak. Die bekende digter NP van Wyk Louw het die seisoen so mooi omskryf:

Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

Ons Tuis se meelewende kultuur wat almal welkom heet, is die afgelope twee maande met vurigheid uitgeleef. Ons vrywillige programme en aktiwiteite om aktiewe veroudering te bevorder, bind ons as ’n familie saam en ons inwoners het met die intrapslag van die jaar, seker gemaak die standaard is gestel vir die res van die jaar. 

Ons innoverende projek, in samewerking met Lig in Duisternis Uitgewers, genaamd “Ons Lig Luisterstories” was ons terugploeg en geskenk aan die Afrikaanssprekende jeug. Dié projek het wonderlike mediadekking ontvang, van gedrukte media, tot radio en ’n insetsel op die gewilde “Met ’n Huppel in die stap”-program op kykNET. Die projek is reeds in November begin om die fokus op die erns en behoeftes van bejaardesorg te plaas en Wêreld Kinderdag (20 November) te vier. Dit het voorwaar generasies bymekaar gebring.

Om Valentynsdag te vier het ons tehuise en inwoners hulle omgewing omtrent rooi geverf! Ons Tuis Amot in Parys se eetsaal is met harte en rooi versierings opgekikker. Daar was pragtige tafelversierings en ’n heerlike ete is aan die inwoners bedien. Ons Tuis Piet Potgieter het ’n Bosveld Liggiefees aangebied met 15km se liggies wat die strate van Mokopane tydens verlig het. 
Ons sien met groot afwagting uit na die volgende kwartaal.

Vriendelike groete
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS NUUS
 
DIGTERS IN ONS MIDDE

“As jy aan die voet van jou lewensberg staan — verwerp, alleen, gestroop van jou selfvertroue en die teleurstelling in die persoon vir wie jy alles opgeoffer het, roep jy na jou Hemelse Vader vir krag en wysheid. Jy moet opstaan, hierdie berg moet jy oor.
Die opklim is swaar en steil, maar die Vader se genade is groot. Voetjie vir voetjie vorder jy en in die tyd doen jy selfondersoek. Baie vrae maar ook moet jy nuwe doelwitte kry — die lewe gaan voort.

En dan as jy bo kom, is daar nuwe lig, lewe en hoop. Die Vader voorsien ons met net vertrou. – Dalene Basson, Karee 12, Ons Tuis: Piet Potgieter

*Dalene is sedert November 2004 ’n inwoner van Ons Tuis: Piet Potgieter aftree-oord. Sedert haar man se dood woon sy alleen en reik baie uit om haar mede-seniors behulpsaam te wees. Sy is nou 77-jaar oud.

 

 
GROOT DANKBAARHEID

Sonder die ondersteuning van individue en besighede uit die gemeenskap is dit onmoontlik om aan ons inwoners se behoeftes te voldoen.

Baie dankie aan Scientology wat ONS TUIS Emily Hobhouse se sanitasie gratis gedoen het die afgelope tyd. Julle maak ons hande sterk!

 

 
ONS LIG LUISTERSTORIES TERUGVOER

Indien u kleinkinders nog nie daarby uitgekom het om Ons Lig Luisterstories af te laai nie, moet u hul asb daaraan herinner. ‘n Skakel om die gratis, interaktiewe boekrak af te laai is beskikbaar op Ons Tuis se webwerf. Ons wil weereens ons dankbaarheid uitspreek teenoor Lig in Duisternis Uitgewers wat hierdie boeke aan ons beskikbaar gestel het.

Ook ‘n spesiale woord van dank aan ons vier lesers, almal bo die ouderdom van 80-jaar: Anna Marx (88) van Ons Tuis: Machteld Postmus, Dawn van Straaten (83) van Ons Tuis: Machteld Postmus, Freda Surtees (88) van Ons Tuis: Machteld Postmus en Jettie Booyse (81) van Ons Tuis: Riviera.

Vir meer inligting oor die projek luister gerus na die onderhoud wat op Pretoria FM geskied het op 13 Desember 2021.

 

 
DANKIE, MEV. FOURIE

ONS TUIS sê vandag dankie aan Hannelie Fourie vir 25 jaar se diens met hart aan Ons Tuis as organisasie en sy mense.

Hannelie, baie dankie vir jou insette, werk deur uitnemendheid gekenmerk en daaglikse ondersteuning. Jy beteken vir ons meer as wat woorde ooit sal kan sê!

 

 
EENHEDE BESKIKBAAR

ONS TUIS Machteld Postmus het twee eenhede te koop beskikbaar.

Kontak vir Ilanie van Staden vir besigtiging: 012 346 2418.

 

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.