Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | 02 - 2023
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

So vlieg tyd en bevind ons onsself in die maand van Februarie; die maand wat gekenmerk word as die “hartjie”-maand. Dis dan ook gewoonlik die gewildste tyd van die jaar wanneer jongmanne genoeg moed bymekaar skraap om die daadwerklike vraag te vra: Wil jy kys? Sal jy met my trou? Wie onthou nie daardie vlinder-in-die-maag-dae nie?

Dit bring ons na Ons Tuis se huis se tweede kamer, die kamer van Liefde.

Wat is liefde? Liefde word beskryf as ʼn sterk aantrekkingskrag tussen mense. Liefde sluit in: vriendelikheid, deernis, barmhartigheid, omgee, liefdevolle ondersteuning en nog baie meer.

Die antieke Griekse filosowe het verskillende vorme van liefde geïdentifiseer met verskillende betekenisse, bv. die liefde tussen man en vrou, die liefde tussen ʼn ouma/oupa en kleinkinders, liefde vir ‘n troeteldier, liefde vir sport, liefde vir soetgoed, of liefde vir tuinmaak.

Liefde is ook een van die mees algemene temas in die kunste. Romeo and Juliet wat deur William Shakespeare geskryf is, is een van die geskiedenis se bekendste liefdesverhale. Liefde is ʼn gewilde tema in liedjies, in films, in boeke, in gedigte, in skilderye. Probeer gerus self dink aan ʼn boek, ʼn fliek of ʼn lied wat jy ken waarin liefde die tema is en waarvan die woorde vir jou mooi herinneringe opbring.

Ons het liefde meer as enigiets nodig, en daardie onvoorwaardelike liefde kry ons in Jesus – God is die oorsprong van Liefde, Hy ken ons en het ons lief. Sy liefde stel ons vry om ander ook lief te hê. Kom ons kyk na Jesus en toon liefde aan mekaar in ‘n deurmekaar, onderstebo wêreld: Aangesien Hy ons so liefgehad het, dat Hy selfs Sy Seun gegee het om te sterf sodat ons kon lewe (Johannes 3:16) kan ons seker wees van Sy liefde vir ons in alle omstandighede (Romeine 8:38-39). As ons God dan liefhet met ons hele hart, siel, krag en verstand en ons naaste liefhet soos onsself (Lukas 10:27), kom ons leef dit hierdie maand uit in die tweede kamer van Ons Tuis en die res van die jaar deur liefde te deel met ander wat gebuk gaan onder siekte, onsekerheid, teleurstelling, hartseer, vrees, verlange of eensaamheid.

En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde (1 Korintiërs 13:13).

Kom ons versprei die soet geur van Sy liefde soos heuning op tuisgebakte brood.

Vriendelike groete,
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
HOEKOM MOET JOU MAATSKAPPY ʼn SKENKING MAAK?

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, die maatskappy kry ʼn belastingvoordeel en verder doen hy ook ʼn goeie daad.

Die maatskappy ontvang dan ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit asseblief om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2023 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 

 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Tannie Ita Hamman het onlangs haar 86ste verjaardag gevier! Sy was bevoorreg om dit saam met haar man, oom Willie, te kon vier.

 

Valentynsdag was soos altyd ʼn vrolike geleentheid en elke inwoner is met ʼn geskenkie bederf.

Kontak mev. Mariana van Tonder by marianavt@otmt.org as jy in een van die volgende beskikbare eenhede belangstel:

Verswakte bejaardes:

  • 10 plekke

Huureenhede (woonstelle met kombuis, badkamer, woonkamer):

  • 13 x eenslaapkamer-eenhede

Te koop:

  • 4 x tweeslaapkamer-eenhede
  • 2 x eenvertrek-eenhede
  • 2 x eenslaapkamer-eenhede
 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

Valentynsdag was ʼn dag wat eweveel deur personeel en inwoners geniet is. Tina Froneman is aangewys as Me. Valentyn. Hier is sy met haar wisseltrofee en AMOT se kosspan vir die dag.

Kontak gerus vir mev. Teresa Broodryk by amotbestuur@otmt.org of amotadmin@otmt.org as jy in verblyf belangstel. Ons het tans die volgende beskikbare verblyf wat etes, skoonmaak en wasgoed insluit:

  • Behuisingsafdeling – Enkelkamers (gedeelde geriewe)
 
EMILY HOBHOUSE (Pretoria)

ʼn Paar inwoners by Emily Hobhouse het die afgelope maand spesiale verjaardae gevier:

  • Tannie Magretha Hapgood-Strickland (92)
  • Oom Dawid Muller (96)
  • Oom Sam le Roux, oudste inwoner (96)

Valentynsdag was ʼn vrolike dag by Emily Hobhouse en daar is heerlik geëet!

Emily Hobhouse het tans die volgende beskikbare huureenheid:

  • 1 x Eenslaapkamer huurwoonstel
  • 2 x Groot kamers (sonder badkamer)
  • 2 x Klein kamers (sonder badkamer)
  • 1 x Groot kamer (met badkamer)

Kontak gerus vir mev. Anelieze Treurnich by ehbestuur@otmt.org indien jy belangstel.

 

 
MACHTELD POSTMUS (Pretoria)

Machteld Postmus verkoop koekies! Kontak gerus vir mej. Ilanie van Staden by 012 346 2418 of mpbestuur@otmt.org as jy jou koekievoorrade wil aanvul.

Hou ook hierdie spasie dop vir ʼn veldtog wat beplan word waar ander Ons Tuis-tehuise ook binnekort koekies aan die publiek beskikbaar sal hê.

 

 
VAN RENSBURG (Danville)

Daar is ʼn nuwe klokstelsel by Van Rensburg geïnstalleer wat tot voordeel is van inwoners aangesien daar op só ʼn manier ʼn beter diens deur ons personeel gelewer kan word.

Ons Tuis Van Rensburg het verblyf beskikbaar. Kontak gerus vir mev. Jenny Wesson by vrbestuur@otmt.org indien jy sou belangstel.

Verblyf sluit etes, wasgoed, verpleging, terapie en skoonmaak in.

Ons Tuis Louis Trichardt het heelwat enkel- en dubbelkamers beskikbaar. Kontak gerus vir mev. Vicky Muller by ltbestuur@otmt.org indien jy sou belangstel.

Verblyf sluit twee etes, weeklikse wasgoed en skoonmaak in. Ons help ook met vervoer na en van hospitale en klinieke.


 
RIVIERA EN SENIORSTUIS DIENSSENTRUM (Pretoria)

Tannie Tossie Gouws, oudste inwoner van Riviera, het op 14 Februarie die groot mylpaal van 102 bereik! Haar kinders het haar met heerlike eetgoed bederf en sy het selfs genoeg asem oor gehad om haar kersie uit te blaas. Haar raad om so oud te word, is om altyd aan die Here vas te hou en ander te help.

 

Inwoners is op Valentynsdag met lekker soetgoed bederf asook ʼn praatjie oor die liefde deur Marietjie Joubert, bekende prediker Stephan Joubert se vrou.

Daar is tans eenhede by Ons Tuis Riviera en Seniorstuis beskikbaar:

  • Volversorging en roetineversorging
  • Enkel- en dubbelkamers op grondvloer en eerste vloer
  • Beddens in Alzheimersiekte-afdeling per maand

Kontak matrone Hennie van der Walt by otbestuur@otmt.org of Stbestuur@otmt.org met enige navrae.

 

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.