Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | 03 - 2023
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Soos wat ons Aprilmaand se lydenskamer se deur agter ons toemaak en Meimaand se kamer betree, reflekteer ons op die belangrikheid van die grootste deel van die Paasseisoen wat verby is.

Moeder Aarde is in die nuwe seisoen besig om haar vere weer reg te skud vir die koue maande wat op pad is. Die bome se blare verander van kleur, die dae raak korter en die byt in die oggendluggie raak skerper.

Soos wat moeder Aarde haarself aan die begin van elke seisoen voorberei vir wat voorlê, kan ons ook van die geleentheid gebruik maak om die nuwe seisoen vol hoop en beloftes binne te gaan.

By Ons Tuis is Aprilmaand en die Paasseisoen 'n mooi herinnering van hoop en liefde. Ons het weer beleef hoe ons Skepper se liefde vir ons weer hoop in ons harte bring.

Ons het teruggedink aan hoe ons Skepper se lyding vir ons 'n nuwe lewe en 'n mooi toekoms verseker.

Ons is dankbaar vir al die liefde, ondersteuning en geskenkies wat ons van diebgemeenskap oor die Paastyd ontvang het.

Ons sien ook uit na Moedersdag die Tooi Turkoois-veldtog wat dié maand begin.

As jy die lydenskamer van Paastyd se deur agter jou toemaak, weet in jou hart dat dit slegs die begin is - en dat jou Skepper altyd oor jou waak ongeag jou omstandighede of uitdagings in die lewe

Vriendelike groete,
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, die maatskappy kry ʼn belastingvoordeel en verder doen hy ook ʼn goeie daad.

Die maatskappy ontvang dan ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2023 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Die bekende Erik Holm met sy Trauma tot Triomf het die Piet Potgieter-tehuis op 19 April besoek as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek. Inwoners het heerlik saam gekuier en eetgoed geniet.

Tannie Judy Sauer, wat sedert Junie 2018 reeds deel is van die Ons Tuis-gemeenskap by Piet Potgieter, het op 17 April haar 90ste verjaardag gevier! Tannie Judy, wat oorspronklik van Gauteng af kom, se geheim vir 'n lang lewe, is "familie wat vir haar lief is".

"Jy moet 'n kind van die Here wees en jy moet baie bid," is tannie Marie Human, wat op 14 April haar 98ste verjaarsdag gevier het, se geheim vir oudword. Tannie Marie, wat in Benoni grootgeword het en later in Natal, Bothaville en toe Pietersburg gewoon het, is nou 'n inwoner by Ons Tuis Piet Potgieter.

Kontak Mariana van Tonder by marianavt@otmt.org met enige navrae oor Ons Tuis Piet Potgieter.

 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

By Ons Tuis Andries-Marie Oosthuizen (ook bekend as AMOT) word die leë kruis regdeur die maand vertoon ter bevestiging van Sy opstanding.

“Die kruis dien as boodskap van die kruis wat nou leeg is en Jesus, die lam van God, wat as die finale offer geslag was vir die sondes van die mensdom,” sê Teresa Broodryk, bestuurder by AMOT.

Inwoners het ook tydens Paasfees elkeen ‘n geskenkie, wat deur Debbie Pieterse gemaak is, ontvang.

Inwoners en personeel by AMOT sien ook baie uit na die Tooi Turkoois-veldtog wat soos oudergewoonte vanaf 15 Mei tot 15 Junie sal duur. Beplanning word gedoen om AMOT in turkoois te tooi, spesiale aktiwiteite te geniet, saam te lag en saam te speel.

Kontak gerus vir Teresa Broodryk by amotbestuur@otmt.org of amotadmin@otmt.org vir enige navrae.

 
EMILY HOBHOUSE (Pretoria)

Kitty Nel het Sondag haar 86ste verjaardag gevier en is al sewe jaar woonagtig by Emily Hobhouse. Tannie Kitty is 'n bobaas-bakster en bederf die personeel gereeld met allerhande lekkernye.

Daar is tans die volgende verblyf beskikbaar by die Emily Hobhouse-tehuis:

  • 4 klein kamers sonder badkamers
  • 1 groot kamer sonder 'n badkamer

Kontak gerus vir Anelieze Treurnich by ehbestuur@otmt.org vir enige navrae. 

 

 
MACHTELD POSTMUS (Pretoria)

Machteld Postmus het op 30 Maart sy Lydensfunksie gehad. “Dit was 'n pragtige program met kunstenaars wat opgetree het en die twee dominees  van die Hervormde Kerk Pretoria wat voorlesings gedoen het,” vertel Ilanie van Staden, bestuurder by Ons Tuis Machteld Postmus. Na die funksie is daar heerlike sop en broodjies aan die inwoners bedien.

Machteld Postmus is ook op 29 Maart deur Roelien Fourie en Charlotte Drotsky van die Voortrekkermonument besoek, wat inwoners ‘n bietjie meer kom vertel het oor nuwe fasiliteite, dienste asook inligting oor gedenktuin by die Voortrekkermonument.

Kontak gerus vir Ilanie van Staden by mpbestuur@otmt.org met enige navrae oor Ons Tuis Machteld Postmus.

 
ONS TUIS VAN RENSBURG EN LOUIS TRICHARDT (Danville)

By Ons Tuis Van Rensburg is daar ook 'n klompie lekker bedrywighede aan die gang.

Paasfeesvieringe: Elma du Plessis van NHSV Magalies Moot het lekker saam met inwoners gekuier en Paaseiers uitgedeel. 'n Gereelde besoeker van die NG Kerk het ook tydens Paastyd tyd saam met inwoners deurgebring wat nie gereelde kontak met familie het nie. Personeel het op Paassondag 'n heerlike ete voorberei en moeite gedoen om die tafels en gange mooi te versier.

Ons Tuis Van Rensburg is ook besig met 'n "teddy bear drive" om mishandelde kinders wat deur maatskaplike werkers voorberei word vir hofsake, asook kinderhuise in die Pretoria-area te ondersteun. Inwoners is hard aan die brei en tot op hede is 180 beertjies klaar gebrei.

Foto: Mev. Truter wys twee van die
teddiebere wat sy gebrei het.

Student-fisioterapeute in hulle derde en vierdejaar is ook by Van Rensburg betrokke en die inwoners geniet die oefeninge om met mobiliteit te help.

Kontak gerus vir matrone Jenny Wesson by vrbestuur@otmt.org vir meer inligting oor Ons Tuis Van Rensburg.

 
ONS TUIS LOUIS TRICHARDT

Die Paasseisoen was ‘n heerlike paar weke by Louis Trichardt, vertel matrone Jenny Wesson, bestuurder by die tehuis. Inwoners is omtrent bederf met Paaseiers, kolwyntjies en ander lekkernye toe gemeenskappe van die Hervormde Kerke in Magaliesmoot, Erasmia, Stormvoël en Swartkops kom kuier het. Lewende Woord Centurion, sowel as Cerina Storm en haar span van die AC Guadians Foundation het ook by inwoners ‘n draai kom maak.

“Spesiale dank vir die liefde en belangstelling van al ons besoekers om Paastyd by Louis Trichardt so spesiaal te kon maak.”

 
ONS TUIS RIVIERA EN DIENSSENTRUM

By die Ons Tuis Dienssentrum het inwoners soos gewoonlik op Woensdae die vloer aan die brand gedans!

Die dierbare inwoners by die Seniortuis Dienssentrum staan vroeg soggens op om eetgoedjies te maak en die ooms steek sommer gou-gou vure aan om worsies te braai as deel van die sentrum se Inwonersfonds. Heerlike eetgoed soos mini vetkoekies & maalvleis / kolwyntjies / souttertjies word gemaak, wat dan teen ‘n klein bedrag verkoop word om geld in te samel wat dan op kreatiewe maniere aan die inwoners teruggegee word. Byvoorbeeld; ‘n sangeres wat vir inwoners kom ‘golden oldies’ sing en ‘n bietjie kuier.

 

Paasfees-lootjies en ‘n varsgebakte koek as prys was ook deel van die Inwonersfonds!

In Mei vanjaar sien ons uit na die Tooi Turkoois-veldtog wat op 15 Mei begin. Hou ons op sosiale media dop vir meer hieroor en hoe jy kan deel raak van hierdie wonderlike inisiatief!

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.