Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | 04 - 2023
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Die winter seisoen is besig om sy greep te verskerp, en as ons rondom ons kyk sien ons die tekens, bome wat blare verloor het, gras se groenigheid begin kwyn, mense met truie en baadjies.

Ons begin met voorbereiding vir die koue maande, komberse, verwarmers is uitgehaal, warm nagklere en pantoffels staan reg, die yskas word gevul met sop en daar word gesorg vir genoeg koffie in die kas!

Baie mense sê dan ook “Dis nou winter, so ons bly maar tuis”, of “Dis nou te koud om te kuier”. Baie gaan die somer-maande van tuinwerk en uitstappies saam vriende en familie nou mis, en wonder hoe hul, hulself gaan besig hou.

MAAR kyk ons na ons vyfde kamer vir die jaar, is dit “LEES”.

Wat van om bietjie later in die oggend te lê met ‘n boek? In ‘n sonnige hoekie te sit met ‘n tydskrif of koerant? Deel te neem aan ‘n gesellige boek-klub met ‘n warm koppie koffie?

Lees is al so lank deel van ons lewens en bied ons soveel inligting uit geskrewe bronne. Ons eerste kennisname met lees, nog lank voor ons self kon lees was ons ouers wat aand-na-aand vir ons slaaptyd stories gelees het; Pa/Oupa wat saans na ete die Bybel oopgemaak het om die eet-tafel tydens stilte-tyd en vir die gesin voorgelees het. Dit alles bring sommer ‘n warm en bekende gevoel na die hart.

Baie dinge het egter deur die jare verander met elektroniese media en kommunikasie wat groei. Maar hoekom bly lees belangrik? Lees is seker een van die vaardighede wat ons aangeleer word, wat die res van ons lewens verreikende gevolge het. Die gesegde lui ook dan mos: “Kennis is Mag” wat sy oorsprong het uit lees.

Wat is dit van lees?

Lees bou woordeskat. Dink aan kinders wat skool begin en leer lees. Hul lees elke maand ‘n nuwe leesboekie en leer hulle daarmee saam nuwe en “moeiliker” woorde aan.

Lees verbeter konsentrasie en geheue omrede die persoon fokus op geskrewe letters, en die brein daardeur ook sy oefening kry.

Lees laat ons ontspan.

Lees vermaak ons, mens hoef nie altyd swaar-moelike woordeskat boeke te lees nie, sommige boeke is lig en humoristies vir die siel.

Lees is ‘n positiewe aktiwiteit wat meer teruggee as wat ons insit.

Dit versterk persoonlike verhoudings; mense kan gesels oor ‘n boek wat hul gelees het. Baie boek klubs of leeskringe word so gestig. Dis moeilik om iemand te vergeet wat vir jou ‘n boek gegee het.

Dit verhoog redenasievermoë en versterk kritieke denke.

Ontwikkel kognitiewe vermoëns, want deur te lees, verstaan en leer ken mens die wêreld rondom ons beter.

Dit prikkel verbeelding en kreatiewe denke wat lei tot interessante stokperdjies of ekstra inkomstes wat gegenereer kan word.

Voorlesing aan mede-inwoners en klein-kinders versterk die verhoudingsband.

Die Bybel is nie aan engele of diere gegee nie, God openbaar Sy wil in Sy Woord aan die mens om te lees. Ons lees in Psalm 119:105 waar die Psalm-digter sê: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”  Wanneer ons dan ook verlore of doelloos voel in die lewe, kan ons die Bybel lees met die wete dat God ons pad sal verlig en ons met Hom kan wandel.

Mag die volgende hoofstuk en bladsy in u volgende boek vir u hope genot verskaf.

Vriendelike groete,
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, en maatskappye kan ook ʼn belastingvoordeel verkry.

Die maatskappy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2023 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 

Ons het in Mei Moedersdag gevier en op hierdie dag opreg weer waardeer wat moeders vir ons beteken! Die Tooi Turkoois-veldtog het op 15 Mei begin en sal voortduur tot 15 Junie.

 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Inwoners by Piet Potgieter geniet ‘n heerlike Moedersdag-tee. Baie dankie aan Karen Becker vir die inisiatief en borgskap.

Inwoners het ook heerlike eetgoedjies van Kameeldoring Gastehuis ontvang vir ‘n lekker oggendtee.

Kontak Mariana van Tonder by marianavt@otmt.org met enige navrae oor Ons Tuis Piet Potgieter.

 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

Inwoners by AMOT het op 14 Mei ‘n heerlike Moedersdag-ete geniet. 'n Moeder is kosbaarder as goud!

By AMOT het die Tooi Turkoois-inisiatief ook lekker afgeskop. Danielle Lubbe het inwoners bederf met haar getuienis en sang.

Karien en Johan Strydom van ORYX Africa het ook ter viering van Tooi Turkoois wildsvleis aan AMOT geskenk. Wintertyd is jagtyd en lekker wildspastei is iets wat altyd hoog in aanvraag is! Dankie!

Kontak gerus vir Teresa Broodryk by amotbestuur@otmt.org of amotadmin@otmt.org vir enige navrae.

 
EMILY HOBHOUSE (Pretoria)

Stoffel Bezuidenhout het in Mei sy 83ste verjaardag gevier.

Kontak gerus vir Anelieze Treurnich by ehbestuur@otmt.org vir enige navrae. 

 

 
MACHTELD POSTMUS (Pretoria)

By Ons Tuis Machteld Postmus is al die dames met 'n "fliek-dag" vir Moedersdag bederf. Ilanie van Staden, bestuurder by die fasiliteit, sê inwoners het 'n DVD van André Rieu op die grootskerm in die saal met die nuwe klanksisteem gekyk, en daarna heerlike koek en tee geniet. 

“Ons sê graag baie dankie vir die  heerlike eetgoedjies wat deur Reinette, haar ma Dorothy en die personeel van I Love Cookies voorberei is.”

Kontak gerus vir Ilanie van Staden by mpbestuur@otmt.org met enige navrae oor Ons Tuis Machteld Postmus.

 
ONS TUIS VAN RENSBURG EN LOUIS TRICHARDT (Danville)

Ons Tuis Louis Trichardt het op 29 April ook ‘n besoek vanaf die Lewende Woord Cullinan-gemeenskap geniet.

Inwoners het op 13 Mei Hennie Woest se 83ste verjaardag gevier. Baie geluk!

Kontak gerus vir matrone Jenny Wesson by vrbestuur@otmt.org vir meer inligting oor Ons Tuis Louis Trichardt.

 
ONS TUIS RIVIERA EN DIENSSENTRUM

Inwoners by Ons Tuis Riviera het ‘n bietjie in die stad gaan stap en gaan voëls gaan besigtig. Hulle het dit terdeë geniet.

Ons Tuis Riviera se viering van Tooi Turkoois was groot pret. Inwoners het aangetrek, gesing en dans. Helen du Plessis het almal met haar pragtige sang vermaak en selfs 'n paar trane is gepik. Inwoners het heerlike Milo en oliebolle geniet en selfs ‘n fotohoekie was ‘n groot sukses. Dankie aan al die personeellede van Riviera en ons dierbare inwoners!

 
BORG ‘N BADSAKKIE

Ons Tuis streef daarna om 'n versorgende omgewing te skep waar ons ouer inwoners hul goue jare met waardigheid en gemak kan geniet. Een van die belangrikste aspekte van hul welsyn is om persoonlike higiëne te handhaaf.

Om te verseker dat elke inwoner die sorg ontvang wat hulle verdien, begin Ons Tuis met 'n spesiale projek. Ons sal graag elkeen van die 120 verswakte inwoners van sy/haar eie badsakkie met die nodige toiletware wil voorsien.

Ons vra u vriendelik om te oorweeg om 'n paar van hierdie badsakkies vir ons inwoners te borg. Elke sakkie kan noodsaaklike items soos ‘n koekie seep, 'n waslap, tandepasta, tandeborsel, deodorant en handroom insluit. Deur selfs net een van hierdie badsakkies te borg, kan jy 'n onmiddellike en betekenisvolle impak maak op die lewens van ons bejaardes.

Indien jy ‘n verskil wil maak, kontak vir Bets Fourie by 012 329 3623.

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.