Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | 06 - 2023
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Die maand bevind ons ons in die sewende kamer by Ons Tuis. Die winter is in volle swang. En watse koue winter is dit nie nie! Oral waar jy ‘n geselsie aanknoop, vorm winter deel van die gesprek. Vroegoggend as mens deur die vensters staar en die koue aanskou vang jou oog iewers ‘n mossie of duif in vrede op ‘n takkie sit.

“VREDE”, as mens die woord opsoek, bring dit betekenisse van ‘n toestand van stilte, harmonie, welsyn. Dit het ook verdere betekenis van ‘n toestand sonder gevegte, sonder oorloë. Ons glo ons lewe in ’n tyd van vrede en dat vrede heers na die Tweede Wêreldoorlog. Is dit egter ware vrede as daar sedert die laaste wêreldoorlog reeds meer mense in onrus/oorlogsgeweld omgekom het as al die mense in die laaste wêreldoorlog saam?

Is daar werklik vrede as daar daagliks gemiddeld 40 000 nuwe vlugtelinge is? Is daar werklik vrede as die grootste deel van die menslike bevolking onderdruk word en honger ly?

Wat beteken die vrede wat ons in ons eie land ken en ervaar? Kan daar van vrede sprake wees as soveel teenstellings beleef word? Hoe kan ons van vrede praat as mense se lewens oorheers word deur misverstande, bakleiery en onmin?

Die Bybel leer ons ’n heel ander opvatting van vrede, dit is duidelik dat God ’n God van vrede is. In die Ou Testament word die woord “Shalom” gebruik as daar na vrede verwys word, en was en het dit alles te doen met goeie onderlinge verhoudings. Wat hierdie verhoudings betref, verwys die Bybel heel eerste na die verhouding tot God. Gestel alle onderlinge verhoudings is goed, maar die verhouding met God ontbreek, sal en kan daar nie opregte vrede heers nie.

Die orde waarin verhoudings staan is net so belangrik. Dit is heel eerste die verhouding tot God en vrede met God (Rom 5:1,2 en Kor 5:19), die verhoudinge met ander (Rom12:18), en daarna innerlike vrede met onsself (Fil4:7). VREDE is ’n gawe van God (Fil 4:9) asook Sy opdrag aan ons. Slegs as al hierdie verhoudings goed is. Slegs dan kan ons ontplooi en diensbaar wees. Dit is waaroor vrede gaan.

Ons almal het ‘n behoefte aan vrede. ‘n Mens ondervind vrede in ‘n gelukkige huisgesin, tussen inwoners, werkenemers, in jou familie en vriendskaps-kringe, ‘n groeiende sake-onderneming, die invloed wat jy in jou gemeenskap het, en die agting en liefde van jou medemens.

Daar is baie dinge wat ons egter van ons vrede kan beroof. Bekommernisse oor die daaglikse uitdagings soos politiek, ekonomie, optredes van onopregte mense, huweliksprobleme, werkloosheid, sondes uit die verlede, ons selfsugtige ‘eiewil’ ens. Maar sien in al hierdie onvrede die werking van die duiwel. Daarom waarsku die Skrif ons ook in Efesiërs 4:27 om die duiwel geen vatkans oor ons te gee nie. By hom is daar geen vrede nie. Die apostel sê: “Laat die vrede van God in julle harte heers” (Kol 3:15).

Kom ons vat hande, help mekaar, lei mekaar, ondersteun mekaar, leef in vrede en harmonie.

My boodskap en gebed vir al ons inwoners en werknemers by Ons Tuis, hul geliefdes, ons land en sy mense is: Mag dit ‘n tyd van vrede wees omdat ons as mense gevul is met die liefde van Jesus! Shalom!

Vriendelike groete,
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, en maatskappye kan ook ʼn belastingvoordeel verkry.

Die maatskappy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2023 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Tannie Alida Prinsloo, inwoner by Ons Tuis Piet Potgieter, het Saterdag 8 Julie 99 jaar oud geword. Ons sjef, Freddie, het vir haar 'n koek gebak.

Inwoners het Pierre van der Westhuizen se optrede by Ons Tuis Piet Potgieter geniet.

Ons Tuis Piet Potgieter sien uit na Kinder-ouerdag wat vanjaar op 19 Augustus plaasvind.

Hierdie dag gee ouers en kinders die geleentheid om heerlik saam te kuier!

Tema: 'n Dag op die plaas

Datum: Saterdag, 19 Augustus 2023

Tyd: 10:00

Plek: Hoogestraat 60, Mokopane

 

 

 

Anglo en die plaaslike departement van sosiale ontwikkeling het op Mandela-dag 'n donasie van kruideniersware aan Ons Tuis Piet Potgieter oorhandig. Ons is dankbaar!

Kontak Mariana van Tonder by marianavt@otmt.org met enige navrae oor Ons Tuis Piet Potgieter.

 

 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

Aktiewe veroudering... Kry die koue uit jou lyf uit! Die musiek laat almal wat verbyloop sommer saam oefen by Ons Tuis AMOT.

 
EMILY HOBHOUSE (Pretoria)

SBA Suid-Afrika was op Mandela-dag by Ons Tuis Emily Hobhouse om 'n skenking van toerusting ter waarde van R100 000 aan die sentrum te oorhandig. Die inwoners het die oorhandigingsfunksie bygewoon en was bederf met heerlike eetgoed!

 
MACHTELD POSTMUS (Pretoria)

Die inwoners van Ons Tuis Machteld Postmus het vandag weer ‘n markdag gehou, daar was heerlike pannekoek, vetkoek, konfyt, kerrie en rys, melktert, koekies, beskuit en dadelhappies.

Kontak gerus vir Ilanie van Staden by mpbestuur@otmt.org met enige navrae oor Ons Tuis Machteld Postmus.

 
ONS TUIS VAN RENSBURG EN LOUIS TRICHARDT (Danville)

Tannie Cathy van der Merwe, wat onlangs Covid-19-komplikasies ervaar het, voel nou weer stukke beter en verrig weer wonders met die potplante by Ons Tuis Van Rensburg.

Matrone Jenny, bestuurder by Ons Tuis Van Rensburg, sê tannie Cathy  kyk nog altyd baie mooi na die tehuis se potplante.

 

Ons Tuis Louis Trichardt-inwoners het beskuit vanaf die Pretoria-Wes gemeente ontvang. Dankie vir die smullekker winter-bederf!

Matrone Jenny Wesson ontvang hier 'n donasie van R25 000 vanaf Rudy Myburgh, hoof uitvoerende beampte van Putzmeister South Africa, aan Ons Tuis Van Rensburg.

Dié fondse is vroeër die jaar tydens 'n gholfdag ingesamel. Dankie aan die Putzmeister-span!

 

Die inwoners van Ons Tuis Van Rensburg het Donderdag 6 Julie heerlik Bingo gespeel.

Die Ons Tuis Van Rensburg-breiklub het as deel van Mandeladag-vieringe bygedra tot SAFREC. (Foto (voor, van links na regs) Mev. Koster, Mev. Kock, Mev. Richter (agter) Elmarie van SAFREC en Mev Truter.)

Kontak gerus vir matrone Jenny Wesson by vrbestuur@otmt.org vir meer inligting oor Ons Tuis Louis Trichardt.

 

 
ONS TUIS RIVIERA EN DIENSSENTRUM

Ons Tuis Riviera het Saterdag 8 Julie 'n suksesvolle "Blue Zone"-aanbieding aangebied.

 
BORG ‘N BADSAKKIE

Ons Tuis streef daarna om 'n versorgende omgewing te skep waar ons ouer inwoners hul goue jare met waardigheid en gemak kan geniet. Een van die belangrikste aspekte van hul welsyn is om persoonlike higiëne te handhaaf.

Om te verseker dat elke inwoner die sorg ontvang wat hulle verdien, begin Ons Tuis met 'n spesiale projek. Ons sal graag elkeen van die 120 verswakte inwoners van sy/haar eie badsakkie met die nodige toiletware wil voorsien.

Ons vra u vriendelik om te oorweeg om 'n paar van hierdie badsakkies vir ons inwoners te borg. Elke sakkie kan noodsaaklike items soos ‘n koekie seep, 'n waslap, tandepasta, tandeborsel, deodorant en handroom insluit. Deur selfs net een van hierdie badsakkies te borg, kan jy 'n onmiddellike en betekenisvolle impak maak op die lewens van ons bejaardes.

Indien jy ‘n verskil wil maak, kontak vir Bets Fourie by 012 329 3623.

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.