Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | 08 - 2023
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Ons is hierdie maand in die kamer van “dankbaarheid” van Ons Tuis se huis. Ek het die voorreg om een lieflike Saterdagoggend in September ‘n koffiewinkel saam met vriende te besoek. Ek is dankbaar vir my familie en vriende wat sonder ophou gesels en lag en duidelik die oomblik geniet. Ek kyk om ons rond, daar is mense wat by tafeltjies sit met strak somber gesigte, sommiges lyk baie ongelukkig, bekommerd, ander is besig met werk of is in diep gesprekke met die wat hul tafel deel. Hier en daar vang my oor ‘n gesprek. “Die wêreld is nou so deurmekaar, daar is geen hoop meer nie.” “Het jy gesien die brandstofprys skiet weer volgende maand die hoogte in, nie eers te praat van die kragondebrekings.” Ongeveer 90% van die oggend se gesprekke was op ‘n negatiewe trant.

Die media verkondig daagliks horde negatiewe gebeure, wat sensasioneel van aard is wat strek vanaf misdaad, natuurrampe, brande, oorstromings, armoede tot werkloosheid, alles wat bydra tot die negatiewe in ons daaglikse lewe, en wat ook nie net beperk is tot Suid-Afrika nie, tans ‘n wêreld-tendens.

Na ‘n baie lekker kuier en oppad huis toe tref dit my dat ten spyte van alles wat rondom my gesê was en die totale negatiwiteit wat te speur is, is daar groot dankbaarheid in my hart en siel. Dankbaarheid vir my gesin, my vriende, my lewe en bo alles dankbaarheid aan God wat alles vir ons gee, wat vir ons aan die kruis gesterf het.

Die aand lees ek Filippense 4: 4 – 8:  Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Die Bybel is gevul met verse wat met ons praat oor dankbaarheid; en dat ons God en ons medemens moet dank met dankbaarheid.

Kolossense 3:15: Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.

Kolossense 4:2: Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.

Dankbaarheid vir wat ons daagliks ontvang, is ongelukkig dikwels ’n vreemde verskynsel by baie mense. Baie glo hul het gewerk vir wat hulle ontvang. Natuurlik is dit nodig om te werk. Paulus skryf dan ook dat mense wat nie werk nie, nie kan eet nie. Maar as jy werk, mag dit egter nie jou dankbaarheid en afhanklikheid minder maak nie.
Wanneer ons dankbaar is, fokus ons op wat ons het en sien al die seëninge in ons lewens raak. As ons nie dankbaar is vir wat ons reeds het nie, gaan ons fokus op die dinge wat ons nie het nie en ongelukkig raak daaroor.

In ‘n studie is mense in drie groepe verdeel, een groep is gevra om elke dag ‘n paar sinne te skryf oor dinge waarvoor hulle dankbaar was. Die tweede groep moes skryf oor alles wat hulle geïrriteer en ongelukkig gemaak het en die derde groep moes net skryf oor wat met hulle gebeur het sonder om te fokus op die positiewe of die negatiewe.

Na 10 weke was dié wat geskryf het oor die dinge waarvoor hulle dankbaar was, baie meer optimisties en het beter gevoel oor hulle lewens as diegene wat op die negatiewe gefokus het.

Dit laat my dink aan die storie van ‘n boemelaar se les oor dankbaarheid.


Andy (‘n skuilnaam) vertel sy storie:

‘Ek is 58. My lewe het ’n skewe draai geloop. Alles my eie skuld. Om weer onder te begin is nie maklik nie. ’n Ou moet maar baie hare op jou kop hê om dit reg te kry. Maar met God in jou, kan jy dit doen.

My swak besluite het my twee en ’n half jaar op straat laat beland. Letterlik. Ek het saam met die “boemies” gelewe. Dit wat ek daar gesien het, is hartverskeurend.

Gelukkig het ek nie in “daardie groef” geval van drink en alles vergeet nie. Ons gewone mense raak kwaad as hulle bedel net om ’n “kannetjie” te kan koop, maar ’n dag raak lank as daar geen vooruitsig vir die dag is nie.

Net toe ek in die straat moes begin bly het dit een nag gereën soos met die vloed. Ek het nie komberse gehad nie. Ek was deurnat. Niemand wou help nie.

Op daardie stadium het die kerk my ’n kamer gegee om in te bly. Ek bly al ses maande in die plek en is tans besig om my lewe met God reg te maak. Dis nie maklik nie.

Een ding van hierdie journey is dat ek geleer het om dankbaar te wees vir my bed, komberse, ’n kussing en ’n dak oor my kop. Ons gewone mense beskou dit as ’n “moet” en deel van die lewenspakket. Dankbaarheid is ’n woord wat ons nie reg verstaan nie.

En hoe reg is Andy nie. “Dankbaarheid is ’n woord wat ’n mens nie reg verstaan nie.” Andy het alles verloor en op die straat gesit sonder ’n kombers of ’n reënjas. Hy verstaan om niks te besit nie. Daarom verstaan hy ook van dankbaarheid vir die kleinste dingetjie en gebeurtenis.

Wanneer ’n mens jou vinger sny, kry jy mos elke keer seer as jy aan iets  raak of optel. Dan eers besef ’n mens wat jou hande alles doen. Dan is ’n mens dankbaar vir die gebruik van jou hande. Moet ons eers ’n besering opdoen of soos Andy alles verloor om dankbaar te wees?

Ons het soveel om voor dankbaar te wees. Vir die genade van God wat ons uitgekies het om Sy kinders te wees. Om te gaan slaap met ’n kombers en ’n kussing en ’n dak oor ons kop. Om in die oggend wakker te word en ’n hart wat klop. Om asem te haal en die voëls te hoor tjirp. Vir familie en vriende. En so kan ons elkeen ons lysie langer maak.

Dankbaarheid moet ons hele lewe se vertrekpunt wees. Dit is een van die geheime van ‘n gelukkige lewe. As ek en jy dit kan reg kry om met dankbaarheid te leef, verander dit die wêreld vir ons. Mense wat deur dankbaarheid gedryf word is positief en wil vir ander ook die lewe gun en soek plekke om van hul dankbaarheid uit te deel en ‘n verskil te maak. Kyk verby dinge wat ons negatief skoei en sien die seën wat ons het raak.

Leef jy, jou dankbaarheid, elke dag, met daad en woord uit. Verander jou daaglikse groet met die woord “Dankie”. 

My gebed van dankbaarheid:
Dankie, Here, vir alles waarmee U ons inwoners en werknemers seën. Help ons om in dankbaarheid te leef, ook wanneer ons swaarkry, want dan is dit vir ons moeiliker om U hand en U versorging raak te sien, al weet ons U is altyd by ons. Amen.

Ek groet u met “Dankie”!

Vriendelike groete,
Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, en maatskappye kan ook ʼn belastingvoordeel verkry.

Die maatskappy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2023 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
IN DIE NUUS VANDAG…

In die nuus vandag... Riaan Cruywagen geniet 'n tuisgebakte Ons Spens-koekie. Die legedariese nuusleser sê die koekies is heerlik!

 
WOEKER WERK-TUINEKOMPETISIE

Die lente is hier! As deel van Lente-vieringe hou Ons Tuis ‘n opwindende tuinkompetisie tussen die verskeie tehuise.

Elkeen van ons tehuise sal deur die loop van September opknappingswerk doen en sy tuin op sy beste laat lyk. ‘n Onafhanklike beoordelaar sal die wenner dan aan die einde van September aankondig.

Wie dink jy gaan wen?

 
 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Baie dankie aan ds. Anneline en die NHK Kempton Park Oos-gemeente vir die ruim donasie aan Ons Tuis Piet Potgieter.

Studente van die universiteitsoord het Ons Tuis Piet Potgieter besoek. Almal het heerlik saam gesing en gekuier.

Thys Gouws, inwoner by Ons Tuis Piet Potgieter, het 'n Ikoon-toekenning by die ATKV vir sy jarelange bydrae tot Boeremusiek ontvang. Baie geluk!

#Erfenisdag-vieringe by Ons Tuis Piet Potgieter!

Tannie Sheila Rademeyer by Ons Tuis Piet Potgieter het Saterdag 16 September 95 jaar oud geword. Veels geluk!

Tannie Martie Nel, inwoner by Ons Tuis Piet Potgieter, het op 30 September 90 jaar oud geword. Baie geluk!

 

Skryf die datum in jou dagboek neer! Ons Tuis: Piet Potgieter bied weer Brille & Pille aan op 4 November.

 

 

Kontak Mariana van Tonder by marianavt@otmt.org met enige navrae oor Ons Tuis Piet Potgieter.

 

 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

Heerlike lentevieringe by Ons Tuis AMOT!

Iona Henning het ons bejaardes kom wys hoe om die winter behoorlik af te skud en ons sommer ook geleer dat oefeninge nie werk hoef te wees nie.

Lentedagvieringe by Ons Tuis AMOT... Almal is ingespan om die dag ekstra spesiaal te maak vir ons inwoners. Creare kom tree ook op en bedien ons met dans en saam sing. Beurtkrag keer ons nie om die volheid van die lewe te ervaar nie!

 

 
Ons Tuis Machteld Postmus

OGGENDMARK by Ons Tuis Emily Hobhouse

Dagboek die datum en kom geniet die dag saam met ons!

  • Saterdag, 4 November
  • 08:00 - 14:00
  • 55 Malherbestraat, Capital Park, Pretoria

Almal is welkom!

 

 
Ons Tuis Emily Hobhouse

Inwoners by Ons Tuis Machteld Postmus het op Lentedag 'n heerlike verjaarsdagtee gehou vir die verjaarsdae wat in Julie en Augustus plaasgevind het.

Anneliese Bothma het die inwoners ook toegespreek oor die "Blue Zone"-konsep.

Wie sê dames kan nie braai nie? 

Die manne by Ons Tuis Machteld Postmus kom elke maand bymekaar en dan word daar 'n vleisie gebraai en 'n bietjie gekuier. Toe het die dames besluit hulle kan dit ook doen!

Hier is die dames van Machteld besig om te bewys hulle kan amper enigiets doen wat 'n man kan. Kyk net hoe lekker gaan dit om die vure.

#Erfenisdag-vieringe by Ons Tuis Machteld Postmus: Inwoners by Machteld Postmus het Erfenisdag op 'n jolige manier gevier. Met uitstekende vermaak deur die Jakaranda-orkes en Magalies Moot Volkspele Laer het die inwoners die volkspele en boeremusiek terdeë geniet. Ons het ook heerlik gesmul aan bobotie, geelrys en koekstruif.

 
ONS TUIS VAN RENSBURG EN LOUIS TRICHARDT (Danville)

Die inwoners by Ons Tuis Van Rensburg het vet pret gehad met 'n oefendag saam met studente.

Opwindende nuus! Die 'Mind Moves'-program (20 sessies) het op 20 September by Ons Tuis Louis Trichardt afgeskop. Onder leiding van Louise le Roux, met ondersteuning van Annalise Bothma, was die eerste sessie 'n groot sukses.

Skaapvleis, wors, roomys, wortelkoek, lekker musiek en vermaak is wat inwoners by Ons Tuis Louis Trichart en Ons Tuis Van Rensburg tydens die #Lentebraai geniet het. Baie dankie aan die betrokke NHSV-takke!

#Erfenisdag-vieringe by Ons Tuis Van Rensburg met tradisionele rokke!

 

Kontak gerus vir matrone Jenny Wesson by vrbestuur@otmt.org vir meer inligting oor Ons Tuis: Louis Trichardt.

 

 
ONS TUIS RIVIERA EN DIENSSENTRUM

Inwoners by Ons Tuis Rivera se Vrydagmiddag is opgekikker so kort voor Erfenisdag 2023 toe Nastassja Fourie en 10 lede van haar dansskool by dié tehuis kom optree het.

Lees die volledige artikel hier.

 

 
BORG ‘N BADSAKKIE

Ons Tuis streef daarna om 'n versorgende omgewing te skep waar ons ouer inwoners hul goue jare met waardigheid en gemak kan geniet. Een van die belangrikste aspekte van hul welsyn is om persoonlike higiëne te handhaaf.

Om te verseker dat elke inwoner die sorg ontvang wat hulle verdien, begin Ons Tuis met 'n spesiale projek. Ons sal graag elkeen van die 120 verswakte inwoners van sy/haar eie badsakkie met die nodige toiletware wil voorsien.

Ons vra u vriendelik om te oorweeg om 'n paar van hierdie badsakkies vir ons inwoners te borg. Elke sakkie kan noodsaaklike items soos ‘n koekie seep, 'n waslap, tandepasta, tandeborsel, deodorant en handroom insluit. Deur selfs net een van hierdie badsakkies te borg, kan jy 'n onmiddellike en betekenisvolle impak maak op die lewens van ons bejaardes.

Indien jy ‘n verskil wil maak, kontak vir Bets Fourie by 012 329 3623.

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.