Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | 01 - 2024
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Mag u jaar, 2024, gevul wees met vreugde, geluk en goeie gesondheid.

Die gekose tema van die jaar, vir ons nuusbriewe is die “Ons Tuis Wedloop” wat ons almal gaan aandurf volgens ons eie vermoëns en ons eie pas. Die tien kilometer wedloop sal op in Februarie in aanvang neem en die voltooingsdatum is die einde van November. Elke maand sal gevul wees met ‘n kilometer boodskap van die Ons Tuis wedloop.

Rondom Julie/Augustus die jaar, vind die grootste sportgeleentheid in die wêreld, die Olimpiese Spele in Parys, plaas.

Daar word vertel dat in 1968, het die Olimpiese Spele in Mexikostad plaasgevind. Omrede die verseggende hitte en hoogte bo seevlak die lug baie dun gemaak het, het veral langafstand atlete baie swaar gekry.

Die 42km-marathon item het op 20 Oktober 1968 plaasgevind. 75 Atlete het aangetree om mee te ding.  John Stephen Akhwari, van Tanzanië was een van die atlete.Tydens die wedloop het Akhwari baie swaar gekry, nie net as gevolg van die hitte nie, ‘n hond het hom bestorm en probeer byt, rukkie daarna was daar ‘n skarreling in ‘n bondel atlete waartydens Akwari geval het. Met die val het hy sy knieg beseer en sy skouer het in die proses die sypaadjie getref en is ook beseer.

Mede atlete en toeskouers langs die roete het aangeneem dat hy sal onttrek en hospitaal toe geneem sal word vir sy beserings. Maar nadat hy mediese behandeling langs die pad ontvang het, het hy voortgegaan met die wedloop. Op daardie stadium het 18 van die 75 atlete wat die wedloop begin het reeds die handdoek ingegooi. Meer as ‘n uur nadat die wenner die wenstreep oorgesteek het, het Akhwari sukkelend en in baie pyn die stadium ingekom, en die wenstreep laaste oorgesteek.


Die skare het hom staande toegejuig. Dit was lank nadat medaljes vir die wedloop al oorhandig en volksliedere gesing was.

Verslaggewers was baie verbaas en het Akhwari uitgevra hoekom hy klaargemaak het, dit terwyl hy sigbaar in baie ongemak en pyn was. Akhwari het hierop geantwoord, “My land het my net gestuur om die wedloop te begin nie, maar om die wedloop klaar te maak”.  Sy antwoord het legendaries en deel van die Olimpiese Spele se geskiedenis geword.

Die tema van hierdie maand en vir die begin van jaar, is END-UIT. Dit is belangrik dat die beplanning van ons daaglikse lewe gefokus moet wees om die lewe, ons lewens wedloop, end-uit voluit te lewe.

Die inhoud van ons daaglikse optrede en ons geloof sal bepaal of ons sal volhard en die wedloop in 2024 suksesvol end-uit gaan voltooi. “Maar wie tot die einde volhard, sal gered word” (Matteus 24:13).

As inwoners, werknemers, families en geliefdes is ons nie alleen in die wedloop nie en is die aangee van water, woord van bemoeding aan ‘n mede atleet, ons medemens, noodsaaklik om die wedloop te voltooi.

God het ‘n doel met elkeen se lewe in 2024 en daar gaan verseker uitdagings en beserings wees, maar met ons oog gerig op die eindstreep sal ons wel die wedloop end-uit voltooi.
Gaan end-uit, volhard en voltooi jou wedloop.

Vriendelike Ons Tuis groete

Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, en maatskappye kan ook ʼn belastingvoordeel verkry.

Die maatskappy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2023 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Kersfees by Ons Tuis Piet Potgieter in Mokopane. Baie dankie aan die plaaslike AP Kerk!

Baie dankie aan Legend Monomotapa Village vir die skenking van gordyne en strooikussings aan Ons Tuis Piet Potgieter.

 

Christiaan Baartman, 'n besondere kunstenaar met 'n baie spesiale boodskap vir ons inwoners, het by Ons Tuis Piet Potgieter opgetree. Almal het heerlike dadelballetjies en koeldrank tydens die funksie geniet.

Inwoners en personeel luister aandagtig na suster Kitty Hudson. Sy bespreek die tema Die Here het my mooi gemaak en daarom moet ek...

 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

SAPD Parys het Ons Tuis AMOT besoek om te kom gesels oor veiligheid (veral met internet of telefoniese  aankope).

Jan le Roux bring ook weer lig op wat as emosionele en of fisiese mishandeling gesien kan word.

'n Goeie wegspringblok vir ons ouer persone en personeel om te weet dat die polisie ook hulle veiligheid op die hart dra!

Die oefeninge wat by Ons Tuis AMOT deur Marietjie o'Heily aangebied word, het weer aanvang geneem. Dit is die hartklop van 'n vervelige dag en die musiek is aansteeklik!

 
ONS TUIS LOUIS TRICHARDT

Louise le Roux en Marian Hayword bied die Mindmoves-projek van Helpende Hand aan by Louis Trichardt Behuisingskema. Baie dankie, die inwoners geniet hulle gate uit!

 
ONS TUIS VAN RENSBURG

Ons Tuis Van Rensburg se inwoners het verlede week 'n lekker wegskop vir 2024 gehad. Die gewilde Dan Fourie het inwoners met sy sang vermaak.

 
ONS TUIS EMILY HOBHOUSE

Feestelike Kersete by Ons Tuis Emily Hobhouse!

 
ONS TUIS RIVIERA EN DIENSSENTRUM

Ons Tuis Riviera se Blue Zone-groep spring weg in 2024. Die groepie is besig om 'n boekrak met blomme in die demensie-eenheid op te sit.

Groot dankie aan die huisbestuur by Ons Tuis Riviera vir die maak van badsakkies vir ons behoeftige inwoners. Hier is 'n paar foto's van inwoners wat hierby gebaat het!

 
ONS SPENS

Ons Spens is ‘n opwindende nuwe inisiatief wat deur Ons Tuis, in samewerking met ILoveCookies, geloods word. Ons bied ‘n wyse vir jou om van ons heerlike beskuit en koekies te geniet, terwyl ons terselfdertyd fondse insamel om Ons Tuis-tehuise op te knap vir ons kosbare inwoners.

Ons is trots om ‘n verskeidenheid smaakvolle beskuit- en koekiesoorte aan te bied, soos karringmelkbeskuit, beskuit met dadels en sade, heuning en amandel, en nog baie meer. Ons beskuit word met liefde en sorg gebak volgens tradisionele resepte wat heerlikheid en nostalgiese smake beloof.

En dit is nie al nie! Ons het ook ‘n wye verskeidenheid koekies beskikbaar om jou soettand te bevredig. Kies uit ons heerlike klapperkoekies, melktertjiekoekies, gemmerkoekies, Choc Chip-koekies, Crunchie-koekies en soetkoekies.

Klik hier om te bestel.

 
BORG ‘N BADSAKKIE

Ons Tuis streef daarna om 'n versorgende omgewing te skep waar ons ouer inwoners hul goue jare met waardigheid en gemak kan geniet. Een van die belangrikste aspekte van hul welsyn is om persoonlike higiëne te handhaaf.

Om te verseker dat elke inwoner die sorg ontvang wat hulle verdien, begin Ons Tuis met 'n spesiale projek. Ons sal graag elkeen van die 120 verswakte inwoners van sy/haar eie badsakkie met die nodige toiletware wil voorsien.

Ons vra u vriendelik om te oorweeg om 'n paar van hierdie badsakkies vir ons inwoners te borg. Elke sakkie kan noodsaaklike items soos ‘n koekie seep, 'n waslap, tandepasta, tandeborsel, deodorant en handroom insluit. Deur selfs net een van hierdie badsakkies te borg, kan jy 'n onmiddellike en betekenisvolle impak maak op die lewens van ons bejaardes.

Indien jy ‘n verskil wil maak, kontak vir Bets Fourie by 012 329 3623.

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.