Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | # 05 - 2024
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Julie 2024 het aangebreek, die begin van een van die grootste sport geleenthede in die wêreld, die Olimpiese Spele. Atlete, afrigters, nuus agentskappe, kamera-personeel en ondersteuners sak in groot getalle toe op Parys, Frankryk.

Atlete het met toewyding ure se harde werk ingesit, oefening-sessie na sessie, die spreekwoordelike bloed, sweet en trane het gevloei ten spyte van reën, son, wind of sneeu. Oefenprogramme is streng gevolg, eetgewoontes aangepas om te verseker dat elke atleet in top vorm en gereed is vir die onderskeie sportitems, om sukses te behaal.

Dis juis hierdie TOEWYDING van die atlete om sukses te bereik wat ons weer bring tot by ons eie wedloop wat ons die jaar hardloop, en soos die toewyding van die Olimpiese atlete, het ons ook toewyding nodig om elkeen ons eie lewenswedloop met sukses te voltooi.

Kom ons verken die belangrikheid van Christelike toewyding en hoe dit ons lewenswedloop beïnvloed.

Dit begin met 'n persoonlike keuse om Christus te volg en om Sy wil te soek in alles wat ons doen. Dit vra 'n intieme verhouding met God deur Gebed, Bybelstudie, en Gemeenskap met ander Gelowiges.

  • Christelike toewyding beteken om Christus na te volg in ons lewenswyse en karakter, dat ons, ons gawes en talente gebruik om God se Koninkryk te bevorder.
  • Christelike toewyding vra dat ons nie net ons eie belange en begeertes volg nie, maar eerder onsself aan God oorgee en toelaat dat Hy ons op ons pad lei, selfs wanneer dit moeilik is om dit te verstaan.
  • Christelike toewyding word uitgebeeld in hoe ons werk, ons lewens optredes, en hoe ons reageer op uitdagings en versoekings.

Die beloning van Christelike toewyding is 'n diep vrede en vreugde in die wete dat ons lewe volgens God se wil. Dit bied ons 'n sterk fondasie in tye van beproewing en 'n rigtinggewende lig in tye van twyfel.

Ten einde sukses te behaal moet toewyding ‘n integrale deel van ons daaglikse lewenswyse wees.

In Romeine 12:11, lees ons: Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien.

Ons moet dus die kilometers van ons eie lewenswedloop wat voor ons uitstrek met geesdriftige toewyding aanpak, mekaar inspireer en ondersteun.

Net soos die atlete met toewyding geoefen het vir deelname aan die Olimpiese Spele, het ons daardie toewyding nodig vir ons lewenswedloop.

Mag Suid-Afrika se Olimpiese Span suksesvol wees in hul doelwitte terwyl ons as landsburgers hulle met geesdrif en toewyding ondersteun.

Wees toegewyd en maak ‘n verskil in jou eie en ander mede-inwoners en werknemers van Ons Tuis se lewens.

Toewyding verseker volharding wat sukses verseker.

Vriendelike toegewyde groete

Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, en maatskappye kan ook ʼn belastingvoordeel verkry.

Die maatskappy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2024 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
ONS TUIS EMILY HOBHOUSE

Lindi Cloete van Kind to Hearing het 'n weeklange veldtog by Ons Tuis Emily Hobhouse gehou om bewustheid by die inwoners rakende gehoorverlies te skep. Gratis siftingstoetse is ook uitgevoer.

Die wintersete by Emily Hobhouse was feestelik en 'n driegangmaaltyd is bedien. Die turkoois-tema is ook behou vir die geleentheid. Die inwoners is bederf en het hulself terdeë geniet.

 

|| SKENKINGS ||

Opregte dank aan Maryna Scheepers en Santa Els van die NHKA Montana-Oos vir die skenking van gebreide items aan die inwoners van Emily Hobhouse.

|| WINTERMARK ||

Die inwoners van Emily Hobhouse het 'n heerlike tyd by die NG Kerk Moreleta Park se wintermark gehad.

 

|| VERJAARDAG ||

Baie geluk aan tannie Susan Conradie wat op 9 Julie 90 jaar oud geword het!

 
ONS TUIS PIET POTGIETER

|| HUWELIKSHERDENKING ||

Oom Hercules en tannie Elizabeth du Plessis het onlangs hulle 58ste huweliksherdenking gevier.
Tannie Elizabeth is 'n inwoner van Ons Tuis - Piet Potgieter, terwyl oom Hercules nog op 'n plaas naby Vaalwater doenig is.

|| DONASIE ||

Michayla Smith van Changing Lives -Miss Limpopo Province raak betrokke by Ons Tuis Piet Potgieter. Hier oorhandig sy 'n donasie. Baie dankie, Michayla!

|| VERJAARSDAG ||

Baie geluk aan tannie Alida Prinsloo van Ons Tuis Piet Potgieter met haar 100ste verjaardag!

Haar wysheid en lewenslesse is werklik 'n inspirasie.

|| PRESIDENTSBRIEF ||

Tannie Alida Prinsloo wat Maandag 100 jaar oud geword het, het vanoggend 'n gelukwensingsbrief vanaf president Cyril Ramaphosa ontvang.

"This is a momentous occasion for you and all those around you, who care deeply for you and also share in your joy, especially your family and friends, as well as the staff of Ons Tuis Piet Potgieter," lui die brief.

|| VERJAARSDAG ||

Baie geluk aan tannie Marthie de Beer met haar 94ste verjaardsdag op 12 Julie!

Hier wens suster Marina Horn haar geluk.

Baie dankie aan Doves op Mokopane wat die inwoners met gebak bederf het.

|| SKENKING ||

Baie dankie aan Letsatsi Finance vir hulle skenking van kouse en beanies aan die inwoners van Ons Tuis Piet Potgieter.

Plaaslike Ackermans-personeel werk hul 67 minute vir Mandela by Piet Potgieter. Hulle het ook heerlike vars vrugte geskenk.

Die Alzheimer-afdeling by Piet Potgieter spog met hulle vroetelhandskoene.

 

 
ONS TUIS MACHTELD POSTMUS

|| VROUE-BRAAI ||

Inwoners smul vandag heerlik tydens 'n vroue-braai by Ons Tuis Machteld Postmus.

'n Ontspanne atmosfeer en goeie samesyn is die wenresep.

|| UITREIK ||

Ter viering van die komende Vrouedag en Mandela-dag, gaan Ons Tuis Machteld Postmus na Cradle of Hope uitreik.
Cradle of Hope help mishandelde vroue en kinders. Enige bydraes kan by Machteld Postmus Kompleks afgelaai word.

Machteld Postmus se inwoners kuier heerlik op die sonstoep. Die breigroep is hard aan die brei vir 'n spesiale uitreikingsprojek na Cradle of Hope.

 
ONS TUIS RIVIERA

Selfs op die koudste oggend van die jaar is Riviera se sonstoep gesellig en vol geselskap!

Die SA-gidshondvereniging se honde het gister besoek by Riviera afgelê. Diere-terapie is van kardinale belang in ons tehuise.

 
ONS TUIS AMOT

|| Tooi Turkoois rippels ||

Riana Le Roux van Duo Valente NHSV lewer die geskenkies af wat vir AMOT se " badkamerkas" ingesamel is. Dit bring 'n warm gevoel in die ysige weer. Ons hartlike dank word uitgespreek aan elke deelnemer.

|| UITREIK ||

'n Toe hand kan nie ontvang nie. Daarom reik AMOT ook uit nadat soveel seën ontvang is.

Hier is Granny van Schonkenville wat al vir meer as 20 jaar' n standvastige figguur in haar gemeenskap is. Haar teikengroep is bejaardes en kinders.

M JV Rensburg oorhandig aan haar komberse, klere en ander items wat betyds is om 'n klompie mense te help om warm te bly. Dit is deel van die uitreiking van Mandela-dag.

 
ONS TUIS SENIOR TUIS

Seniorstuis skenk babakombersies, hoedjies en klere vir die babas by Starfish Babies.

 

 
ONS SPENS

Ons Spens is ‘n opwindende nuwe inisiatief wat deur Ons Tuis, in samewerking met ILoveCookies, geloods word. Ons bied ‘n wyse vir jou om van ons heerlike beskuit en koekies te geniet, terwyl ons terselfdertyd fondse insamel om Ons Tuis-tehuise op te knap vir ons kosbare inwoners.

Ons is trots om ‘n verskeidenheid smaakvolle beskuit- en koekiesoorte aan te bied, soos karringmelkbeskuit, beskuit met dadels en sade, heuning en amandel, en nog baie meer. Ons beskuit word met liefde en sorg gebak volgens tradisionele resepte wat heerlikheid en nostalgiese smake beloof.

En dit is nie al nie! Ons het ook ‘n wye verskeidenheid koekies beskikbaar om jou soettand te bevredig. Kies uit ons heerlike klapperkoekies, melktertjiekoekies, gemmerkoekies, Choc Chip-koekies, Crunchie-koekies en soetkoekies.

Klik hier om te bestel.

 
BORG ‘N BADSAKKIE

Ons Tuis streef daarna om 'n versorgende omgewing te skep waar ons ouer inwoners hul goue jare met waardigheid en gemak kan geniet. Een van die belangrikste aspekte van hul welsyn is om persoonlike higiëne te handhaaf.

Om te verseker dat elke inwoner die sorg ontvang wat hulle verdien, begin Ons Tuis met 'n spesiale projek. Ons sal graag elkeen van die 120 verswakte inwoners van sy/haar eie badsakkie met die nodige toiletware wil voorsien.

Ons vra u vriendelik om te oorweeg om 'n paar van hierdie badsakkies vir ons inwoners te borg. Elke sakkie kan noodsaaklike items soos ‘n koekie seep, 'n waslap, tandepasta, tandeborsel, deodorant en handroom insluit. Deur selfs net een van hierdie badsakkies te borg, kan jy 'n onmiddellike en betekenisvolle impak maak op die lewens van ons bejaardes.

Indien jy ‘n verskil wil maak, kontak vir Bets Fourie by 012 329 3623.

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.