Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | 04 - 2024
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Hier waar ons die maand Junie 2024 bereik het, besef ons net weereens hoe vining tyd eintlik verby snel. Ons het in Januarie 2024 ons wedloop begin, kilometers verder kyk mens terug op die pad wat reeds met sukses voltooi is, maar besef terselfdertyd dat daar ook nog ‘n gedeelte van die einste wedloop voorlê. En dat die gedeelte vol opdraendes, uitdagings, struikelblokke en beproewings kan wees. 

Dit is 'n wedloop wat nie net fisiese uithouvermoë vereis nie, maar ook geestelike krag en DEURSETTINGSVERMOË. Deursettingsvermoë is dan ook die maand ons fokus in ons eie persoonlike geestelike wedloop. In Hebreërs 12:1: lees ons “Laat ons met volharding die wedloop hardloop wat voor ons lê.” Hierdie vers herinner ons aan die belangrikheid van deursettingsvermoë om ons Christelike wedloop te voltooi. Deursettingsvermoë is die sleutel tot die bereiking van ons daaglikse doelwitte.

Deursettingsvermoë word geag as die vermoë om standvastig te bly in die aangesig van uitdagings, om aan te hou streef na jou doelwitte, selfs wanneer dit onbereikbaar lyk.  Dit beteken om nie op te gee nie, selfs al voel dit asof alles teen jou inwerk. 

Dit is belangrik om jou geloof te behou, ongeag die struikelblokke wat jy mag teëkom, in die wedloop. 

Dink ons in ons lewe terug aan tye waar ons aan deursettingsvermoë geklou het, op skool, universiteit, waar die ligte laat aande gebrand het, jy moeg was maar deurgedruk het met jou studies en sukses behaal het en so kan elkeen van ons talle voorbeelde uit ons spore van gister gaan haal waar deursettingsvermoë ons gehelp het om ons doelwitte te bereik en vorentoe te beweeg.

Job se verhaal is een van die bekendste voorbeelde van deursettingsvermoë . Hy het alles verloor - sy rykdom, sy gesondheid, en sy kinders - en tog het hy geweier om sy geloof in God te verloën.

Job het nie verstaan waarom hy gely het nie, maar hy het aan sy geloof vasgehou en uiteindelik is hy geseën vir sy volharding.

Die apostel Paulus het talle vervolginge, gevangenisstraf en fisiese lyding verduur ter wille van die Evangelie. In 2 Korintiërs 11:23-28 beskryf hy die talle beproewings wat hy deurstaan het, maar sy deursettingsvermoë het hom in staat gestel om sy missie voort te sit.

Die uiteindelike voorbeeld van deursettingsvermoë is Jesus Christus self. Hy het lyding en kruisdood verduur om die mensdom te red. In die tuin van Getsemane het Jesus gebid en geworstel met die swaar las wat voor Hom gelê het, maar Hy het volhard in Sy missie om die wil van die Vader te vervul.

Gebed is 'n kragtige hulpmiddel en sinoniem met deursettingsvermoë. Dit versterk ons geloof, en gee ons die krag om aan te hou wanneer ons swak voel in die wedloop. 

Deursettingsvermoë is nie net vir groot beproewings nie, maar speel ook 'n rol in die alledaagse lewe. Dit kan in klein daaglikse keuses manifesteer, soos om eerlik te bly in 'n situasie waar oneerlikheid die maklike uitweg is, of om vriendelik te wees teenoor iemand wat ons onregverdig behandel.

Om jou wedloop te voltooi vereis deursettingsvermoë. Die lewe sal altyd uitdagings bied, maar met 'n standvastige geloof en deursettingsvermoë, kan ons die wedloop suksesvol voltooi en uiteindelik die oorwinningskroon van geregtigheid ontvang. 

Mag ons almal die wedloop met deursettingsvermoë hardloop om dit suksesvol te voltooi!

Vriendelike vasbyt groete

Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, en maatskappye kan ook ʼn belastingvoordeel verkry.

Die maatskappy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2024 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Baie dankie aan Gift of the Givers vir die voedseldonasie aan Ons Tuis Piet Potgieter.

 
ONS TUIS MACHTELD POSTMUS

Uitreikingsprojek:

Ons Tuis Machteld Postmus het Vrydag komberse, mussies en handskoene aan inwoners by Ons Tuis Van Rensburg uitgedeel. Machteld Postmus het sewe toegewyde dames wat Donderdae onder die lapa bymekaar kom en dan brei of hekel.

 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

Gert Coetzee het op 1 Mei sy 82ste verjaardag gevier. Hier is hy saam met sy vrou, Annatjie, en familie.

Charles Rudd het Ons Tuis AMOT se inwoners kom bederf met liedere wat die hartsnare roer.

Elizabeth Marumo en Liesbet Motale van Ons Tuis AMOT het hul 10 jaar dienssertifikate ontvang. Elizabeth word geken aan haar vriendelikheid en Liesbet (by die Voedseldiens) se hande skram vir geen werk weg nie.

Anna Swart het op 7 Mei haar 78ste verjaardag gevier. Matrone Teresa Broodryk, bestuurder by Ons Tuis AMOT, sê jy kan vir tannie Anna altyd deur 'n ring trek. "Sy het 'n goeie sin vir humor en haar goeie raad is; Wees net rustig. Doen goed terwyl jy kan en die krag het. Sy is geseën met twee pragtige kinders en vier kleinkinders. Baie geluk!

NHSV Drie Riviere en 20 gemeentelede skop Tooi Turkoois by Ons Tuis AMOT af met 'n opvoering en teeskink. Wat ' n bederf en 'n belewenis om te sien hoe gemeentelede saamwerk om ons tehuis te bedien!

Tannie Kiewiet Maritz het op 14 Mei haar 82ste verjaardag saam met haar kinders gevier. Sy is sedert 2022 'n inwoner by Ons Tuis AMOT en neem graag deel aan aktiwiteite. Baie geluk!

Huweliksklokke lui (weer) by Ons Tuis AMOT
Hans het op ’n dag in 2022 na Annemarie se televisie by haar woning by Ons Tuis AMOT gaan kyk. “Ons het so gestaan en na my eerste troue se foto’s gekyk toe hy sy hand op my skouer sit. Hy het vir my gesê dat hy geweet het dat ek soos ’n prinses gelyk het. En van daar af was dit verby,” vertel Annemarie. Klik hier vir die volledige artikel.

Tannie Marie Truter van Ons Tuis AMOT het op 12 Mei haar 85ste verjaardag gevier.

Sy deel die lewenswysheid graag met ons:

"Gedurende 'n mens se lewensreis leer jy baie lesse. Daar gaan vreugdevolle dae kom, hartseer dae, afskeid van geliefdes, dae wat jy moet vergewe of verskoning vra, of skuldgevoelens gaan hê. Die wonderlikste troos is dat jy dan met jou grootste nood na jou Hemelvader kan gaan! Hy laat jou nooit in die steek nie! Al kronkel jou pad ook hoe op aarde, die belangrikste is om vir seker te weet dat Jesus daar is om jou te verwelkom by jou eindbestemming!"

Ons Tuis AMOT se jukskeispan het gister 'n bietjie by die NG Kerk Wes se jukskeispan gekuier om die bewusmaking van bejaardesorg uit te brei na Parys se gemeenskap. "Ons wys ons gee om en dat ouderdom nie beteken dat ons nie meer waarde het nie, maar terwyl ons nog tyd gegun word, ons 'n doel op aarde het," sê matrone Teresa Broodryk, bestuurder by Ons Tuis AMOT.

 
ONS TUIS RIVIERA

Ons Tuis Riviera het 'n bietjie by die Magaliesfees gekuier.

 
ONS SPENS

Ons Spens is ‘n opwindende nuwe inisiatief wat deur Ons Tuis, in samewerking met ILoveCookies, geloods word. Ons bied ‘n wyse vir jou om van ons heerlike beskuit en koekies te geniet, terwyl ons terselfdertyd fondse insamel om Ons Tuis-tehuise op te knap vir ons kosbare inwoners.

Ons is trots om ‘n verskeidenheid smaakvolle beskuit- en koekiesoorte aan te bied, soos karringmelkbeskuit, beskuit met dadels en sade, heuning en amandel, en nog baie meer. Ons beskuit word met liefde en sorg gebak volgens tradisionele resepte wat heerlikheid en nostalgiese smake beloof.

En dit is nie al nie! Ons het ook ‘n wye verskeidenheid koekies beskikbaar om jou soettand te bevredig. Kies uit ons heerlike klapperkoekies, melktertjiekoekies, gemmerkoekies, Choc Chip-koekies, Crunchie-koekies en soetkoekies.

Klik hier om te bestel.

 
BORG ‘N BADSAKKIE

Ons Tuis streef daarna om 'n versorgende omgewing te skep waar ons ouer inwoners hul goue jare met waardigheid en gemak kan geniet. Een van die belangrikste aspekte van hul welsyn is om persoonlike higiëne te handhaaf.

Om te verseker dat elke inwoner die sorg ontvang wat hulle verdien, begin Ons Tuis met 'n spesiale projek. Ons sal graag elkeen van die 120 verswakte inwoners van sy/haar eie badsakkie met die nodige toiletware wil voorsien.

Ons vra u vriendelik om te oorweeg om 'n paar van hierdie badsakkies vir ons inwoners te borg. Elke sakkie kan noodsaaklike items soos ‘n koekie seep, 'n waslap, tandepasta, tandeborsel, deodorant en handroom insluit. Deur selfs net een van hierdie badsakkies te borg, kan jy 'n onmiddellike en betekenisvolle impak maak op die lewens van ons bejaardes.

Indien jy ‘n verskil wil maak, kontak vir Bets Fourie by 012 329 3623.

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.