Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier | # 06 - 2024
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Dis Augustus en die afsluitingsfunksie van die 2024 Olimpiese Spele is sopas verby. Om toe te kyk hoe van die wêreld se bestes aantree, doelgerig om hul beste te lewer om die wenstreep en hul drome met sukses te verwesenlik. Rekords het gespat, trane van vreugde het gevloei, mens kon net met verwondering toekyk.

Daar was ongelooflike oomblikke soos toe die paalspring-atleet, Armand Duplantis van Swede die wêreldrekord breek, net om minute later met gemak wéér sy eie wêreldrekord te oortref. Die 100 m en 800 m-wedloop vir mans waarin ses van die atlete almal millisekondes van mekaar oor die wenstreep snel. Elkeen doelgerig om sy/haar beste te lewer om ‘n medalje te verower. Doelgerigtheid is dan ook ons onderwerp vir die maand, om te kyk hoe dit ons in ons eie wedloop kan aanspoor.

In die wêreld van vandag, waar uitdagings en onsekerhede gereeld ons paaie kruis, is daar min dinge wat meer bevredigend is as om met doelgerigheid en geloof deur die lewe te beweeg. Die idee van ’n wedloop as 'n simbool vir ons lewenspad is 'n kragtige een, en om dit met 'n doelgerigte benadering te benader en te voltooi, kan ons help om ons doelwitte te bereik en ons lewensmissie te vervul.

Doelgerigtheid is ’n waardevolle eienskap wat ons as inwoners en werknemers van Ons Tuis kan ontwikkel om sukses in verskeie aspekte van die lewe te bereik. Dit behels die vermoë om op 'n bepaalde doel gefokus te bly, ongeag die struikelblokke wat jy mag teëkom.

Hebreërs 12 verwys telkens na die wedloop wat ons moet voltooi. Hierdie gedeelte herinner ons dat die lewe 'n wedloop (reis) is wat vereis dat ons gefokus en doelgerig moet wees om die einddoel te bereik.

Doelgerigheid in geloof beteken om oor 'n duidelike visie te beskik van wat ons wil bereik en om daaraan vas te hou, selfs wanneer ons teëspoed mag ondervind in ons lewenswedloop. Dit is belangrik om te besef dat die wedloop nie altyd glad en sonder struikelblokke sal wees nie. Die pad wat voor ons lê, kan vol uitdagings en moeilike omstandighede wees, maar dit is juis deur doelgerigtheid en geloof dat ons in staat sal wees om enige hindernis te oorkom en ons doel te bereik.

Om doelgerig te leef in geloof beteken ook om onsself gereeld af te vra wat ons werklike doel in die lewe is. Dit is maklik om vasgevang te raak in die daaglikse roetine en te vergeet van ons diepste aspirasies. Ons doelwitte moet duidelik wees en hoe ons geloof ons kan lei om dit te bereik. Dit is in die stil oomblikke van refleksie en gebed dat ons die helderheid kan vind om ons pad vorentoe te bepaal.

Een van die sleutels tot 'n doelgerigte lewenspad is om ons prioriteite reg te stel en om ons tyd en energie te bestee aan wat regtig saak maak. Dit beteken om nie net te fokus op onmiddellike bevrediging of korttermyn doelwitte nie, maar om dié groter prentjie in ag te neem en te werk na 'n langtermyn visie wat in lyn is met ons geloof en waardes.

In hierdie proses van doelgerigte lewe en wedloop voltooiing, is dit belangrik om medegelowiges, en mekaar as inwoners en werknemers van Ons Tuis, te hê wat ons kan ondersteun en aanmoedig. Die apostel Paulus sê in 1 Korintiërs 9: “Julle weet dat al hardloop ’n klomp mense in ’n resies daar net een wenner kan wees. Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie. Leef jou lewe so dat jy wen. As iemand ’n resies wil wen, oefen hy eers hard. Met ’n gewone resies is die prys vir die wenner klein, maar in die resies van hierdie lewe is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd”

Die waarde van doelgerigtheid lê in die vermoë om deur te druk wanneer dinge moeilik raak. In enige strewe sal daar uitdagings en struikelblokke wees. Dit is in sulke tye dat doelgerigtheid jou help om aan te hou, ten spyte van teleurstellings en terugslae. As 'n atleet wat vir 'n wedloop oefen, moet jy doelgerig bly, selfs wanneer jy moeg is of pyn ervaar, omdat jy weet dat die einddoel die moeite werd is.

Ons moet altyd onthou dat ons uiteindelike doel nie net is om die wedloop te voltooi nie, maar om dit met eer en waardigheid te doen. Ons lewe moet nie net gefokus wees op die einddoel nie, maar ook op hoe ons die reis aanpak en die waarde wat ons bring aan die inwoners en werknemers rondom ons.  Ons geloof is nie net 'n persoonlike reis nie, maar dit beïnvloed en inspireer ook ander om saam aan die wedloop deel te neem.

Om doelgerig in geloof te leef en die wedloop te voltooi is ’n uitdagende, maar bevredigende taak. Deur ons pad met geloof en doelgerigheid te volg, kan ons nie net die wedloop voltooi nie, maar ook die volle vreugde en vervulling daarvan beleef.

Hier by die Ons Tuis-span weet elkeen dat hy/sy net voor, langs of agter hom/haar kan kyk en sien dat daar altyd iemand sal wees om te ondersteun, sodat elkeen sy/haar doelwitte kan bereik om die wedloop met sukses te voltooi.

Vriendelike toegewyde groete

Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
WOEKER & WERK-TUINEKOMPETISIE 2024

Ons is opgewonde om die Woeker en Werk-Tuinekompetisie 2024 aan te kondig! Hierdie geleentheid bied die ideale geleentheid vir elke tehuis om te wys wat daar met groen vingers gedoen kan word en die tehuise se tuine weer mooi te maak.

Die kompetisie skop op 1 September 2024 af en alle tuine moet teen 15 November 2024 gereed wees. Gedurende hierdie tydperk moet die tuine opgeknap en verfraai word volgens kompetisieriglyne.

Onafhanklike beoordelaars sal die wenners kies. Pryse sluit wisseltrofees, tuinprodukte asook sertifikate in.

 
 
JOU MAATSKAPPY KAN VANDAG NOG BETROKKE RAAK!

Daar is ʼn voordeel vir enige maatskappy wat ʼn skenking aan ʼn geregistreerde openbare welsynsorganisasie (OWO) soos Ons Tuis maak. Dit vorm deel van sy sosiale verantwoordelikheid, en maatskappye kan ook ʼn belastingvoordeel verkry.

Die maatskappy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat wat deur Ons Tuis uitgereik word vir belastingdoeleindes.

Oorweeg dit om ʼn skenking aan Ons Tuis by jou maatskappy se begroting vir 2024 in te sluit. Dit sal ʼn verskil in ʼn bejaarde se lewe maak.

Kontak ons by 012 325 1857/8 of info@otmt.org vir meer inligting.

 
 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
ONS TUIS AMOT

Tydens die wintermaande spandeer die inwoners baie tyd binne. Diegene wat nie wil oefen nie, hou hulself besig met Bingo! AMOT se harte klop warm.

Baie dankie aan Louise Kellerman se uitreik na AMOT met 'n trollie vol linne. Hier is sy saam met tannie Annatjie Harmse (regs).

 

AMOT het die eerste Saterdag van Augustus  'n suksevolle dag met hulle stalletjie by die Egweni-kunsmark op Parys gehad.

Maak gerus elke eerste Saterdag van 'n maand 'n draai daar om hulle te ondersteun.

Helpende Hand, onder leiding van Matty Last, het 'n genotvolle saamsing met FAK-liedere by AMOT aangebied. Dit het die deelnemers teruggevoer na hul wortels en 'n gevoel van trots op ons taal gekweek.

 

Ons Tuis-Inwoners aan die beweeg op Parys

Op Woensdag 31 Julie het die bejaardes van Ons Tuis Andries Marie Oosthuizen tehuis (AMOT) op Parys ’n verfrissende en inspirerende ervaring beleef toe Annami Norwie van Youthful Aging hulle besoek het. Met haar passie vir die bevordering van gesondheid en beweging, het Norwie 'n vuurvonk van energie en hoop aan die ouer geslag gebring.

Lees meer hier.

 
ONS TUIS PIET POTGIETER

Hannes Jv Rensburg, Piet Potgieter se faktotum, het besonderse orgidees geweek. Piet Potgieter het nou sommer 'n huislike atmosfeer!

'n Dankbetuiging aan die personeel, inwoners en bydraers tot Piet Potgieter se barmartigheidsfonds.

 
ONS TUIS RIVIERA

Vir die eerste geleentheid het Avbob die moeilike onderwerpe van begrafnisse, testamente en lewenslêers aangebied.

Riviera en Seniorstuis het elke eerste Woensdag van 'n maand 'n heerlike verjaarsdagtee. Die inwoners het hulself baie geniet.

 
ONS TUIS SENIORSTUIS

Die inwoners van Seniorstuis het die 14de Augustus Bernadene se vertoning baie geniet. Dankie aan AVBOB wat die optrede geborg het.

Die lente is om die draai! Kom vier dit met 'n heerlike sokkie by Seniorstuis se dienssentrumsaal op 6 September om 17:00. Bring jou kosmandjie, koelboks, familie, vriende en kinders! Kaartjies beloop R20 p.p. en sal ook by die deure beskikbaar wees. Bespreek jou plek nou by 084 518 1102.

 
ONS TUIS MACHTELD POSTMUS

Machteld Postmus het vandag na Cradle of Hope uitgereik. Cradle of Hope help mishandelde vroue en kinders. Sr. Sonja Stander sê: "By Machteld Postmus gee ons graag terug aan die gemeenskap . Baie dankie aan elke inwoner wat bygedra het om hierdie projek 'n sukses te maak."

 

 
 
ONS SPENS

Ons Spens is ‘n opwindende nuwe inisiatief wat deur Ons Tuis, in samewerking met ILoveCookies, geloods word. Ons bied ‘n wyse vir jou om van ons heerlike beskuit en koekies te geniet, terwyl ons terselfdertyd fondse insamel om Ons Tuis-tehuise op te knap vir ons kosbare inwoners.

Ons is trots om ‘n verskeidenheid smaakvolle beskuit- en koekiesoorte aan te bied, soos karringmelkbeskuit, beskuit met dadels en sade, heuning en amandel, en nog baie meer. Ons beskuit word met liefde en sorg gebak volgens tradisionele resepte wat heerlikheid en nostalgiese smake beloof.

En dit is nie al nie! Ons het ook ‘n wye verskeidenheid koekies beskikbaar om jou soettand te bevredig. Kies uit ons heerlike klapperkoekies, melktertjiekoekies, gemmerkoekies, Choc Chip-koekies, Crunchie-koekies en soetkoekies.

Klik hier om te bestel.

 
BORG ‘N BADSAKKIE

Ons Tuis streef daarna om 'n versorgende omgewing te skep waar ons ouer inwoners hul goue jare met waardigheid en gemak kan geniet. Een van die belangrikste aspekte van hul welsyn is om persoonlike higiëne te handhaaf.

Om te verseker dat elke inwoner die sorg ontvang wat hulle verdien, begin Ons Tuis met 'n spesiale projek. Ons sal graag elkeen van die 120 verswakte inwoners van sy/haar eie badsakkie met die nodige toiletware wil voorsien.

Ons vra u vriendelik om te oorweeg om 'n paar van hierdie badsakkies vir ons inwoners te borg. Elke sakkie kan noodsaaklike items soos ‘n koekie seep, 'n waslap, tandepasta, tandeborsel, deodorant en handroom insluit. Deur selfs net een van hierdie badsakkies te borg, kan jy 'n onmiddellike en betekenisvolle impak maak op die lewens van ons bejaardes.

Indien jy ‘n verskil wil maak, kontak vir Bets Fourie by 012 329 3623.

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.