Plaas kommunikasie@otmt.org in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon, lees die aanlyn weergawe hier
 
 
'N BOODSKAP VAN ONS BESTURENDE DIREKTEUR
 

Waar ons aan die vooraand van Kersgety 2022 staan, het ons almal terugflitse op die afgelope jaar wat soms deur stormgetye en soms deur kalmte gegaan het. Daar was lyding waar ons voor ʼn geliefde of ʼn bekende se graf gestaan het, leed waar ons blootgestel was aan siektes, vreugde waar ʼn huwelik bevestig is, of waar sommige die status van oupa en ouma, oupagrootjie en oumagrootjie verwerf het.

Inwoners en werknemers van Ons Tuis is aan verskeie uitdagings en lewenservaringe gedurende 2022 blootgestel wat suksesvol trotseer is.

Die ervaring van vreugde, geluk en samesyn gedurende 2022 het ons egter weer geloof, hoop en liefde gegee waarop ons kan bou as deel van die fondasie van 2023.

Waar ons voor die Kersfeesboom staan, weet ons dat die grootste geskenk van alle tye reeds toegedraai is en vir ons wag, en dit is die liefde van ons Hemelse Vader – ʼn geskenk vir onsself en ʼn geskenk wat ons kan deel. Hierdie geskenk van liefde wat alle verstand te bowe gaan, kan niks en niemand van ons af wegneem nie.

Johannes 3:16 verwoord hierdie liefde: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo,

nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Dit is liefde wat ons elke dag kan aangryp en kan leef, wetende dat ons nooit alleen is nie en dat God elke minuut van elke dag in ons menslike skaduwee is.

Mag jul feesgety gevul wees met liefde, vrede en welwillendheid en mag elke dag vir julle vreugde bring in die jaar wat voorlê. “Kersfees is nie ʼn tyd of ʼn seisoen nie, maar ʼn ingesteldheid van jou gees. Om vrede en welwillendheid te koester, om vrygewig te wees met jou genadegawes – dit is die ware gees van Kersfees.” (Calvin Coolidge)

Mag die Kind wat vir ons gebore is julle vul met sy liefde en hoop, sodat ons saam met die engele sal sing: “Ere aan God in die hoogste Hemele en vrede op aarde in alle welbehae”.     

ʼn Baie geseënde Kerstyd en ʼn voorspoedige 2023.

Mag dit ʼn nuwe jaar van vreugde, geluk en goeie gesondheid wees.

Kersfeesgroete


Adv. Jaco Bothma
Besturende direkteur: Ons Tuis

 
 
ONS TUIS AKTIWITEITSFOKUS
 
PIET POTGIETER (Mokopane/Potgietersrus)

Die jaarlikse Brille en Pille Rally en pretstap was oudergewoonte ʼn reusesukses! Inwoners, motorfietsryers en vrywilligers het hulself gate uit geniet tussen die brullende enjins en pannekoek. Dankie aan elkeen wat gehelp het om hierdie geleentheid weer ʼn groot lekkerte vir ons inwoners te maak.

Piet Potgieter het tans hulle Liggiefees aan en moedig mense in die omgewing aan om hulle te kom ondersteun.

Kontak vir Mariana van Tonder by marianavt@otmt.org as jy in een van die volgende beskikbare eenhede belangstel:

Verswakte bejaardes:

  • 13 plekke

Huureenhede (woonstelle met kombuis, badkamer, woonkamer):

  • 12 x eenslaapkamer-eenhede

Te koop:

  • 2 x tweeslaapkamer-eenhede
  • 2 x eenvertrek-eenhede

 

 
ANDRIES-MARIÉ OOSTHUIZEN (Parys)

Ons Tuis in Parys het ʼn heerlike ouer-kind-dag gehad. Daar is gesels, gekuier én gedans!

Kontak gerus vir Teresa by amotbestuur@otmt.org of amotadmin@otmt.org as jy in verblyf belangstel. Ons het tans die volgende beskikbare verblyf wat etes, skoonmaak en wasgoed insluit:

  • Versorging – 1 bed in enkelkamer
  • Behuising – Enkelkamers (gedeelde geriewe)

 

 
EMILY HOBHOUSE (Pretoria)

Twee van Emily Hobhouse se inwoners is onlangs getroud. Hierdie twee mense se paadjies was nie net met roosblare besaai nie. Lees gerus tannie Antoinette en oom Smittie se mooi verhaal hier.

Emily Hobhouse het tans die volgende beskikbare huureenheid:

  • 1 x groot kamer sonder badkamer

Kontak gerus vir Anelieze by ehbestuur@otmt.org indien jy belangstel.

 
MACHTELD POSTMUS (Pretoria)

Die jaarlikse Kersfunksie was soos altyd ʼn heerlike geleentheid; gesellig en pragtig.

 

 
LOUIS TRICHARDT EN VAN RENSBURG (Danville)

Inwoners is behoorlik bederf tydens hulle jaarlikse Kersfunksie. Die saal is pragtig en vrolik opgemaak deur Ons Tuis-personeel en die eetgoed was uit die boeke!

Ons Tuis Louis Trichardt het heelwat enkel- en dubbelkamers beskikbaar. Kontak gerus vir Vicky by ltbestuur@otmt.org indien jy sou belangstel.

Verblyf sluit twee etes, weeklikse wasgoed en skoonmaak in. Ons help ook met vervoer na en van hospitale en klinieke.

Ons Tuis Van Rensburg het eenhede beskikbaar. Kontak gerus vir Jenny by vrbestuur@otmt.org indien jy sou belangstel.

Verblyf sluit etes, wasgoed, verpleging, terapie en skoonmaak in.


 
RIVIERA EN SENIORSTUIS DIENSSENTRUM (Pretoria)

Uitreik

Te danke aan die uitreikprojek na Hammanskraal, Tina Ngate, kon 30 gesinne vanjaar geskenke ontvang. Soms is dit amper lekkerder om te gee as om te ontvang. Die opgewondenheid en dankbaarheid het die Riviera-span diep geraak.

Kerssangdiens en Kersverrassing

Die Riviera-sanggroep het inwoners tydens die Kerssangdiens begelei. Programvoorblaaie is as aktiwiteit deur die inwoners ingekleur en water is deur Sonja Smith begrafnisdienste geborg.

Waverley Gastehuis, APA Ambulansdienste, First help Towing, Life Line en Kilnerpark Sekuriteit het inwoners met geskenkpakkies bederf.

PSG het vir Kersgeskenke en ʼn ete vir Seniorstuis-inwoners gesorg.

Daar is tans eenhede by Ons Tuis Riviera en Seniorstuis beskikbaar:

  • Volversorging en roetineversorging
  • Enkel- en dubbelkamers op grondvloer en eerste vloer
  • Beddens in Alzheimersiekte-afdeling per maand

Kontak vir Hennie by otbestuur@otmt.org of Stbestuur@otmt.org met enige navrae.

 

 
SKENKINGS

ONS TUIS is bederf met ʼn brilskenking deur die Lions Club Pretoria ter waarde van
R 30 000. Hierdie brille maak reeds ʼn verskil in vele inwoners se lewens. Baie dankie!

 

 
ARTIKELS EN MEDIA
 
ARTIKELS

Ons Tuis neem die voeding van ons inwoners baie ernstig op. Lees gerus die artikel hieroor wat op ons webwerf verskyn.  

 

 
RADIO

Rentia Mynhardt, skakelbeampte vir Ons Tuis, gesels op Pretoria FM oor die dienste wat Ons Tuis in Danville lewer.

Luister gerus hier na die opname indien u dit misgeloop het.

 

 
PAYFAST

Ons ondervind dat almal se voorsiening vir aftrede nie noodwendig uitwerk soos beplan nie. Daarom is Ons Tuis toenemend afhanklik van donasies, borge, skenkings en erflatings. Indien dit op u hart druk om ons finansiële las op ‘n manier te verlig, sal ons dit hoog op die prys stel. U kan donasies maak deur Payfast.