Die Ons Tuis groep doen ‘n dringende beroep op Suid-Afrikaners om die We^Can aksie ten bate van die groep, te ondersteun. We^Can maak dit sedert die begin van die inperking vir mense moontlik om voedsel produkte teen drasties verminderde pryse, namens groepe wat na weerbares omsien, aan te koop.
Ons Tuis is vandeesweek aangewys as ‘n begunstigde van een van We^Can se uitdagings. Met dié projek hoop Ons Tuis om 500 kospakke bestaande uit 500g maalvleis en ‘n 2,5kg sak mieliemeel teen die spertyd van 26 Julie 2020 aangekoop te kry. Elke pak beloop R57 en die normale waarde van so ‘n kombinasiepak is rondom R80.
Die meer as ‘n duisend inwoners van Ons Tuis tehuise in drie provinsies is sedert die inperking – as die weerbaarste groep – uitgelewer aan die goedgunstigheid van gemeenskappe om hulle finansieel te ondersteun. Die tehuise bied onder normale omstandighede veldtogte en funksies aan om hulle fondse aan te vul en versorging van die hoogste kwaliteit te verskaf. Dit is egter alles gekanselleer sedert die koms van COVID-19.
“Dit is ‘n uitdaging om te verseker dat ons bejaardes voedsame, gesonde geregte het om te eet,” sê adv. Jaco Bothma, die besturende direkteur van Ons Tuis. “Bejaardes moét gesond eet sodat hulle nie verder verswak en siek raak nie”.
“Die ekstra uitgawes vir ontsmettingsmiddels, veiligheidsdrag en die bestuur van isolasie-areas gee ons tehuise se finansies ‘n groot knou. Maar, ons kan dit beslis nie agterweë laat nie, want ons inwoners is te kosbaar om onnodig aan die virus blootgestel te word.”
Enige persoon wat kan bydra tot die uitdaging, het tot Sondag (middernag) geleentheid om van die pakke hier aan te koop. Die kos sal na afloop van die uitdaging aan die Ons Tuis tehuise versprei word.
Vir media navrae kontak:
Juanita du Preez – Kommunikasie/Bemarking: Ons Tuis
Sel: 074 500 3915
Jaco Bothma – Besturende Direkteur : Ons Tuis
Sel: 082 779 8728