“Vind iets mooi en goed om met jou hande te doen, en doen altyd goed.”
Dít is Lina van Rensburg van Ons Tuis: Riviera in Pretoria se geheim vir ‘n pragtige ouderdom. Sy sal more haar 100ste verjaarsdag saam met haar naaste familie en vriende by die gesogde aftree-oord, waar haar seun Hennie ook ‘n inwoner is, vier.
Volgens die boorling van Ventersdorp het die meetsnoere vir haar in lieflike plekke geval. Susanna Magdalena Scheffer het haar gelukkige kinderjare, as die oudste van drie sussies, op ‘n plaas in dié distrik deurgebring.
“Ons het elke dag sowat drie myl met ‘n perdekar na ‘n klein plaasskooltjie gery waar my oom die skoolhoof was. My vader, Hennie en moeder, ‘n nooi Wernich, het die algemene handelaarswinkel, Schefferspos, bedryf waar poskoetse gereeld aangedoen het. My pa was ook ‘n uithaler boer wat in 1958 as Senator tot die Volksraad van die Unie van Suid-Afrika verkies is,” vertel sy.
Lina matrikuleer aan die Hoërskool Ventersdorp waarna sy as huishoudkundige aan die Pretoriase Tegniese Kollege kwalifiseer. Op haar neëntiende verjaarsdag trou sy met Willie van Rensburg — wie sy tydens ‘n piekniek op die naburige plaas ontmoet het — vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk op Ventersdorp.
Die egpaar vestig hul in die Ventersdorp-distrik en bestuur ‘n suksesvolle gemengde boerdery op die plaas Arbeidsgenot, sowat twee myl van haar geboorteplaas. Uit die huwelik word ‘n seun en twee dogters gebore. In 1965 verhuis die Van Rensburgs na Pretoria waar hulle ‘n veel kleiner boerdery bedryf.
Haar dogter, Carina Rabie, beskryf haar ma as ‘n veelsydige huisvrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Sy was lid van die Transvaalse Landbou-Unie en vir 25 jaar die voorsitster van die Byekorftak. In dié tyd tree sy ook as sameroepster van die verversingskomitee van die Ventersdorpskou op.
“Ma Lina se toegewydheid en strewe om enige projek wat sy aanpak perfek af te handel het haar vir baie jare ‘n gewaardeerde beoordelaar vir gebak, preservering en naaldwerk by talle plattelandse skoue gemaak. Sy het onder andere ook haar knopie vir 20 jaar diens gelewer aan die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie verwerf,” sê Rabie.
Na haar man se afsterwe in 1975 verhuis Lina na die Jakarandastad en word ‘n vurige Blou Bul-ondersteuner! Sy onderneem ook verskeie toere na die buiteland waar sy hegte vrienskappe met mede-toerlede sluit.
“Om deur hierdie moeilike tyd in haar lewe te kon werk het my ma ook haar liefde vir kunsnaaldwerk hervat. Sy borduur ‘n hele paar pragstukke wat ure se deursettingsvermoë vra. Iets kosbaars vir haar nageslag,” sê Rabie.
Lina Janse van Rensburg van Ons Tuis: Riviera vier more haar 100ste verjaarsdag. Sy is geseënd met een seun, wat in dieselfde aftree-oord woon, twee dogters, twee kleindogters, vier agterkleinkinders en een agter-agterkleinseun.
Die foto bo hou Lina en haar seun Hennie hande vas tydens Ons Tuis: Riviera se onlangse kersfunksie.